Plaasmoordenaar na 13 jaar eindelik gevonnis

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Hannes Prinsloo (84) se moordenaar is Vrydag, 13 jaar na die moord, eindelik gevonnis.

Prinsloo is in Januarie 2009 op ʼn plaas in die Kalkbult-distrik in Settlers naby Bela-Bela, Limpopo, vermoor. Hy is met ʼn das verwurg en van geld en selfone beroof.

Oscar Mashiloane is in Augustus 2020, 11 jaar en sewe maande na die moord, in hegtenis geneem.

Speurders van Bosveld-misdaadondersoeke (BMO) het saam met die Bela-Bela-speurdiens en die polisie se misdaadintelligensie-eenheid die verdagte in Mamelodi, Pretoria, in hegtenis geneem.

Volgens BMO is Mashiloane Vrydag in die hooggeregshof in Polokwane tot lewenslange tronkstraf vir die moord gevonnis.

Hy is ’n verdere 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede en vier jaar tronkstraf vir huisbraak met die opset om te roof.

Mashiloane is met die moord verbind nadat sy vingerafdrukke op die toneel gevind is.

Gerrit van der Merwe, Prinsloo se skoonseun, het die BMO-span bedank “wat jare spandeer het en nooit ophou soek het nie”.

“Julle volgehoue soek en harde werk het tot die arrestasie gelei en om die moordenaar te laat vonnis.

“Skoonpa Hannes, jy kan nou in vrede rus dat reg en geregtigheid uiteindelik geskied het. Prys die Here,” het Van der Merwe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.