Plaasverkragting: Slagoffer praat hart uit oor ‘daai dag’

Mariaan Wentzel. Foto: Verskaf

Mariaan Wentzel. Foto: Verskaf

Op Maandag 23 Maart vanjaar was Mariaan Wentzel (41), ʼn diereliefhebber en DBV-inspekteur van Lephalale (Ellisras) in Limpopo, saam met haar drie kinders in die sitkamer van die plaashuis waar hulle pas ingetrek het, besig om bokse uit te pak. Skielik het ʼn vreemdeling, gewapen met ʼn ysterpyp, sy verskyning gemaak. Die volgende 40 minute het haar lewe onherroeplik verander.

“Ek het daardie dag saam met die kinders by die huis gebly om uit te pak nadat ons van Lephalale na Renosterfontein buitekant Vaalwater verhuis het,” het Wentzel Donderdag aan Maroela Media gesê.

Die vreemdeling was Ian Chucko (29), ʼn Zimbabwiër, wat Wentzel aangerand, verkrag en beroof het. Landdros Theuns Prinsloo het hom Woensdag in die Modimolle (Nylstroom)-streekhof tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis.

Chucko het op die dag van die aanval omstreeks 11:00 toegang tot die plaas, wat ʼn wildsheining het, gekry. Hy het die huis waar Wentzel, haar twee dogters van 7 en 9 en seun (5) doenig was, binnegegaan. Haar man, Morne, was ten tyde van die aanval besig om ʼn vrag huisware van Lephalale na die plaas aan te ry.

Ian Chucho. Foto: Verskaf

Ian Chucko. Foto: Verskaf

“My rug was na die deur en die volgende oomblik het my hond tekere gegaan en my kinders het gegil. Toe ek omdraai het hy my die eerste keer geslaan.” Sy vertel sy kon sien die man was nie van die omgwing nie en het hom in Engels aangespreek. “Ek het hom gevra What do you want?. Hy het sy vinger op sy lippe gesit en gewys ek moet stilbly. Ek vra toe weer, Just tell me what you want, I will give you anything.”

Chucko het gesê hy wil geld hê. Sy het gesê sy het nie geld nie, maar hy kan die televisie, rekenaar en selfone vat. “Ek het gesê Just take what you want and go.” Hy het haar weer geslaan en twee selfone wat daar gelê het, gegryp. Sy vir haar kinders geskree om badkamer toe te gaan, wat hulle gedoen het.

Hy het haar by die voordeur uitgestamp. “Ek was op die grasperk en het hom weer gevra Please take what do you need, what do you want from me? I will give you whatever you want. Hy het my met die pyp op my kop geslaan en terselftertyd na sy broek gewys. Toe weet ek daar is moeilikheid.”

Intussen het haar kinders by die venster uitgekyk en geskree toe hulle hul ma, wat toe erg gebloei het, gesien het. “Ek sê toe, Please not here and just leave my kids alone. Met dié het hy my na die waterpompstasie, sowat 10 m van die huis af, gevat en dit is waar alles gebeur het.”

Wentzel het gesê sy weet nie waar sy die selfbeheersing en kalmte vandaan gekry het nie. “Dit is net asof iets vir my gesê het om nou rustig te wees, want hier is moeilikheid. Dit is genade van Bo wat my gelei het. In ʼn stadium het dit vir my gevoel of ek nie meer in my liggaam is nie. Toe die dinge met my gebeur het, was dit asof God oorgevat het om dit vir my makliker te maak. Dit het baie, baie lank gevoel.”

Sy het gesê sy vermoed hy het nie gekom om te steel nie. “Hy het spesifiek daardie dag gekom om te doen wat hy gedoen het. Toe hy klaar is, het dit gelyk of hy baie senuweeagtig was. Hy het uitgestap en rondgekyk. Ek was bang hy sou teruggaan na my kinders toe. Ek het baie gebloei, was duiselig en was orals seer. Al wat deur my kop gegaan het, was om enigiets te doen om hom van die huis af weg te hou, maak nie saak wat nie.”

Haar man, wat saam met een van haar DBV-kollegas was, het in daardie stadium met die bakkie by die plaashek aangekom. “Gelukkig het ons die voertuig gehoor. Dit was ver maar die enjin se geluid het weergalm. Ek het geweet hulp is op pad, hoewel ek toe nie geweet het wie dit was nie.”

Chucko het senuagtig geraak. “Ek het vir hom gesê, Just take your stuff and run because today they are going to kill you. Hy het homself skoongemaak, die fone gevat en gehardloop.”

Wentzel is met ʼn oop kopwond en verskeie blou kolle aan haar gesig, arms, rug en lyf buite by die huis se hek aangetref. “My werker het die hek oopgemaak. Ek het vir hom geskree om te help want ek is aangeval. My man het toe met die bakkie ingejaag en my op die gras gekry. Al wat ek kon sê is dat ek aangeval en verkrag is. Ek weet nie wie hy gebel het nie, maar binne 10 minute was die plaas vol mense.”

Op die vraag oor wat alles ná die aanval deur haar kop gemaal het, antwoord sy vinnig: “Ek was kwaad, teleurgesteld, ek het hom verwyt. Ek was kwaad vir alles en almal. Ek het seer gehad en  gevra waarom dit moes gebeur. Al dié emosies gaan gelyk deur jou kop. Jy is bang. Jy het die hele tyd ontsettende vrees in jou. Die emosies gaan nie vinnig weg nie. Daar is baie dae wat ek nog verwyt en kwaad raak en die hoekom-vraag vra, maar dit raak makliker met die tyd saam, want jy begin dit verwerk.”

Sy het gesê sy glo daar is sekere dinge wat sy nog vir jare saam met haar sal moet dra en verwerk. “Ongelukkig kan jy dit nie net los en sê dit is verby nie.”

Wentzel se huisdokter het haar ná die aanval behandel. Hy het vir haar ʼn kalmeermiddel en antiretrovirale medisyne gegee. Foto’s is van haar beserings geneem, haar wonde is behandel en sy het DNS-monsters laat neem en bloedtoetse ondergaan. “Ek dank die Here dat ek nie MIV positief is nie!”

Sy het gesê sy was nog nooit weer sedert daardie dag terug plaas toe nie. “Boere van die omgewing het dieselfde dag en die dag daarna al ons besittings teruggevat Lephalale toe, waar ek van toe af gebly het.”

Wat haar kort ná die aanval die meeste vertroosting gegee het, is die feit dat die polisie uitstekende werk gedoen het. Deur hul vinnige optrede is Chucko op 10 April in Vaalwater aangekeer. “Dit was ʼn groot verligting om te weet hy was nie meer op straat nie en kan nie terugkom om wraak te neem nie.”

Die eerste keer wat sy Chucko weer in oë gekyk het, was toe sy hom kort nadat hy in hegtenis geneem is, moes gaan uitken. “Ek was baie bang en gladnie seker wat vir my voorlê nie. Ek moes letterlik face to face met hom in aanraking kom en hom uitwys deur aan hom te raak. Ek het hom onmiddellik herken. Ek het die krag gekry en ek het gedoen wat ek moes, met haat en seer steeds in my.”

Sy het hom daarna net twee keer weer vlugtig tydens hofverrigtinge gesien. Chucko het glo geensins enige tekens van berou vir sy dade getoon nie.

“Hy kan nie in aanmerking kom vir parool voordat 20 jaar verby is nie. Dit is goed om te weet dat hy vir 20 jaar uit die samelewing gaan verdwyn en dat ʼn mens nie om enige hoek of draai in hom gaan vasloop nie.”

Hoewel sy bly is dat geregtigheid geskied en Chucko tronkstraf gekry het, voel sy dat 10 jaar nie genoeg tronkstraf is vir ʼn verkragting nie. “Daar sal nooit ʼn vonnis wees wat lank genoeg is vir so-iets nie.”

Op die vraag of die tronkstraf vir die aanklag van roof met verswarende omstandighede vir haar aanvaarbaar is, antwoord sy:

Sy het gesê ʼn wonderlike ondersteuningsgroep, haar gesin en haar geloof. Deur te praat oor die voorval het haar gehelp op haar pad na genesing.

Wentzel se man woon en werk tans in Port Elizabeth en sy beplan om aan die einde van die jaar by hom aan te sluit. Sy wil daar by ʼn instansie betrokke te raak wat verkragtingslagoffers bystaan.

Haar raad aan ander mense, mans en vroue, wat verkrag is, is: “Gaan praat. Praat met iemand, doen net iets want dit is nie nodig om stil te bly nie. Jy het niks om oor skuldig te voel nie. Jy het niks verkeerd gedoen nie. Praat, die gereg sal jou help. Jy bly nie stil nie. As ek stil gebly het, sou ek nie gemoedsrus gekry het nie.”

Maroela Media het haar gevra of sy Chucko ooit sal kan vergewe. “Vergewe ja, vergeet nooit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Inge ·

Ek dink dit is een van die ergste goed wat met ‘n vrou kan gebeur! Ek is regtig jammer dat dit met haar gebeur het en bly dat die blikskottel gevang is! Nie net was dit erg vir haar nie, wat van haar arme kinders? Ek sou dit nie net laat gaan het nie…hoop dit wat hy aan haar gedoen het, met hom gebeur in die selle!

anet ·

Mariaan, jy is ‘n baie dapper vrou en ek glo saam met jou dat God saam met jou was gedurende die anval.
Uitstekende nuus dat die man gaan sit vir 20jr, en ek hoop dat hy elke dag in gevangenis aangerand sal word deur die bendes in die gevangenis.
Sterkte vir jou en jou familie !!!

SNEL ·

Dis vreeslik wat hier gebeur het, maar alhoewel sy verkrag is, is die hele gesin geraak. Dit hang seker af hoe mens dit hanteer, en n mens se uitkyk oor die gebeurtenis, maar net soos wat ouers skei in sommige gevalle as hulle n klein kindjie aan die dood afstaan, so kan die situasie ook n huwelik n knou gee. Mag God julle deur die tyd dra en julle gesins en huweliksbande net nog sterker maak.

Ruby ·

Mariaan, ek is so baie jammer vir die trauma waardeur julle gegaan het.

Mag die Here julle ekstra styf vas hou, ek dink ook aan jou man. Indien moontlik, gaan vir ‘n paar dae weg en praat en ondersteun mekaar, julle altwee het nodig om julle harte uit te praat en huil.

Liefde, bystand, ondersteuning, vrede, vreugde en tonne geduld word julle toegewens.

Christie Joubert ·

Haatlike walgwors!! Ek stem vir chemiese kastrasie. Dit is hoog tyd dat n verkragter ook letsels oorhou en nie net die slagoffer nie. Mariaan, jy is n baie dapper vrou. Alle sterkte vir jou en jou familie.

rissiepit ·

Christie. Ek is ook vir chemiese kastrasie. Sulke mense vernietig lewens…hulle lewens moet ook so onherroeplik verander. 20 jaar in die tronk…werklik? Of is die ou na 5 jaar uit om die volgende persoon so iets aan te doen? My hart gaan uit na die familie.

Lisa ·

Ek is self al aangeval. Gelukkig vir Mariaan Wentzel het geregtigheid geseevier. Ek was nie so gelukkig nie myne is na byna twee jaar nog nooit gevang nie. Sterkte vir die toekoms en jou gesond word proses. Na twee jaar kan ek se dit gaan al beter maar dit is nog nie weg nie. Moenie jou slagoffer haat nie. Haat is n negatiewe emosie wat jou van binne sal opvreet maar jy kan die daad wat hy gepleeg het haat.

JoeV ·

Mens kry gelukig nie swart rassiste nie anders was die rassistiese aanval.

franscois ·

Ja en nou gaan ons lekker rus in die tronk en leer en uitkom en dan is hy seker die volgende president, een van robie van zim se hond wat losgelaat is met n doel, om te gaan en verwoesting en annergie te saai,hoop jy vrot in die tronk!

Onregverdig ·

Wanneer gaan die stokou wet wat verkragtingslagoffers dwing om aan hul aanvallers te raak oorgeskryf en reggestel word? Dis iets wat uit die flippen oertyd kom. Ons regering herskryf wette links en regs, maar sulke goed word nie verander nie.

Dan ·

Maroela sorry ek moes seker nie van hom sleg gepraat het nie. Belowe sal nie weer met julle komminukeer nie. baai

Ruby ·

Maroela, ek het niks verkeerds gesê nie, ek beaam net bloot oor artikels wat julle al geplaas het! Kom ek probeer weer….

Dan, dis absoluut die waarheid, hulle los niks uit, honde, hoenders, skape, kinders, bejaardes en en en.

Johan Likkewaan ·

Ek is seker ‘n beter straf vir die mannetjie sal wees as hulle hom aan die boere kon oorhandig het om uit te sorteer. Dit sal ‘n goeie en duidelike boodskap uitstuur vir ander misdadigers daar buite.
Jou geneesing is amazing en alhoewel dit so erg was is ek bly jy kon aanbeweeg met die Here se hulp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.