Plaasmoorde, grondhervorming en regstellende aksie in Ermelo aangespreek

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Verskeie leiers van die Vryheidsfront Plus het oor die naweek in Ermelo vergader nadat die liggaam van JR Buhrman (77) verlede Maandag op sy plaas in die omgewing aangetref is, en die bejaarde egpaar, Edward en Ina de Villiers, ʼn paar dae later wreed op hul plaas aangerand is.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, en ander leiersfigure in die party het Saterdag met ‘n verkiesingsvergadering op Ermelo die kollig laat val op plaasmoorde, regstellende aksie en grondhervorming.

Mulder, adv. Anton Alberts (LP), Wouter Wessels (nasionale jeugleier), Pieter Vorster en dr. Lourie Bosman het ‘n feitlik volgepakte saal op die dorp se skouterrein toegespreek en gepraat oor sake wat veral boere direk raak.

Mulder het weer ‘n dringende beroep op die regering gedoen om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar.

“Die moord by Ermelo is opnuut ‘n bewys van die graad van die wreedheid wat met die aanvalle gepaard gaan. In soveel gevalle word nie eens iets gesteel nie.  Dit laat ongetwyfeld die vraag ontstaan of misdaad werklik die motief agter die meeste van die aanvalle is,” het Mulder gesê. “In Suid-Afrika is die risiko dubbel so groot dat ‘n plaasboer eerder as ‘n polisieman vermoor sal word, en die tyd het aangebreek dat ernstige stappe in die verband geneem word.”

Bosman het die DA aangevat oor die party se steun aan die heroopstel van grondeise. Hy het daarop gewys hoe hy in die DA-koukus ernstig beswaar gemaak het teen die DA se skielike ondersteuning van die nuwe grondeise-proses. “Eers toe daar duidelik groot ontevredenheid en weerstand van die kant van die landbousektor gekom het, het die DA ‘n skynpoging aangewend om sy steun hieroor te verdoesel deur voor te stel dat die eiseproses net ‘n jaar moet wees en nie vyf jaar nie,” het Bosman gesê.“Dit sal landboubedrywighede en voedselsekerheid in die land ernstig in die gedrang bring.”

Wessels het die kollig op regstellende aksie laat val en het daarop gewys hoe veral wit en bruin jeugdiges daardeur benadeel word. Hy het gevra hoe mense steeds kan stem vir ‘n party wat regstellende aksie voorstaan en hulself sodoende benadeel.

Lees ook:
Video: Ermelo-boere leef in vrees
Plaasaanval in Ermelo: Bejaardes met kookwater, strykyster gemartel
Video: Aantal plaasaanvalle vir 2014 bekend gemaak
Plaasmoorde: “Wanneer gaan dié euwel end kry?”
Vermoorde Ermelo-boer se naam bekend; twee ondervra
Plaasmoord: Bejaarde naby Ermelo vermoor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.