Plaasmoorde: Wes-Kaap nié ‘immuun’

Pierre en Belinda de Kock. (Foto: Facebook)

Die Wes-Kaap se statistieke rakende plaasmoorde lyk dalk nie soos dié van ander provinsies nie, maar dit beteken nie die Wes-Kaap is immuun daarteen nie, waarsku Agri Wes-Kaap (AWK) ná die moord op Pierre en Belinda de Kock.

Die bekende egpaar van die Weskus se liggame is die afgelope naweek op hul plaas in die omgewing van Aurora naby Piketberg aangetref.

AWK sê nou sy kantoor ontvang die afgelope paar jaar ál hoe meer oproepe oor misdaad wat op plase in die provinsie gepleeg word.

“Daar is ʼn besliste tendens van toename in misdaad in landelike gebiede in die Wes-Kaap en dit is kommerwekkend.”

Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum se statistieke is daar net die afgelope week minstens sewe plaasmoorde landwyd aangemeld. Vier van die moorde is die afgelope naweek gepleeg – die moord op die De Kock-egpaar, sowel as die moorde op Hennie Claassen en Anneke Claassen wat op ʼn plaas naby Ohrigstad in Limpopo vermoor is.

Maroela Media het vroeër vandag berig Anneke (76) en Hennie (78) Claassen is vermoedelik eers gemartel voordat hulle Saterdag helder oordag in hul afsonderlike huise op die plaas Klipfonteinhoek aan die brand gesteek is.

Hegte vriende Hennie Claassen (78) en Anneke Claassen (76) is Saterdag op die plaas Klipfonteinhoek vermoor. (Foto: Verskaf)

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê die wreedaardige manier waarop plaasaanvalle en plaasmoorde uitgevoer word, is ʼn duidelike aanduiding dat dit nie net gewone misdaad is nie.

AfriForum doen daarom ʼn dringende beroep op boere en landelike inwoners om hul veiligheid en paraatheid op te skerp.

“AfriForum maan boere en landelike inwoners om dringend by hul plaaslike buurt- of plaaswag betrokke te raak. Die enigste manier om hierdie gruwelike aanvalle hok te slaan is vir gemeenskappe om te mobiliseer en hul paraatheid te verskerp.”

Só maak ʼn mens

AWK het vroeër vanjaar by die plaasaanvalslagoffer Steyn Joubert gaan aanklop nadat hy in Januarie vanjaar twee gewapende mans op sy plaas naby Montagu oorval is. Die doel van die besoek was om te verstaan wat tydens ʼn plaasaanval gebeur.

“Alles het instinktief gebeur. Daar is nie tyd vir dink nie,” het Joubert tydens die besoek verduidelik. “Dit is asof jy buite jouself staan en kyk hoe ʼn toneel voor jou afspeel. Ek onthou nie hul gesigte of die klere wat hul aangehad het nie, maar die oomblik toe albei wapens uithaal – dít onthou ek duidelik,” sê Joubert.

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Uys van der Westhuijzen, voorsitter van AWK se Landelike Veiligheidsbeleidskomitee, sê daar is twee kardinale faktore wat die uitkoms kan bepaal wanneer die ondenkbare met jou gebeur: om tyd te probeer wen en iemand in te lig dat jy in gevaar verkeer.

“Jou buurman is die eerste persoon wat jou kan bereik as jy in die moeilikheid is en ook die eerste een wat kan sien as iets in jul omgewing of naby jou plaas verdag of verkeerd lyk,” sê Van der Westhuijzen.

Die doeltreffendheid van plaaswagte is ook al keer op keer bewys.

“ʼn Goeddeurdenkte veiligheidsplan hou voordeel vir die hele gemeenskap in; nie net vir boere nie. Die landbousektor benodig ook samewerking van die polisie om landelike veiligheid suksesvol in werking te stel,” sê Van der Westhuijzen.

Hy verduidelik dat ʼn misdadiger slegs twee dinge benodig: ʼn aantreklike teiken en ʼn geleentheid om misdaad te pleeg sonder om gevang te word.

“Die aanvaller se grootste vrees is om gevang te word en hy moet twyfel of al die elemente nog in plek is wat hy benodig om ʼn misdaad te pleeg.”

Die volgende veiligheidsmaatreëls moet daagliks toegepas word, sê Van der Westhuijzen:

  • Dra ʼn paniekknoppie by jou, of iets dergeliks wat ʼn noodsein kan uitstuur sodra jy moeilikheid gewaar.
  • Hou ʼn kamer of veilige plek in jou huis gereed waar jy vir jouself kan tyd wen.
  • Voor jy uit jou voertuig klim, wees bewus van jou omgewing en kyk wat aangaan by jou huis: is die ligte af? Staan die deur oop? Is die honde waar hulle gewoonlik is?
  • Maak seker jou alarmstelsel is aan ʼn onafhanklike en betroubare kragbron gekoppel.
  • Hou alle buitedeure/veiligheidsdeure gesluit.
  • Moenie verdagte geluide buite opvolg nie – bly eerder agter geslote deure en skakel jou bure en/of die polisie.
  • Wees bedag indien die honde blaf en wees versigtig om die honde te laat in- of uitgaan om vas te stel waarvoor hulle blaf.
  • Ondersteun en word deel van jou plaaslike plaaswagstelsel.
  • Hou die kontakbesonderhede van die bure, die polisie en ambulans byderhand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Rose ·

Ons sit lankal met misdaad in die omgewing van Aurora maar dit word afgemaak as tikkoppe wat goed soek om te verkoop vir drank en dwelms.

Moedeloos ·

Of die polisie se verweer is “die mense is honger” maar my magties hoekom moet mense met hul lewens boet omdat die regering nie hul kant bring nie

richard ·

Dit is regtig swaar wanneer n mens hierdie berigte lees.
Dit is moeilik om jou geloof te hou as jy sulke berigte lees.
Dit lyk of die duiwel nou die wereld beheer en dat die Vader net toe kyk.

Nettie ·

Dis waar Richard. Dis bitter swaar om mens se geloof te behou. Maar dis reeds in sulke tye wanneer dit broodnodig is. Ons weet God is nie veraf of immuun nie. Hy wag vir die beker sonde om oor te loop, en dan kom Hy met alle mag en majesteit om wraak te neem. Hulle SAL geregtigheid proe. Indien nie in hierdie lewe nie, dan in die volgende. Sy Woord is Wet.

Anje ·

Ek probeer om nie voel as ek hierdie dinge lees nie. Want die haat le vlak…. Vergewe my Here

piet ·

Ek het al vantevore hierdie voorstel gemaak. Elke plaas moet ‘n uitkyktoring/platvorm/stellasie bou naby die plaashuis en hierdie toring moet 24-uur beman word (arbeiders kan opgelei word en dan doen hul wagskof en werk op die plaas beurtelings of kry ‘n opgeleide wag/te). Hierdie uitkyktoring moet toegerus wees om onmiddellik alarm te maak en in verbinding te tree vir hulp.

Gaitsigubib ·

Ek dink die mense wat die boere so haat ( en dan het dit nog n kumulatiewe effek want hulle haat Christene ook), moet hulp kry om hul haat tebowe te kom want hul haat smeer af op ander soos die spreekwoordelike vrot appel in die krat. As hul dit eers kan vermag kan hul deel word van die oplossing i.p.v deel van die probleem.

Elisabeth ·

My innge simpatie aan gesin en familie. Dit is onaanvaarbaar en baie wreed wat twee saggeaarde mense gebeur het. Onthou ons hulp kom van onse Hemelse Vader.+

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.