Plaasmoordenaars kry swaar vonnis

Hermien Gouws. Foto: Verskaf

Hermien Gouws. Foto: Verskaf

Drie jong mans is vandeesweek swaar vonnis opgelênadat hulle skuldig bevind is aan die beplande moord op Hermien Gouws (88) en haar seun, die skoolhoof Ruben Gouws (65), verlede jaar op hul plaas in die Oos-Kaap.

Hermien en Ruben, die afgetrede skoolhoof van die Ida-plaasskool, is op Saterdag, 15 Augustus omstreeks 17:00 op hul plaas Pinevale buite die plaasdorp Ida, tussen Indwe en Elliot, vermoor.

Maroela Media het destyds berig Ruben is verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek en met ʼn kombers verwurg. Sy liggaam is in die sitkamer van die huis aangetref, waar hy sedert 1996 saam met sy ma gewoon het. Hermien het vir nagenoeg 60 jaar op die plaas gewoon en daar grootgeword. Haar man is in 1996 oorlede, waarna Ruben, wat toe as departementshoof by die Efata-skool vir Dowes in Mthatha gewerk het, saam met sy ma op die plaas gaan woon het sodat sy nie alleen was nie.

Ruben Gouws. Foto: Verskaf

Ruben Gouws. Foto: Verskaf

Hermien se liggaam is in die eetkamer gevind. Sy is met haar serp verwurg en haar hande is vasgebind.

Danksy die polisie se flink optrede en die samewerking van die Ida-gemeenskap, is al drie die aanvallers etlike ure ná die voorval in hegtenis geneem. Sipho Zweni, Lusindiso Mbekeni en Siphosethu Matoni was onderskeidelik 22, 19 en 24 jaar oud toe hulle die moorde gepleeg het.

Ruben, wat ook ʼn plaaswinkeltjie naby die huis bedryf het, het sy moordenaars geken. Hy het vir twee van die jong mans skool gehou en hulle het hom ook gehelp om sy pluimvee kos te gee. Ruben het die noodlottige Saterdagmiddag vir hulle die agterdeur oopgemaak, nadat hulle kom aanklop het met die voorwendsel om iets by die winkel te koop.

Ná ʼn paar hofverskynings, is die drie uiteindelik in die Grahamstad-hooggeregshof skuldig bevind op onder meer aanklagte van moord, roof en die onwettige besit van vuurwapens. Hulle is Woensdag in dié hof gevonnis.

Die eerste beskuldigde, Zweni, is twee keer lewenslange tronkstraf opgelê op twee aanklagte van moord en ʼn bykomende 45 jaar tronkstraf op die ander aanklagte. Sy twee medepligtiges is ook twee keer lewenslange tronkstraf opgelê en ʼn bykomende 25 jaar op die ander aanklagte.

Erna Venter (59), dogter en suster van die slagoffers, het Vrydag aan Maroela Media gesê senior staatsadvokaat Dale Robinson, het hom uitstekend van sy taak gekwyt om die skuldigbevinding en swaar vonnisse te verseker.

“Ons as gesin voel dat geregtigheid geskied het, maar dit maak niks beter nie en bring nie ons ma en broer terug nie. Ons is dankbaar die verhoor is verby en dat hulle swaar vonnisse opgelê is, maar daar is steeds baie vrae. ʼn Mens sal nooit behoorlik afsluiting kry nie,” het Venter gesê.

Hermien laat vyf kinders, 14 kleinkinders en vier agterkleinkinders agter.

Haar oudste seun, Chris Gouws (63) en sy vrou, Linie, is in Junie 2012 in hul huis op Ugie aangeval, waar Chris ook ʼn skoolhoof was. Chris het die aanval oorleef, maar Linie is dood.

Ruben was nooit getroud nie en het geen kinders nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Moeg ·

Hoekom word onskuldige mense vermoor.
Ek is seker as die doodstraf terug gebring word, dit nie sal gebeur nie.

Genoeg !!! ·

Stem saam met Moeg.
Sal verseker help vir die toekoms en staatskas uitgawes verminder ook.

Hermien Brittnell ·

Ek sou baie graag ook wou hê dat hierdie 3 wat my Ouma en Oom vermoor het die doodstraf moet kry. Maar in ons korrupte land kan die doodstraf nie werk nie – ek eis as ek dink hoeveel onskuldige mense op dié wyse hul lewens kan verloor = ‘n ander manier van moord deur ons korrupte, onbekwame regering! So dink baie mooi voordat die doodstraf weer aangevra word…

Sêmaarnet ·

Dat een familie soveel trauma kan beleef! My hart gaan uit na julle!

Uiltjie ·

Lyk my alle plaasmoorde moet in Grahamstad verhoor word? Die nou vir jou n lekkerrrr vonnis! Mooi so, judge!!!!

Uiltjie ·

Lyk my alle plaasmmoorde moet in Grahamstad verhoor word? Go judge go!!!

Antoinette ·

Uitstekende vonnis! Doodstraf sou egter beter gewees het – maar nou ja…..

Marianne ·

25 – 45 jaar
Is dit wat ‘n lewe werd is?
Bring die doodstraf terug. Laat hulle ‘n lewe gee vir die een wat hulle geneem het.
Die familie is in Rou. ‘n paar jaar en parool vir nog ‘n moord of 5.
Daar is geen geregtigheid nie!

Louis henning ·

Stem 100% saam , doodstraf sal baie beter gewees het vir die varke , tronke is alte lekker deesdae , en hulle hoef net 25 jaar te sit dan kom hulle in aanmerking vir parool

connie ·

Was saam Chris en Ruben op skool. Hulle ma was die goedheid vanself. Voel so jammer vir hulle.

hans ·

Hulle sal nie die doodstraf inbring nie want wie gaan dan vir die anc stem.

hoe mou ·

Vir elke boer wat vermoor word word die voedsel verbouing minder. En moet voedsel ingevoer word

vermeende ·

Die enigste straf wat geregverdig is vir moord is die dood straf, alle ander strawe is maar net heuning om die mond smeer.

Hartseer ·

Om n familielid of naasbestaande weens siekte of n ongeluk te verloor maak nog in n mate sin. Wie gee iemand die reg om jou in jou eie huis waar jy veronderstel is om veilig te voel aan te val en te vermoor. Hoe kan iemand namens jou besluit dat jy nie meer die reg het om verder te lewe nie. Dit maak nie vir my sin nie. Om twee van jou geliefdes in een voorval te verloor is hartverskeurend.

Hermien Brittnell ·

BANG
(Ter herinnering aan
Ouma Hermien Gouws en Oom Ruben Gouws
wat op 15 Augustus 2015 vermoor is
op ons familieplaas, Pinevale, in Ida, Oos-Kaap)

‘n Jaar is lank en tog ook só kort…
met tyd sal die verlange beter word.
Ons moet aanbeweeg, ek weet,
maar ek is so bang ons vergeet…

Ek is bang om snags te gaan slaap.
Bang vir die wakkerlê…
Dis dan wanneer die beelde in my kop
die grusame gebeure neerlê

van ons Ouma en ons Oom –
weerloos
en vreesbevange
in hul laaste lewensuur.
Steeds vra ek “God, hoekom?
Waarom moet U kinders soveel pyn verduur?”

Soms huil ek waar niemand my kan hoor of sien.
Ek huil oor familiefoto’s
vol bloed
terwyl die hoekoms deur my gemoed woed.
Ek huil oor n leeftyd van herinneringe,
stukkend, in skerwe.

Almal moet tog een of ander tyd sterwe…
Met alles is daar ‘n doel.
Dinge gebeur met ‘n rede.
En ons hier in die hede?

Ja, ons moet aanbeweeg, ek weet.
Maar ek is só bang ons vergeet!

Hermien Brittnell – 15 Augustus 2016

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.