Plaaswerker gevonnis vir meisie (9) se verkragting

Argieffoto

ʼn Plaaswerker wat hom seksueel aan twee jong meisies ontbloot het voordat hy later, in ʼn aparte voorval, een van die meisies twee keer verkrag het, is Dinsdag twee lewenslange vonnisse opgelê.

Koos Klein (38) is in die Parow seksuele oortredingshof in die Wes-Kaap deur landdros Mandy van Leefe gevonnis. Van Leefe het gesê die lewenslange vonnisse moet as ʼn weerspieëling dien van die samelewing se afsku vir wat hy gedoen het.

Klein het verskeie vorige oortredings, waaronder een van onsedelike aanranding in 1995 en nog een van verkragting in 2003. Die misdade waarvoor hy Dinsdag gevonnis is, het hy verlede jaar gepleeg terwyl hy uit was op parool.

Terwyl hy in die beskuldigdebank gesit en wag het vir die hofverrigtinge om te begin, het hy vir die landdros geglimlag. Van Leefe het hom skerp berispe en gesê “daar is niks om oor te glimlag” nie.

Volgens die klagstaat het Klein hom eers aan ʼn negejarige meisie ontbloot en toe, tydens ʼn tweede geleentheid, aan ʼn agtjarige meisie verlede jaar. Daarna het hy met die negejarige meisie orale seks gehad voordat hy haar verkrag het. Die landdros het bevind dat die orale seks ook gelykstaande is aan verkragting.

Die oortredings het gebeur toe Klein op ʼn plaas in Durbanville gewoon het. Hy het albei meisies en hul ouers geken. Die ouers het hom vertrou en die meisies toegelaat om hom te vergesel winkels toe. In albei voorvalle van verkragting het hy die negejarige meisie by nabygeleë bosse ingelok.

Carmelila Samuels, Klein se regsverteenwoordiger, het aangevoer daar is dwingende omstandighede hoekom die hof kan afwyk van ʼn vonnis van lewenslange tronkstraf vir verkragting en het die hof versoek om Klein net 15 jaar tronkstraf op te lê. Die landdros het egter met die staatsaanklaer, Yolanda Pretorius, saamgestem dat daar geen redes is om van die minimum voorgeskrewe vonnis af te wyk nie.

Die landdros het gesê sy sidder om te dink wat die dogtertjie moes deurgaan toe hy haar verkrag het. Sy het gesê gemeenskappe is “siek en sat” vir geweld teen vroue en kinders en verwag van die hof om oortreders op gepaste wyse te straf.

Die landdros het gesê afgesien van die twee vonnisse van lewenslange tronkstraf, sal Klein se naam ook in die register vir seksuele oortreders opgeneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AL ·

Behalwe siek en sat wees vir geweld teen vrouens en kinders is ons nasie ook siek en sat vir geweldsmisdade.

Tanya ·

Uit op parool vir verkragting. Hoe op hierdie aarde verkrag jy en kom uit op parool daarvoor! ek het geen, maar geen hoop meer vir SA nie. Al wat my hier in SA hou is ‘n klein graffie met my dogtertjie se naam op.

Ook 'n mamma ·

Joh TANYA< my innige simpatie aan jou .. ek gee jou sommer 'n drukkie. So jammer oor jou verlies .. Ek kan nie myself uitlaat oor die dood van 'n kind nie, ek dink dit is wreder as wreed .. Sy is gelukkig waar sy nou is en sal ook wil he haar mamma moet gelukkig wees .. Dalk kan jy die assies saamvat, sou jy besluit om erens heen te gaan .. ek weet nie wat jou situasie is nie . EK is ook nog in SA, maar glo my soos dinge nou aangaan, weet ek nie vir hoe lank nog nie.

Skerp Spioen ·

My dogter se naam is ook Tanya. En sy het ook ‘n klein dogtertjie, die pragtigste klein mensie wat die sonstraal in ons lewe is. My hart gaan uit na jou toe Tanya. Mag die Groot Vertrooster jou help om berusting te vind. Die Liefde vergaan nooit. Mooi bly.

Ouma ·

Verkragters verdien nie borg nie. Hulle doen dit weer. En sou hulle borg kry, moet daar groot in sy gesig “Verkragter” getatoeer word, sodat almal weet met wie hulle te doen het.

Adri ·

Hoekom vertrou ouers iemand wat uit is op parool nadat hy skuldig bevind is aan verkragting en laat toe dat hulle dogtertjies alleen saam met hom is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.