Plaaswerker gevonnis oor moord

Miemie Frost (Foto verskaf)

Ben Sello Moeti (43) is Donderdag in die rondgaande hof in Bethlehem lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Miemie Frost op ʼn plaas in die distrik. In 1900, 119 jaar tevore, het ʼn soortgelyke tragedie hom op die plaas afgespeel.

Die 72-jarige Frost is op 6 September 2019 op die plaas Tamboekiesbank aangeval.

Alana Koen, Frost se dogter, het aan Maroela gesê sy en haar suster, Mignon Swanepoel, is tevrede met die vonnis. “Dit is lekker om te weet dat die regstelsel in hierdie geval gewerk het en dat hy niemand anders sal kan seermaak nie.”

Hulle is ook dankbaar dat die saak in minder as 10 maande afgehandel is.

ʼn Vorige arbeider het Frost se bakkie die Vrydagaand laat by ʼn vulstasie opgemerk en dadelik die polisie gekontak. Hy het aan polisiebeamptes gesê Frost sou nooit só laat rondry nie. Die polisie het ondersoek ingestel en Moeti kon nie ʼn rede verskaf waarom hy met Frost se bakkie doen nie.

Polisiebeamptes het daarna gaan ondersoek instel op Frost se plaas en op ʼn bebloede staalpyp en bloed op die gras afgekom. Moeti is weer ondervra en hy het bevestig dat hy Frost vermoor het. Hy het beamptes die Saterdagoggend na ʼn stormwaterpyp, naby ʼn begraafplaas, geneem waar Frost se liggaam gevind is. Moeti het gesê hy het Frost onder ʼn rubbermat agterop die bakkie versteek voor hy haar by die stormwaterpyp afgelaai het. Volgens hom het Frost in hierdie stadium nog geleef.

Koen het aan Maroela gesê volgens die nadoodse ondersoek was haar ma vermoedelik reeds bewusteloos ná die eerste hou oor haar kop. Sy het baie kopbeserings opgedoen. Sy het tydens ʼn struweling terugbaklei en haar arms het baie seergekry.

Moeti het tydens die saak eers skuld ontken en daarna aangevoer hy het uit noodweer opgetree, maar Koen sê regter Pitso Molutsoane het hom gou op die teenstrydighede in sy verweer gewys. “Die regter het baie gesag afgedwing. Mens het sommer weer moed vir die land as mens sien wanneer die regstelsel werk,” het Koen bygevoeg.

Moeti is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die diefstal van Frost se bakkie en lewenslange tronkstraf vir haar moord.

“Dit is die maksimum vonnis wat hy opgelê kan word, so ons is heeltemal tevrede daarmee,” het Koen gesê. “Dit is net jammer dat hy nooit die waarheid gepraat het nie. Ons sal nooit weet wat die aand gebeur het nie.”

Moeti het nie enige van Frost se juwele, klere, haar vuurwapen of enige ander eiendom gesteel nie. Hy het drie keer vantevore vir Frost gewerk. “My ma het haar elke keer oor hom ontferm en weer vir hom werk gegee. Sy pa het 35 jaar lank vir ons gewerk.”

(Foto verskaf)

Frost was 40 jaar lank op die plaas en het die laaste paar jaar met ʼn paar varke geboer. Sy het ook ʼn paar skape op die plaas gehad vir eie gebruik. Sy het ʼn deel van die grond as weiding uitverhuur. Die twee dogters het intussen die plaas aan die huurder verkoop. “Die huurder het twee dae voor my ma se dood ʼn aanbod gemaak om die plaas te koop. My ma was hardkoppig, maar sy het die aanbod aanvaar.”

Koen en haar ma het die Donderdag, voor Frost se dood, by Mignon in Bloemfontein gaan kuier. “Ons het die Vrydagoggend nog haar naels geverf en sy het haar hare laat doen,” het Koen gesê. Haar ma is terug Bethlehem toe terwyl Koen langer in Bloemfontein vertoef het. “Ek het die Vrydagaand nog 19:30 met my ma oor die telefoon gesels en sy het gesê sy wil ʼn vroulike werker na ʼn ander plaas toe neem. Ek wou nie hê sy moet in die donker ry nie, maar sy wou nie hê die werker moes in die donker terugstap nie. Op die toneel waar my ma se liggaam gevind is, het ʼn verbyganger gesê hy het omstreeks 20:20 ʼn man by ʼn bakkie sien staan. Die aanval moes dus ʼn paar minute ná ons telefoongesprek plaasgevind het.”

Koen, wat ook in Bethlehem bly, sê sy en haar ma was baie groot vriendinne en het gereeld saam gekuier. Sy het gereeld ook oor naweke by haar ma op die plaas gaan kuier. “Ek mis haar wanneer ek haar gou iets wil vertel, maar ek het net goeie herinneringe van my ma. Ek is oor niks spyt nie. Mens weet nooit hoe lank tyd mens saam met iemand het nie.”

ʼn Plaas met ʼn geskiedenis

Frost se oupagrootjie is in 1900 op die plaas deur ʼn bende aangeval wat beeste wou steel. Hulle het hom met ʼn mes doodgesteek.

Koen het op ʼn Huisgenoot-artikel van 1953 afgekom waar ʼn neef oor die moord gesels het. “Hierdie koeël hou ek vir die moordenaar” was die opskrif van die artikel.

Plaas Tamboekiesbank het tydens die Anglo-Boereoorlog ook deurgeloop tydens die Britte se verskroeide-aarde-beleid. Die plaashuis is tydens die oorlog aan die brand gesteek. Frost het glaspanele laat insit sodat mens steeds die gebrande dakbalke kon sien.

Die Huisgenoot-artikel uit 1953 (Foto verskaf)

Die Huisgenoot-artikel uit 1953 (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Kan jy nie eers meer iemand vertrou wat se Pa 35 jaar vir die mense gewerk het, en die Moeti drie keur? My sister en Ma bly saam, en het soe paar jaar gelede maar besluit om hulle eie huiswerk te doen. Hulle was nie meer seker of hulle iemand meer kon vertrou met die inkom en uitgaan, en die woonstel se sleutels nie. Nie almal is sleg nie, maar hoe baie mal lees jy dat die aanval is beplan tussen die wat op die plaas werk? Darem bly dat Moeti lewenslank weg is. Begin nou sien dat regters word nou baie hard op plaas moordenaars.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.