Plaasmoordenaars skotvry weens ‘swak’ polisiewerk

Janus Powell (Foto: Verskaf)

Indien die Vrystaatse polisie standaard ondersoekmetodes ná die moord op die plaasbestuurder Janus (Boeta) Powell in 2019 uitgevoer het, kon die moordenaars glo “binne twee weke” geïdentifiseer gewees het. Voor die hand liggende bewyse is egter nooit ingesamel nie, sê ʼn privaatondersoeker wat kort ná die moord aangestel is om ondersoek in te stel.

Twee jaar later is niemand egter nog in hegtenis geneem vir die moord op Powell nie en die ondersoeker meen bewyse gaan by die dag meer verlore.

Powell (37) is in April 2019 op ʼn plaas tussen Hoopstad en Bloemhof doodgeskiet toe hy na die plaashek gery het om mans daar te kry wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het.

ʼn Swaar gewonde Powell is naby die plaashek aangetref, nie ver van die liggaam van een van die verdagtes nie.

Die polisie se trio-taakspan kon egter nooit die identiteit van die verdagte se meelopers bepaal nie en volgens Jurg Kruger, die privaatondersoeker, is die naaste selfoontoring se inligting nooit deur die taakspan aangevra om te bepaal wie daardie aand op die moordtoneel was nie. Dít ten spyte daarvan dat die selfoontoring op die plaas geleë is.

“Daar is ’n Vodacom-toring 30 meter van waar my kind geskiet is,” vertel ’n raadop Tharina Powell oor die ondersoek na haar seun se moord.

Volgens Kruger kon die verdagtes binne twee weke geïdentifiseer gewees het indien die selfoontoring se inligting net destyds aangevra is.

Janus (Boeta) Powell. Foto: Verskaf

Kruger is kort ná die moord deur die eienaar van die plaas, ’n Chinese burger, aangestel om die polisie in hul ondersoek by te staan. Die ondersoekspan se mandaat het later verstryk maar Kruger het nog geruime tyd daarna vrywillig ondersoek ingestel.

Kruger moes egter weens ander werkverpligtinge sy ondersoek na die moord op Powell laat vaar.

“Ek was verskeie kere by die [aanvanklike] ondersoekbeampte maar hy het 110 verskonings gehad. Die [inwin van die selfoontoringdata] is tot vandag nie gedoen nie.”

Kruger sê die eerste ondersoekbeampte in die saak is intussen in hegtenis geneem vir korrupsie terwyl die bevelvoerder van die trio-taakspan enkele weke gelede weens Covid-19 dood is.

Volgens Kruger is die dossier intussen na die bevelvoerder van die polisie se speurtak op Hoopstad oorgeplaas. Dié bevelvoerder probeer volgens Kruger sy bes om ondersoek in te stel, maar van die bewyse is nou nie meer beskikbaar nie. Dit sluit selfoonrekords in.

“Die leidrade wat hierdie persone op die toneel plaas, bestaan nie meer nie.”

Kruger hou vol dat die polisie nie sy ondersoek na die moord reg benader het nie.

“As die polisie net standaard ondersoekmetodes in geweldsmisdade uitvoer, kan hulle binne enkele maande verdagtes identifiseer, lasbriewe uitreik en na die verdagtes soek. Tot vandag toe kan hulle nog niemand met Janus se moord verbind nie.”

Tharina glo ook dat haar seun se moord swak ondersoek is. Haar man, Antoon, was destyds eerste op die moordtoneel. Sy verklaring is na bewering eers sewe maande ná die moord op sy seun afgeneem.

Moord by die plaashek

Powell se ouers het op 20 April 2019 by hom, sy vrou, Anemi, en hul toe vierjarige kleinkind op die plaas gekuier. Hulle het gereed gemaak om te braai toe Powell deur die plaaseienaar gebel en gevra is om hek toe te gaan aangesien daar polisiebeamptes by die plaas opgedaag het.

Powell het sy vrou kort daarna gebel en gesê sy pa en ʼn vriend, wat ook daar gekuier het, moet na die hek toe kom.

Dié het eers op die liggaam van ʼn verdagte, wat vermoedelik deur Powell doodgeskiet is, afgekom.  Dié verdagte is voorheen daaraan skuldig bevind dat hy hom as ʼn polisiebeampte voorgedoen het en was ten tyde van die moord ook gesoek in verband met rooftogte en kapings wat in Noordwes en in die Noord-Kaap gepleeg is.

plaashek-pexels

(Argieffoto: Pexels)

Powell is ʼn ent verder aangetref. Hy het in dié stadium nog geleef maar is later op die toneel dood.

Volgens Tharina hou die polisie haar skoondogter nog van tyd tot tyd op hoogte van die ondersoek.

Tharina het in April vanjaar ook navraag gedoen oor hoe die ondersoek na haar seun se moord vorder en daar is aan haar gesê dat die dossier net die volgende dag na ’n taakspan sou gaan wat plaasaanvalle ondersoek. Dit blyk nou dat dit óók nooit gedoen is nie, sê sy.

“Dit is asof daar nie belangstelling is om die moord te ondersoek nie.

“As ʼn mens net weet dat hulle darem moeite gedoen het om iemand te vang. Niks sal ons kind kan terugbring nie, maar geregtigheid moet geskied. Geen ouer is veronderstel om sy kind te begrawe nie.”

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, het vandeesweek aan Maroela Media gesê die polisie ontken die bewerings dat die moord nie behoorlik ondersoek is nie.

Volgens Thakeng ontvang die polisie steeds inligting wat opgevolg word. Die inligting het tot op hede egter nog niks opgelewer nie. “Die ondersoekspan laat geen steen onaangeroer nie.”

Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die moordenaars kan lei, word versoek om AO Van Eeden by 083 704 0338 of die misdaadstopnommer by 08600 10111 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

tweeling ·

Selfs die minister van polisie praat nie altyd die waarheid so hoe moet ons polisie op die grond vertrou. Die algemene houding wat ek meeste van die kere in ‘n stasie aangetref het is ” ek wag dat die dag verby gaan”

Kosie ·

Net daar om salaris te trek en die van te gebruik om checkers toe te gaan, werk is laaste op die shopping lys.

Keelvol ·

Die publiek se houding moet ook verander. Wanneer jy polisie Stasie toe gaan onthou om jou menslikheid en maniere te bring.

Persheks Adri ·

Ja Johan asof julle maniere het! Jy al gesien hoe behandel julle ons as publiek?

Herman ·

Hoekom verwyder julie my komentaar? Ek se weer, moenie die publiek nou probeer blameer nie.

Nie Verbaas ·

Ja wel, net weer nog n bewys van hoe hopeloos Cele en sy BEE magte regtig is. Ek haal egter my hoed af vir die lede wat onder moeilike omstandighede sonder hulpbronne nog hulle werk doen.

melaney ·

Ek bly so ver moontlik weg van polisie kantore weg en/of SAPS lede. Ek verwag geen hulp van daardie mense nie, eerder aanranding.

Hennie ·

Hoekom us ek nie verbaas nie. Luiheid, BBBEE en net swak kwaliteit mense het die polisie op hierdie vlak gebring. Hoop sy familie sal berusting kan kry…

Dries ·

In normale omstandighede sou die betrokke ondersoek beampte ontslaan word. Maar hierdie standard van werk word in SA aanvaar.

gatgogga ·

Almak kla oor die polisie – en met reg.
Maar wie was dit wat heel eerste op groot skaal van sekere polisiemanne onslae geraak het?
Moenie vergeet nie – dit was FW.
Van toe af was die polisiemag al geknak.

Lourens CFG ·

Onthou, dit was wat hy moes doen om ons “leierloos” te kry sodat hy die land aan anc kon gee.
Hy het ook al ons militêre leiers in die nag na hom laat kom, en almal met onmiddellike effek ge-“fire”.
Alles is genotuleer, gaan kyk maar.
Ek was toe net mooi op pad huis toe van die grens af.

Persheks Adri ·

SAPS kan net sowel ontbind word vir al wat ek omgee. Net so useless soos hulle hoed glorified sekuriteit beampte pffft! Ons sal baie geld spaar en onsself beskerm

Werner ·

Glo dat hulle werklike polisie manne was dit is hoekom die saak so sleg hanteer was

Jr ·

Maar in Phoenix was daar sommer die selfde dag mense vasgevat. Ja nee dit sê alles. WL don’t M is hulle rassistiese polis

Kosie ·

Nou wil jy he polisie moordenasrs moet swaarder gestraf word nou wat van die man se moordenaars wat op vrye voet is deur toedoen van useless so called polisiemanne ?

Keelvol ·

Kruger, nou wie is dan die verdagte/s dan? Aangesien jy soveel beter kon doen?

Piet parys ·

So al wat dit sê is dat die polisie wel betrokke was en hulle interne korrupte moordenaars beskerm

Misky ·

Absoluut skokkend en so jammer vir Janus en die geregtigheid wat hom toekom en nou ontneem is deur n stelsel wat ons faal

Yvonne ·

Die onwilligheid om die saak te hanteer se vir my iemand word beskerm..seker teen n prys

Hasie ·

Sekere polisielede se houding is ” Ek doen jou ‘n guns om my werk te doen” Hul blatante arogante houding maak dat niemand meer die polisielede kan vertrou nie. “I am here to wear the uniform, not to do the work “

Willem ·

Al wat polisie kan vang is mense sonder maskers en waar drank betrokke is vir hul eie gewin!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.