Plaaswerker dam bestuurder met misskraper by

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

“Dit was ’n oomblik van waansin.”

Só sê die eienaar van Wilhelmsheim Melkery in die omgewing van Philippi in die Wes-Kaap nadat ’n jarelange werknemer van die plaas sy plaasbestuurder dié naweek met ’n misskraper bygedam het.

Die betrokke werknemer (40) word nou aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die beseerde plaasbestuurder moes steke aan sy kop en arm ontvang en sal Maandag weer op sy pos wees.

Jan Visagie, eienaar van Wilhelmsheim Melkery, sê aan Maroela Media dat die werknemer Saterdag laatmiddag by die hek van Visagie se huis, naby die melkstalle, aangekom het. Daar word soggens en saans op die plaas gemelk en die werknemer was in dié stadium aan diens.

Die werknemer wou Visagie glo in kennis stel van ’n foutiewe waterpyp, maar Visagie sê hy kon aan die werker se houding sien dat die man onder die invloed van alkohol was.

Visagie vertel dat hy die werknemer terug na die melkstalle gestuur het terwyl hy ’n apparaat om die werknemer se alkoholvlakke te toets in die huis gaan haal het.

Visagie en sy plaasbestuurder is toe na die melkstalle waar Visagie gevra het om die werknemer se alkoholvlakke te toets. Die werknemer het geweier en sy werkgewer beledigings en dreigemente toegesnou.

Volgens Visagie het hy dit daar gelaat. “Ek het vir die plaasbestuurder gesê dis reg, ons kan hom nie dwing nie. Ons sal maar met ’n dissiplinêre proses begin. Ek het toe omgedraai en geloop.”

Hy sê dat hy byna by die deur van die melkstalle uit was toe hy ’n gestoei agter hom hoor. Hy het omgedraai en gesien hoe die werknemer die plaasbestuurder met ’n instrument waarmee die melkkoeie se mis geskraap word, oor die kop slaan.

“Die ironie is dat die bestuurder niks met die hele ding te doen gehad het nie. Ek het die heeltyd gepraat,” sê Visagie.

Visagie en van die ander werknemers het ingegryp om die werknemer tot bedaring te bring. Die owerhede, insluitend die plaaslike AfriForum-buurtwag, is ontbied en Visagie is toe terug huis toe.

Dit is tóé dat die werknemer na bewering ook vir Visagie bestorm het.

“Ek het ’n afstandbeheer hek. Ek het die hek oopgemaak en was omtrent by die hek in toe hy met ’n spitvurk aangehardloop gekom het.”

Volgens Visagie het die hek baie stadig begin toemaak. Hy het pepersproei by hom gehad en dit in die rigting van die werknemer gespuit. Dit het hom genoeg tyd gegun sodat die hek kon toegaan.

“Toe sien ek daar jaag hy met my kombi weg.”

Hy vertel dat die werknemer die sleutels van die kombi by hom gehad het, aangesien hy die een is wat die plaaswerkers se kinders skool toe neem. Die werknemer het egter nie toestemming om die kombi oor die naweek, veral nie onder moontlike invloed van alkohol, te bestuur nie, verduidelik Visagie.

Die werknemer is by die eerste vierringtingkruising in die omgewing deur lede van AfriForum se buurtwag voorgekeer en in hegtenis geneem.

Kapt. FC Van Wyk, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die werknemer Dinsdag in die Athlone-landdroshof verskyn het op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Visagie sê dat die werknemer al tussen 12 en 13 jaar vir hom werk.

“Ek is teleurgesteld. Hy was [my regterhand] onder die werkers. Hy het die koeie se inseminasie gedoen en die skoolkinders rondgery.”

Visagie het dit Donderdagoggend duidelik gestel dat die voorval nié ’n plaasaanval was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Samuel ·

Dit blyk dat alkohol die oorsaak van hierdie aanval was. Tog is daar mense wat sê alkohol dra nie by tot misdaad nie. Alkohol is te maklik, vrylik beskikbaar.

Piet parys ·

Nee Samuel alkohol is nie die oorsaak nie maar wel die gebruiker daarvan . Hy kry te veel geld. Weet nie wanneer is genoeg nie en suip tot hy nie weet wat hy doen nie . Mense wil al ewig drank die sondebok maak en nie die verbruiker nie .

Dawie ·

Stem saam Piet. Hoe gaan die probleen nou opgelos word deur alkohol “minder vrylik” beskikbaar te maak? Mense hulle konstitusionele vryheid ontneem en dit glad nie beskikbaar maak nie? Mense moet opgevoed word. Ek hoop daar is genoeg van ons wat wil opgevoed word.

Persheks Adri ·

Net aanranding regtig? Hoed gaan seker nou die spitvurke en nog instrumente ook verban?

Persheks Adri ·

Hy was dronk, maar word net aan gekla vir aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hoop hulle sit dronkbestuur ook by Cherokee

Thelsa ·

Ek vermoed hy is nou nie meer een van jou betroubaarste werkers waarmee jy alles aan hom toevertrou nie.

Misky ·

Klink vir my meer na poging tot moord as ek so na die gebeure luister

Oubobbejaan ·

Eina, wat het oumense altyd gesê. Pasop ” ñ mak hond byt die seerste”.

Elinette ·

Miskien was hy een van die betroubaarste werknemers, maar na dese, meneer Visagie, het jy die volste reg om hom summier te ontslaan, want dronk-aan-diens is een van die min gevalle waar jy met onmiddellike gevolg ‘n werker kan ontslaan. Ek sal so doen, want ek sal hom voorwaar nie weer vertrou nie.

Skillie ·

Heel waarskynlik sal hy sukkel om hom af te betaal en as hy dit regkry dan sal die rooi pette en malemmer weer alles breek en brand en dit n ras ding maak want die werkgewer sal volgens hulle die verkeerde een wees en nie die werker nie.

Henry ·

Met n skraper my oor my kop slaan, met n spit vurk op my afstorm, klink soos n poging om my te vermoor. Sou my vuurwapen aan my sy wees sou ek uit self verdediging die wapen tot sy volle potensiaal gebruik het.

Cherokee ·

Moet nie voorspellings maak nie. En dan nog handeklap ontvang daarvoor.

modiglianigirl ·

Én die feit dat hy ‘n voertuig (nogal sonder die eienaar toestemming op daardie oomblik) onder die invloed van alkohol bestuur het. Word dít nie by die klagstaat gereken nie?

Erika ·

Everything in Life is Choices….And somewhere you are going to be held accountable for that choices..

Onnie ·

Miskien was hier ander dwelms betrokke, behalwe drank. Die werker klink of hy baie aggressief en buite sy gewone karakter opgetree het. Dit dui gewoonlik op dwelms soos tik.

Vicky ·

Dit gebeur dat GOEIE MENSE en werknemers soms knak. Sy diens rekord was tot nou goed,hy is duidelik ñ staatmaker. Ek sè nie dis reg wat gebeur het nie,maar die HR in my skreeu “Give the guy a break!” Counseling is die 1e stap van ñ disiplenèr,dalk kort die man hulp? Maar nee… nou skreeu almal fire links en regs sonder om te probeer verstaan waarom hy buite sy karakter opgetrèè het.
Ons àlmal het al dinge gedoen buite ons karakter ????

Adriana ·

As die EFF nou daarvan gaan hoor, gaan dit weer omgedraai word na ñ rassistiese voorval, dit gaan omgekeer word. Hul gaan kom toi toi op die plaas en die bestuurder moet in hegtenis geneem word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.