Plaasmoorde en -aanvalle ‘gaan hoog op agenda wees’

plaasmoordeDie Vryheidsfront Plus sê die minister van polisie, Nkhosinati Nkhleko, het onderneem om plaasaanvalle en -moorde ‘hoog op die agenda te plaas’ van strategieë vir misdaadbekamping in Suid-Afrika.

Dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie, het vandag met die polisie se begrotingsdebat in die parlement gesê hy verwelkom die aankondiging van die minister en hy is bly die minister besef die erns en belangrikheid daarvan.

Groenewald sê die verwikkeling volg nadat hy onlangs in die nasionale vergadering weereens druk op die minister geplaas het en hom in ‘n geskrewe vraag gevra het of hy statistiek bekend sal maak oor plaasmoorde en -aanvalle en of hy bereid is om ‘n verklaring daaroor uit te reik.

“In sy geskrewe antwoord sê die minister onder meer hy is ‘uiters bekommerd’ oor plaasaanvalle en –moorde en dat hy dit in ‘n ‘baie ernstige lig’ beskou,” aldus Groenewald.

“Dit raak nie net die familie van die slagoffers nie, maar die gemeenskap as ‘n geheel en het ‘n negatiewe impak op die land se ekonomie en voedselsekerheid. Hierdie soort misdaad is hoog geplaas op die agenda van strategieë om misdaad te bestry,” lui Nkhleko se antwoord volgens Groenewald.

Groenewald sê die minister se reaksie is ‘n stap in die regte rigting en ‘n bewys dat plaasaanvalle en -moorde ‘n realiteit is wat duisende mense se lewens raak en ‘n impak op die hele land het, soos die minister self erken.

“Ons sal die huidige situasie opvolg met die minister om ook hier verantwoording van die regering te eis in die belang van almal in Suid-Afrika,” het Groenewald gesê.

Groenewald het ook verwys na statistiek van die polisie se onafhanklike ondersoek-direktoraat (Opod) oor voorvalle waar die polisie gewelddadig teen die publiek opgetree het en gesê die publiek kan geen vertroue in so ‘n polisiediens hê nie.

“In die laaste finansiële jaar is 927 gevalle aangemeld en hanteer volgens die jaarverslag van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat. Dit kan nie so voortduur nie. Die publiek moet kan voel dat hulle ‘n polisiediens het wat na hul belange omsien en hulle beskerm,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Trudie Menezies ·

Die minister sal heel eerste die polisie mag moet sif en korrupte en lui polisie lede verwyder alvorens hul die groot taak van plaasaanvalle en moorde wil pak! Ek vir een, vertrou geen polisie lid nie, en daar is baie mense wat so voel. Mens het nie eers meer die vrymoedigheid om in te stap by ‘n polisie stasie nie.

Grassie ·

Die owerhede het die ondersoek van plaasaanvalle al die afgelope 20 jaar verwaarloos en afgemaak as blote gewone misdaad. Hulle het die kommandostelsel en ook spes-eenhede in die polisie tot niet gemaak. Meeste van die huidige polisielede is onopgelei, onbevoeg en ongemotiveerd. Hul voertuie is ook meeste van die tyd stukkend. Nou sal ek graag wil weet hoe die nuwe minister die probleem gaan aanspreek. Daar is al klaar bewerings dat hy oor sy kwalifikasies gejok het. Sy praatjies is sommer ‘n klomp wind. Sy baas sing dan dat die boere geskiet moet word.
Bewerings dat dat die boere hul plase gesteel het en ‘n onwerkbare grondhervormingsbeleid gaan plaasaanvalle beslis laat toeneem.

lanie ·

Wat die Regering se hy gaan doen en wat eintlik gebeur is twee verskillende dinge !

Theresa ·

Dit het ons ookal gehoor. Maar wat die minister sê en wat die minister doen is twee verskillende dinge. Big Time!

Gerhard Bezuidenhout ·

Sien is glo en op hierdie stadium glo ek niks oor die Polisie nie.Hulle is korrup en antwoord gewoonlik nie hul telefone wanneer jy hul nodig het nie en hulle le op die telefone met privaatgesprekke. Voertuie is gewoonlik nie beskikbaar nie maar staan in n ry om Kentucky te koop of hulle ry taxi.Ek stem saam dat dit n verleentheid is om te probeer om n saak aan te meld want die kans dat jy die boef in die saak gemaak kan word is groot.Ons was altyd trots op ons Polisie maar tans is hulle die vyand en n verleentheid.Om hulle reg te ruk sal daar diep gedelf moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.