Plaasmoorde: Ramaphosa moet situasie ‘ontlont’

(Foto: Anja van der Merwe)

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die landbouorganisasie Saai, sê in ʼn ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa die polarisering van die landbougemeenskap is deur nóg ʼn plaasmoord aan die brand gesteek en dat al hoe meer mense opruk om te betoog teen dié verskynsel.

De Jager het gereageer op pres. Cyril Ramaphosa se weeklikse nuusbrief waarin hy die moord op Brendin Horner, ʼn jong Vrystaatse plaasbestuurder, sterk veroordeel het. Ramaphosa het gesê Horner se moord, nes dié van alle ander Suid-Afrikaners wat weens geweldsmisdaad sterf, behoort almal te raak.

De Jager beskuldig die regering egter daarvan dat hy die aanvalle ontken en afgeskeep het en dat dit selfs aangestook is. Hy sê mense landwyd deel in die leed van slagoffers en hul geliefdes, maar kom ook byeen om hul teleurstelling te kenne te gee oor die “giftige omgewing wat die ANC geskep het en waarin dié verskynsel gedy”.

“Hul woede en frustrasie het kookpunt bereik – soos ons in Senekal gesien het. Hulle kom byeen om te eis dat ons plaasaanvalle – gemiddeld een elke twee dae – en die wreedaardige moorde – gemiddeld een elke vyf dae – stopgesit word.”

De Jager sê plaasaanvalle en -moorde verskil op verskeie maniere van ander misdaad. “Niemand vra in die openbaar dat township- of bendemoorde gepleeg word nie. Daar is geen populistiese wekroep om stedelike moorde te pleeg nie. Daar is geen doelbewuste skep van ʼn politieke klimaat wat dit aanmoedig nie, wat wel die geval met plaasmoorde is.”

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai.

Hy sê ook inbrake en stedelike moorde word nie met dieselfde vlak van wreedheid gepleeg nie. “Kinders word nie gedwing om toe te kyk terwyl hul ma’s verkrag word nie; hul oë word nie uitgesteek nie; hul oumas word nie vermink deur hul knieë met staalbore te deurboor nie.”

De Jager sê statistieke wys dat daar in bykans die helfte van dié gevalle boonop niks gesteel word nie. “Dis moord bloot vir die pret daarvan.”

Hy sê moorde in byvoorbeeld townships word ook nie op sosialemediaplatforms verheerlik nie.

“Honderde Twitter-rekeninge, met of sonder skuilname, verwelkom elke melding van nóg ʼn grusame marteling of moordtoneel en moedig méér aan – sonder enige gevolge. Wetstoepassende instellings blyk geen voorneme, vermoë of wil te hê om enigiets daaraan te doen nie.”

De Jager vra Ramaphosa en die regerende party om die probleem te erken en hy doen ʼn beroep op die president om tussenbeide te tree. “U moet die situasie nóú ontlont terwyl dit nog moontlik is. Doen dit voordat dit verder versleg.”

Hy vra ook dat daar dringend stappe gedoen word om aanvalle te voorkom.

Ek wens gereeld dat u en u kollegas – veral die ministers in u veiligheidsgroepering – ʼn plaasmoordtoneel kan besoek, selfs net een keer. U moet dit ruik en sien: Die dierlike brutaliteit van die marteling; die bloed op die plafonne en mure. Slegs dán kan u met gesag en ondervinding oor hierdie onderwerp met die landbougemeenskap saampraat.

Die burgerregtegroep AfriForum het Ramaphosa se verwerping van die moord op Horner verwelkom, maar sê briewe oor plaasmoorde is nie genoeg om die krisis op te los nie.

“Plaasmoorde is ʼn omvattende probleem wat ʼn omvangryke oplossing verg en hierdie oplossing moet ook in die praktyk neerslag vind,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

“Dit is goed en wel dat die president sê dat daar beter samewerking tussen die polisie en die burgerlike samelewing moet wees, maar die werklikheid is egter dat die forums wat daarvoor voorsiening moet maak nie funksioneer nie.

“Die feit dat Bheki Cele bekend gemaak het dat een van die verdagtes al 16 keer in hegtenis geneem is, is wat AfriForum betref aanduidend dat die strafregstelsel wanfunksioneel is en bevestig verder dat ʼn meer holistiese en omvattende reaksie nodig is.”

Roets sê deel van die krisis is dat senior politici, ook in die ANC, soms geweld teenoor boere romantiseer in hul uitsprake. Hy sê slagoffers kry gereeld die skuld vir die misdaad en daar word beweer dat boere hul gedrag en ingesteldheid moet verander as hulle wil hê dat plaasmoorde moet end kry.

“Dit alles dui daarop dat ʼn groot deel van die krisis by die ingesteldheid en traak-my-nieagtige houding van die regering lê. Briewe hieroor gaan geen verskil maak as dit nie opgevolg word met daadwerklike optrede binne die regering om sy ingesteldheid te verander nie. Daar moet ook daadwerklike optrede op grondvlak wees om mense te beveilig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Plaaskind ·

Baie dankie vir die mense wat hul hierdie seer en rou onderwerp dra, verkondig en ons mense probeer beskerm.

Kokerboom ·

Dankie vir ‘n nugtere realistiese benadering Dr De Jager

Androclus ·

Ek wens gereeld dat u en u kollegas – veral die ministers in u veiligheidsgroepering – ʼn plaasmoordtoneel kan besoek, selfs net een keer. U moet dit ruik en sien: Die dierlike brutaliteit van die marteling; die bloed op die plafonne en mure. Slegs dán kan u met gesag en ondervinding oor hierdie onderwerp met die landbougemeenskap saampraat.DIS SO WAAR,EN HY MOET OOK ‘N BEGRAFNIS BYWOON DAN SAL HY BESEF EN VOEL EN WEET WAT IS ‘N PLAASMOORD.

LiveAndLetLive ·

‘n goeie afskop plek sal wees om Malema toe te sluit en EFF te ontlont – maak dit sommer onwettig om aan EFF te behoort en vervolg diegene wat op media aanhits.

Jannie van Niekerk ·

President Ramspoedphosa sal NOOIT ‘n plaasmoordtoneel besoek nie, want hy glo nie dat daar is soos plaasmoorde is nie. Dis volgens hom “gewone misdaad” en hulle besoek mos nie misdaadtonele nie. Hulle beskerm eerder hulle helde, die plaasaanvallers en moordenaars.

Herpiet ·

Too little too late. Gatvol gepraat en gesoebat. Die vyand bly die vyand. Dis veg met alles wat ons het.

Riaana ·

Kry die gif uit die drinkwater “Julius Malema” dan sal Suid-Afrika klaar n stap in die regte rigting vat.. Malema hoort agter trallies, hy hits mense aan, en as boere wil oorgaan na aksie, word julle gedruig, deur n krimeneel, maar o ja in Suid-Afrika moet jy n krimineel wees om President te word, so dit se als van ons land.

Adam Adriaan ·

CR en sy kaders sal nooit, ja nooit toegee aan die gekla en gekerm van die blanke gemeenskap oor die brutale moorde op die plaaslike gemeenskap nie. Dit is deel van hulle beplanning en strategie soos voorgeskryf deur hulle Linkse Liberale, Kommunistiese ideologie. In hulle mou giggel en lag hulle net vir elke moord wat op die boerdery gemeenskap getrek word. (Dit is waarom daar niks met die EFF kaders gebeur nie). As daar na die hele wêreld gebeure in geheel gekyk word, pas dit in by die globale strategie van die NWO drywers. Kyk wat in die VSA tans afspeel met die aanloop tot die verkiesing in die VSA. Alles is gegrond op die vernieting van ons Goddelike waardes. Hulle totale strategie is om God uit die samelewing te ban, want hulle is mos hulle eie god!!! Vir hulle is daar nie ‘n God soos wat ons van kleintyd af geleer het en vir wie ons aanbid nie. Vir hulle is God net ‘n mite. Hulle gaan nog ‘n GROOOOT verrassing kry!!!!

Erika ·

Ditto ……..?! Nou Moet Cyril dit net Erken en iets daaraan doen….

Die Wolf ·

Dink jy nou dat hy enige aksie sal neem? Dit is mos makliker om die blaam na die minderheidsgroep te wys. Sal bollemakiesie slaan wanneer die groot moonthede begin om finansies te weerhou.

Einstein ·

Goeie idee! Volgende keer MOET Ramaposa na die toneel geneem word om eerstehands te sien wat sy comrades alles aanvang.

Patrick ·

Ek het nie boer familie/vriende nie(Irish-Canadian) maar ek is baie jammer oor die plaasmorde situasie. Liefde van Kanada

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.