Plaasmoorde: Wat kan gedoen word?

plaas-in-die-vrystaat

Foto: Dalene de Vente

Die vlaag plaasaanvalle en plaasmoorde wat net in Februarie vanjaar plaasgevind het, het Suid-Afrikaners en die boeregemeenskap tot in hul wese geskok.

Talle politieke partye het verlede week, in reaksie op die moord van die vier lede van die Smuts-familie in Balfour, Mpumalanga, geëis dat die regering meer moet doen om die aanvalle op boere stop te sit.

Die VF Plus het die speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, skriftelik gevra om ʼn dringende parlementêre debat oor plaasaanvalle en plaasmoorde toe te laat. “Daar moet op die hoogste vlak kennis geneem word van die noodsaaklikheid om dringende stappe te doen om hierdie groeiende tragedie af te weer,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.

Die DA het ook sy skok oor die plaasaanval in Mpumalanga uitgespreek en ʼn dringende beroep op president Jacob Zuma gedoen om die landelike veiligheidseenhede aan te stel en gesê die party sal nie rus totdat dit gebeur het nie.

Annette Steyn, die DA se skadu-minister vir landbou, het ook gevra dat die komitee vir landbou en polisie saam met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie moet vergader om ʼn verslag oor plaasmoorde, wat in Oktober 2015 saamgestel is, te bespreek.

Die verslag het bevind die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet meer betrokke raak by die bekamping van misdaad in landelike gemeenskappe. Die polisie moet ook gereeld terugvoer aan die Menseregtekommissie lewer oor misdaad in boeregemeenskappe en die departement van justisie moet dié gemeenskappe by sy program wat die regte van kwesbare groepe bevorder, insluit.

Die ACDP het ook gevra dat die plaaskommando’s weer ingestel word. “Daar is ʼn beduidende toename in plaasaanvalle en die polisie sal meer waaksaamheid aan die dag moet lê om boere te beskerm, want hulle is die mense wat ons nasie voed,” het Kenneth Meshoe, leier van die party, gesê.

Terwyl politieke partye hulle ten sterkste teen die toename in plaasaanvalle die maand uitgespreek het, het die president van TLU SA, Louis Meintjes, die president daarvan beskuldig dat hy en die regering eenvoudig nie die politieke wil het om na die boeregemeenskap se veiligheid om te sien nie.

“Pres. Jacob Zuma verraai die boeregemeenskap deur sy versuim om iets aan hul veiligheid te doen. Die gemeenskap is van strategiese belang en kan die land se stabiliteit verseker deur die voedsel wat hulle op almal se tafels sit,” het Meintjes gesê.

ʼn Landelike beveiligingstelsel wat werk

In tye waar plaasaanvalle en plaasmoorde toeneem, word dikwels geëis dat die plaaskommando-stelsel weer ingestel moet word.

Volgens dr. Johan Burger, ʼn senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), het die kommando’s uitstekend gewerk en was dit die ruggraat van landelike beveiliging, maar hy meen die stelsel sal nie sommer maklik weer ingestel word nie.

“ʼn Politieke sentiment het ontstaan dat dit ʼn oorblyfsel was van die apartheidsweermag, wat deur witmense in witmense se belang bestuur is en daarom het oudpresident Thabo Mbeki dit in 2003 afgeskaf.”

Burger meen die polisie is heeltemal onverhoeds betrap deur die skielike afskaffing van die stelsel. Hulle het inderhaas ʼn nuwe stelsel aangekondig, wat ʼn kombinasie van polisiereserviste, misdaadbekamping en sektorpolisiëring sou insluit. Dit het egter agt jaar geduur voordat die polisie in staat was om die landelike beveiligingsplan met die landelike veiligheidstrategie te vervang.

Intussen het die polisie ook deur ʼn tydperk gegaan waarin die belangrikheid om plaasaanvalle en plaasmoorde te prioritiseer, ontken is. Nathi Mthethwa, die vorige minister van polisie, het in ʼn stadium gesê AfriForum en ander se versoeke vir die prioritisering van plaasmoorde kom neer op ʼn rasse-agenda en dat boere nie “goeie seuns en dogters” is, wat op spesiale behandeling geregtig is nie. Mthethwa het aangevoer die polisie het ʼn omvattende landelike veiligheidsplan en dat dit nie sin maak om plaasmoorde te prioritiseer nie.

Lt.genl. Khomotso Phahlane (Foto: eNCA/ Lenyaro Sello)

Lt.genl. Khomotso Phahlane (Foto: eNCA/ Lenyaro Sello)

“Dit was ʼn belangrike stap in die regte rigting om die polisie sover te kry om dit weer ʼn prioriteit te maak en dit is jammer daar is nou soveel druk op lt.genl. Khomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris. Nadat hy in Oktober 2015 aangestel is, het hy gesprekke met georganiseerde landbou begin voer en ooreenkomste gesluit om dié soort misdaad te bekamp. Dit het gevolg op ʼn lang tydperk waarin beroepe op die polisie, om dié soort aanvalle en moorde ʼn prioriteit te maak, op dowe ore geval het,” het Burger gesê.

Hy het egter gemaan dit gaan tyd neem om die strukture vir landelike veiligheid op die been kry, nadat dit vir so lank lam gelê is. “Die nasionale landelike beveiligingstrategie berus op twee pilare, naamlik sektorpolisiëring en ʼn reservistestelsel. Ek sal die landbougemeenskap aanraai om aan te dring daarop dat reserviste aangestel en opgelei word. Al wat nodig is, is ʼn polisieman by die polisiestasie om die reserviste te koőrdineer en dan kan hulle ʼn moderne soort kommando-stelsel vir plaasbewoners word.”

Burger meen sektorpolisiëring is te personeel- en hulpbronintensief as dit kom by landelike gebiede. “Ek dink die polisie besef dit nou dat hulle te min mense en te min voertuie het om hierdie soort polisiëring te laat werk, maar reserviste kan help om dit doeltreffend te maak. Die reserviste kan die leemte vul wat die afskaffing van die kommando’s gelaat het.”

Die verantwoordelikheid om jouself te beveilig

Burger en Meintjes meen boere kan steeds baie doen om hulself te beveilig.

“Plaasbewoners moet verseker dat aanvallers nie maklik toegang tot plase en wonings kry nie. Indien aanvallers wel inkom, moet boere sorg dat hulle nie by hul huise inkom nie. Daar moet ligte, kameras, alarms, sensors en honde wees en boere moet inskakel by ʼn radionetwerk,” het Meintjes gesê.

Rudolph Zinn, professor verbonde aan Unisa se departement van polisiepraktyk, sê klein hondjies in die huis kan maklik aanvallers die aftog laat blaas, maar mense maak die fout om alleen te gaan kyk wat aangaan as hulle die hondjies hoor blaf.

“ʼn Man staan nie ʼn kans teen agt aanvallers nie. Bly in die huis en stel jou veiligheidsnetwerk in kennis. Daarom is radiokommunikasie met buurplase so belangrik. Laat die netwerk dan toe om sy werk te doen.”

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandeesweek opnuut ʼn versoek aan gemeenskappe gerig om by hul plaaslike buurt- of plaaswagte aan te sluit om Suid-Afrikaners te beveilig.

“Talle mense vra wat gedoen kan word om ons land veiliger te maak. Ons moet egter begin om onsself te beveilig binne die wettige raamwerk. Buurt- en plaaswagte is ʼn bewese konsep, wat misdaad saam met die polisie en private sekuriteit kan hokslaan. Indien veiligheidsstrukture nie beskikbaar is nie, kan mense AfriForum kontak om hulle by te staan in die vestiging van strukture, of verwys na strukture waarby hulle kan aansluit,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

ʼn Strategie vir die toekoms

Ian Cameron van AfriForum handig die petisies oor aan die polisie Foto: AfriForum

Ian Cameron van AfriForum handig die petisies oor aan die polisie Foto: AfriForum

AfriForum het Maandag aangekondig die organisasie gaan ook binnekort ʼn veiligheidsberaad hou in ʼn poging om gemeenskappe te help om hulself beter te beveilig.

“Deel van die veiligheidsberaad sal wees om ʼn strategie op te stel om plaasaanvalle en plaasmoorde oor die volgende tien jaar heeltemal stop te sit. Ons het reeds ʼn strategie wat ons tussen April en Augustus vanjaar in Gauteng wil uittoets voordat ons dit na die hele land uitrol,” het Cameron gesê.

Die strategie is intelligensie-gedrewe en sal fokus op die proaktiewe bekamping van misdade soos plaasaanvalle.

“AfriForum het reeds 90 buurtwagte en die reaktiewe vermoë van die buurtwagte is uitstekend, maar die idee is om aanvalle en misdade te stop voordat dit gebeur. As jy byvoorbeeld weet daar is ʼn dwelmhuis in jou omgewing, moet jy daarop toeslaan voordat die misdadigers hul dwelms daar gaan haal en gebruik om ʼn misdaad te pleeg.

“Ons plan is om saam met die tradisionele leiers in gemeenskappe, private sekuriteitsfirmas en die polisie te werk om misdaad te bekamp.”

So ʼn strategie is dalk net die soort oplossing wat die komplekse probleem van plaasaanvalle en plaasmoorde nou nodig het. Hoor ʼn mens hoekom die ou kommando-stelsel so goed gewerk het, was dit omdat hierdie stelsel ook reageer het op inligting wat in die gemeenskappe ingesamel is.

“Daar was doelgerigte optrede en daadwerklike misdaadvoorkoming met die kommando’s. Inligting is ingesamel en misdadigers is geteiken voordat aanvalle kon plaasvind. Dit is die les wat ons kan leer uit die stelsel. Hulle het geweet hoe laat aanvalle gewoonlik gebeur en watter gebiede is die meeste blootgestel.

“Ons het byvoorbeeld geweet plase word geteiken ʼn week na volmaan, omdat die aanvallers die plase kon betree in die donker en saam met die maan se lig kon vlug. Plaaswagte, wat hierdie soort van misdaadvoorkomingsmaatreëls volg, is reeds suksesvol. Jy moet jou gebied beheer, bestuur en domineer en dit is hoe jy ʼn misdadiger uithou. Hy moet weet as hy in jou gebied kom moeilikheid maak gaan hy pak kry,” het Meintjes gesê.

** Nota: Die menings wat in die artikel uitgespreek word, weerspieël nie noodwendig die mening van Maroela Media se redaksie nie. Die artikel is deel van ‘n reeks artikels oor plaasmoorde. Die artikels het ten doel om bewustheid te skep en verskillende opinies weer te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johann Barnard ·

Verdomp,klein hondjies in die huis,maak oop julle oe,dis oorlog nie n sondagskool uitstappie nie!

Jaco ·

Ek sou eerder sê, kry so 4 pitbulls vir binne die huis en 4 vir buite die huis, alarmstelsel in huis, diefwereing voor vensters en binne die huis, lasers in Tuin, spryligte, gewere en heelwat ammunisie, cctv kamera’s met monitors in slaapkamer, gekombineerd met n goeie verbintenis aan jou plaas buurtwag. Teen die tyd wat hul voor jou slaapkamer kom deur al die “obstacles” is jy al lankal wakker en buurtwag begin jou plaas omring. Ek sou dit doen, al moes ek geld gaan leen vir bogenoemde stelsels, n mens se lewe is meer werd!

Louis Meintjes ·

Sie Afriforum roem hom daarop dat hy n plan het. Dit is goed so. Miskien moet daar dan ook gesê word dat TLU SA wat 2017 120 jaar oud word lankal reeds plan gemaak het en dat daar in landelike gebiede n uitgebreide plan is wat reed werk en uit die tyd van die kommando stelsel kom. Ek hoop Afriforum het sy plan met TLU geklankbord sodat die planne met mekaar trou. Ek hoop ook hulle onthou van die ooreenkoms van samewerking wat daar is. As ek die berig lees lyk dit nie so nie Tog jammer dat daar nie samewerking is en dat die kundigheid wat oor jare deur TLU en sy lede bekom is misken word.

Karen Botha ·

Dis tyd dat ons terugkeer Bybel toe en die DOODSTRAF terug bring! Misdadegers het hopeloos te veel regte….

Esmay ·

Karen, glo my ons het nog ons geloof. Dis nie genoeg. God het ons verstand gegee om iets te doen. Hy kan nie als alleen doen nie. Doodstraf gaan nou nadelig wees vir blankes want jy is wit. Jy het nie meer n sè oor die land nie. Hulle gaan ons blankes in tronke gooi en die sleutel weggooi. Dink aan ander planne asb.

John ·

Dit klink net na ‘n ge-wha, wha, wha… As die polisie soos ‘n gevaarlike ysberg vertoon en deel is van misdaadkartelle gaan bogenoemde net ‘n droom bly… of eerder ‘n lang nagmerrie.

Rynhardt ·

Bring op internet aan alle berigte met foto’s van wrede plaasmoorde en datums van wanneer dit plaasgevind het, en nog steeds voort duur! So hou jy plaaslik en internasionaal mense op die hoogte van die volksmoord op ons mense! Die wreedhede moet gewys word vir land en wereld wat hoofstroommedia weier om te doen.Alle boete moet geelektrifiseerde hoe heinings he en ten alle tye gewapen wees, so ook jul vrouens.Doen hul dit nie, is uitwissing jou voorland! Alle boere moet nou begin besef, julle bly in die gevaarlikste land ter wereld waar daar geen respek vir mense se lewens is nie.Die Landbou moet dit in boere se koppe begin kry!!!

What a joke! ·

STEM SAAM! Die blankes word elke keer te maklik uitgevang ek weet dis nie maklik maar magtig mense op plase en kleinhoewe kry dit in jul KOPPE JY KAN VOLGENDE WEES ELKE LIEWE DAG! Jul is in n oorlog om te oorleef! Wees paraat ek bly glo in ganse hul maak lekker geraas veral in die aand as iets hul pla en eet nie sommer maklik gif soos n hond. nie! Kry n skoot hond vir binne die huis hul grom as hul iets hoor buite!Dra n wapen ten alle tye aan jou, moet nie uitgaan om te kyk nie hul wag vir jou, skiet waarskuwing skoot in lug as jy kan en as hul nogsteeds probeer inkom skiet om dood te skiet dis jy of hulle! Maak jou inrit oop sodat jy kan sien of iemand weg kruip en jou in wag! Wat van mobiele paniek knoppie wat sekuriteit sal bel ? Kry al die moorde op n web blad internasionaal sodat die buite wereld kan sien glo my hul sien en hoor niks van al die satans aanvalle gemik op die blankes nie plus n uitknipsel van malema en zuma saam dit elke keer hul iets negatiefs se oor die blankes soos “kill the farmer kill the boer” laat die werel help besluit oor dit volksmoord is of nie maar tans kom hul weg met moord!!!!

Sarah ·

As die veiligheids netwerk dan losbrand op die aanvallers word hul dan geteiken deur polisie en in hegtenis geneem… gaan nie werk nie

Peet J ·

Solank as wat daar wit boere op plase is sal daar plaasmoorde wees omrede die regering, swart politieke partye en jeugliga dit duidelik gestel het dat die swart boere nie oor die nodige gronde beskik om lewensvatbare boerderye te bewerkstellig nie.
Die gesloer met die herverdeling van grond veroorsaak dat die kriminele, plase sowel as kleinhoewes teiken, veediefstal en vergiftiging van diere neem ook toe. Die wit boere moet hulle plase verkoop en in die dorpe gaan bly.

CHRIS ·

Net my opinie BRING DOODSTRAF terug. As die eerste plaasmoordenaar , gehang of ingespuit word of so sal die moorde afneem.

willehond ·

Gaan nie werk nie. As ek n moordenaar dood skiet wat op my skiet, word ek die moordenaar en hy n vermoedelike verdagte. Hulle het mos menseregte. Sterkte met die pogings

JJ ·

Ons mense sukkel om te luister. Iemand anders het al voorheen die teksverse op gesit. Doen moeite en gaan lees dit. Dit is die land se probleem. Levitikus 26:14-46 en Lukas13:3-5.
SUID AFRIKA MOET TERUG KEER NA GOD!!!!!!!!!!

·

Julle kan darem baie raas. Daar is groot probleme en julle mag ongelukkig wees, maar julle blaf soos daai klein hondjies oor alles. Navorsing, jul klae. Hierdie artikel gee goeie raad. Julle klae oor dit. Mense wat net soek, niks doen en net heeltyd raas. Dit klink amper soos ñ rooi oorpak. N.S Op news24 het Max du Preez gesê dat minder as 60% van die land se grond nog aan blankes behoort. Sien, daar is ñ klein wonderwerk.(of kla maar daaroor) Hy van alle mense sulke waarheid praat.

Hanna ·

Bly enige een van julle in ‘n landelike gebied?
Die beste raad is presies wat die artikel se, raak betrokke by jou Landelike Veiligheid groep / GPF en die polisie, gebruik die radio netwerk, kommunikeer met bure, hou goeie verhoudings met jou werkers, honde, alarms en ligte, KEN die wetgewing en weet hoe om dit tot jou voordeel te gebruik.
In my ervaring is dit die ouens wat nog steeds op hulle eie aan ploeter, van die regering verwag om opgepas te word, nie mede burgers met respek hanteer nie en n vergange mindset het wat makliker geteiken word.
Belangrikste….. klim van jou mishoop af, hou op kla en raak betrokke

Hanna ·

Bly enige een van julle in ‘n landelike gebied?
Die beste raad is presies wat die artikel se, raak betrokke by jou Landelike Veiligheid groep / GPF en die polisie, gebruik die radio netwerk, kommunikeer met bure, hou goeie verhoudings met jou werkers (terloops hulle is ook teikens), honde, alarms en ligte, KEN die wetgewing en weet hoe om dit tot jou voordeel te gebruik.
In my ervaring is dit die ouens wat nog steeds op hulle eie aan ploeter, van die regering verwag om opgepas te word, nie mede burgers met respek hanteer nie en n vergange mindset het wat makliker geteiken word.
Belangrikste….. klim van jou mishoop af, hou op kla en raak betrokke

Jem ·

Ai tog as ons maar net die regering kan dwing om ag te slaan op die talle voorstelle.

Amos ·

Stel ex SADF soldate aan as plaas voormanne. Werk skepping en beveiliging. Let wel.. SADF. nie SANDF nie.

Grassie ·

Ek sien dat ‘n hele paar organisasies en politieke partye by die stryd teen plaasaanvalle betrokke wil raak, maar Agri SA, wat veronderstel is om al die boere in die land te verteenwoordig, swyg soos die graf. Dit is jammer, want die beveiliging van die boerderybedryf behoort landwyd van ‘n sentrale punt af beheer en geko-ordineer te word om werklik doeltreffend te wees. Die boere moet maar self van daardie liberale topstruktuur ontslae raak en mense daar plaas wat die werk kan doen. Op die oomblik is daar talle groepe en organisasies wat hul bes doen om plase te beveilig maar daar is ‘n gebrek aan onderlinge skakeling en samewerking, soos onder andere deur mnr Meintjies hierbo genoem. Niemand luister ook na klein groepies mense nie maar as daar ‘n organisasie is op nasionale vlak wat duisende mense verteenwoordig sal die regering beslis na hulle luister.
Beveiliging van die boerderybedryf is in landsbelang en dit kan nie langer verwaarloos word nie. Ons het gesien wat met Zimbabwe gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.