Plaasmoorde: Kenners maan politici oor uitsprake

plaasaanvalle

Argieffoto: SAPD

Die jaar is skaars 50 dae oud en daar het reeds sowat 55 plaasaanvalle regoor Suid-Afrika plaasgevind en 17 mense is dood in hierdie aanvalle. Dit beteken daar was bykans een plaasaanval per dag, en elke vierde dag is iemand op ʼn plaas vermoor. In Februarie alleen is daar reeds minstens 32 aanvalle aangeteken waarin 11 mense wreed vermoor is.

Die statistieke, wat TLU SA daagliks byhou, tref ʼn mens soos ʼn vuishou in die maag. Reken daarby die geweld en grusaamheid wat saam met hierdie misdade gepleeg word en ʼn mens kan sekerlik verstaan hoekom daar soveel vrae oor hierdie misdaad is. Wat dryf dit en hoekom juis nóú hierdie drastiese toename, word gevra? En wat kan tog gedoen word om hierdie wrede aanvalle en moorde te beëindig? Maroela Media het ondersoek gaan instel.

ʼn Verskerpte toename in plaasaanvalle en -moorde

Kenners meen dit is moeilik om wetenskaplik te bepaal hoekom ʼn spesifieke misdaad toe- of afneem neem in ʼn sekere tyd. “Dit gaan dikwels gepaard met eksterne faktore. In die geval van afname kan dit toegeskryf aan iets soos verhoogde polisieoperasies in ʼn omgewing, maar ʼn skerp toename kan dalk te wyte wees aan iets soos die idee dat daar ʼn klimaat geskep is waarin die misdadiger voel hy kan makliker wegkom met sy misdrywe,” meen Rudolph Zinn, professor verbonde aan Unisa se departement polisiepraktyk.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê volgens dié burgerregte-organisasie se navorsing, is daar altyd ʼn toename in plaasaanvalle aan die begin van die jaar, maar die laaste twee maande se syfers is tot dusver uitermate hoog. “Dit was nog altyd ʼn rede tot kommer, maar nou voel dit of dit regtig besig is om totaal en al hand uit te ruk.”

Dr. Johan Burger, ʼn senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), waarsku egter dat daar na die hele jaar se statistieke gekyk moet word voordat daar gesê kan word of daar ʼn besliste toename in dié soort aanvalle was. “Die polisie moet nog sy misdaadstatistieke vir 2016/17 bekendmaak, maar volgens die syfers wat ons tot ons beskikking het lyk dit of gewapende roof weer eens toegeneem het en plaasaanvalle val onder hierdie soort misdaad. Dit sal die tendens van die laaste vier jaar voortsit wat daarop aandui dat gewapende roof of roof met verswarende omstandighede met 31% oor die tydperk toegeneem het.”

Terwyl kenners nie nou al hul vinger op die oorsake vir ʼn verhoogde voorkoms in plaasmoorde en -aanvalle kan plaas nie stem hulle heelhartig saam dat politici versigtig moet wees met die soort uitsprake wat hulle maak.

“Suid-Afrika is in ʼn riskante periode van konflik en ʼn mate van politieke onstabiliteit. Uitsprake soos dié van die president in sy staatsrede oor wit mense en grondbesit, en dié van die minister van landelike ontwikkeling, wat soos ʼn soort dreigement klink om grond te vat sonder vergoeding, kan ʼn gunstige klimaat skep vir mense wat plase en plaasbewoners wil teiken. Die politieke retoriek van wit mense wat grond gesteel het word herhaaldelik gehoor en skep ʼn omgewing waarin plattelanders glo hulle is die slagoffers van wit verontregting. Dit kan ʼn soort legitimiteit gee aan iemand wat ʼn misdaad wil pleeg en hulle oorhaal tot aksie, en dit bekommer my,” het Burger gesê.

Cameron beaam dit en verwys na uitsprake wat al deur lede van die ANC, EFF en die groep Black First Land First gemaak is. “Daar word deurentyd gehamer op radikale sosio-ekonomiese transformasie en ministers meen grond moet gevat word sonder dat daarvoor vergoeding aangebied word. Dit is bitter onverantwoordelik. Ek is ook seker dit vind iewers ʼn neerslag en maak beslis ʼn bydra tot aanvalle.”

Prioriteitsmisdaad

In Mei 2016 is ʼn geskiedkundige ooreenkoms tussen AfriForum en die polisie gesluit waartydens lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, aangekondig het dat dié twee partye met misdaadbestryding wil saamwerk. Hy het ook bevestig dat die SAPD op ʼn proaktiewe wyse dié unieke misdaad sal hanteer.

Plaasmoorde is dus as ʼn prioriteitsmisdaad deur die SAPD verklaar. Lt.genl. Mthandazo Ntlemeza, hoof van die Valke, het ook verlede week ná die inhegtenisname van verdagtes in die Balfour-plaasmoord bevestig dat plaasaanvalle een van die polisie se prioriteite is en daar nie geskroom sal word om teen die misdadigers op te tree nie.

“Dit was ʼn belangrike stap in die regte rigting om die polisie sover te kry om dit weer ʼn prioriteit te maak en dit is jammer daar is nou soveel druk op Phahlane. Nadat hy in Oktober 2015 aangestel is, het hy gesprekke met georganiseerde landbou begin voer en ooreenkomste gesluit om dié soort misdaad te bekamp. Dit het gevolg op ʼn lang tyd waarin beroepe op die polisie om dié soort aanvalle en moorde as ʼn punt van prioriteit te maak op dowe ore geval het,” het Burger gesê.

Burger het egter gemaan dat dit tyd gaan neem om die strukture vir landelike veiligheid op die been kry nadat dit vir solank lam gelê is. “Die nasionale landelike beveiligingstrategie rus op twee pilare, sektorpolisiëring en ʼn reservistestelsel. Ek sal die landbougemeenskap aanraai om aan te dring dat reserviste aangestel en opgelei word. Al wat benodig word, is ʼn polisieman by die stasie om die reserviste te ko-ordineer en dan kan hulle ʼn moderne soort kommando-stelsel vir plaasbewoners word.”

Burger meen sektorpolisiëring is te personeel- en hulpbronintensief as dit kom by landelike omgewings. “Ek dink die polisie besef dit nou – hulle het te min mense en te min voertuie om hierdie soort polisiëring te laat werk, maar reserviste kan help om dit doeltreffend vir hierdie gemeenskappe te maak.”

** Nota: Die menings wat in die artikel uitgespreek word, weerspieël nie noodwendig die mening van Maroela Media se redaksie nie. Die artikel is deel van ‘n reeks artikels oor plaasmoorde. Die artikels het ten doel om bewustheid te skep en verskillende opinies weer te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francis

pleks hul uitwerk statistieks gewyse van die kreet ”Kill a boer kill a farmer ” geskreeu was hoeveel moorde daar aangeteken was !!!
van toe af tot nou het dit eers stelselmatig so een per maand teen vandag 1- 2 per dag gestyg !!!
DOEN IETS !!!!!!!!!

Willem

Hoekom vat dit so lank vir mense om te kla oor die uitsprake, en as gevolg daarvan natuurlik moorde. Na die EERSTE sarsie plaasaanvalle, na die EERSTE uitspraak moes ons leiers die ANC hof toe sleep om die uitsprake en moorde te stop. Die ANC grond steel deuntjie raak nou te veel, vat hulle hof toe, laat hulle BEWYS waar grond gesteel is, wie EINTLIK grond besit–(Nuwe swart grondeienaars word nie transport aktes gegee nie, so so verdoesel hulle die statistiek..), die Gruwelike moorde word gekategorieseer as HUISBRAAK!.. n man word gebrand en oor 20 keer gesteek met n’ mes–dan… Lees meer »

Dereck Le Roux

Ek is al so siek vir die kenners se verduidelikings en verskonings en dat hulle die landbou gemeenskap aanhou mislei omdat hulle weet dit gaan om landelike terrorisme en stedelike terrorisme met die doel om tereur, vrees, dood, verwoestingen ontwrigting te saai om sodoende hul grond te kan nasionaliseer, waar is die kenners terrorisme en waar is die polisie profilers, ons byt nie meer aan hulle verfuidelikings en verskonings nie.

Adri

Die skade is gedoen. Die kenners kan eerder hul kinders gaan waarsku om hul kamers skoon te maak.
Die president hits in liedere die Moord op Blankes aan. Wie de hel gaan luister as daar MOENIE gese word, veral as dit ‘n waansinnigheid wakker maak waarin sekere mense floreer?

Skim

JA RIGHT. En elke keer wat ‘n sogenaamde ONDERSOEK gedoen is is bevind dit is maar net gewone ROOF wat skeefloop. Dit kom al baie jare. Dit het nou toegeneem, maar dit is al jare wat die regering en ander organisasies beloof om ONDERSOEK in te stel. En dan kom die slim navorsers en ondersoekbeamptes almal met dieselfde resultaat, dit was DIEFSTAL wat skeefgeloop het. Ons is al so moeg vir al die verskonings en die regering se traagheid om op te tree, ons glo niemand meer nie. Die politici EN die Agenda van die ANC loop hand aan hand… Lees meer »