Plaaswerker ontken skuld ná Hankey-aanval

Sebenzile Simane (32), ‘n voormalige plaaswerker, verskyn in die hooggeregshof in Port Elizabeth. (Foto: Raahil Sain/ANA)

ʼn Voormalige plaaswerker van Hankey in die Oos-Kaap wat ʼn vrou glo wreed aangeval, haar geskiet en toe voor haar dogter verkrag het, het Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth verskyn.

Sebenzile Simane (32) staan tereg op aanklagte wat insluit huisbraak, roof, menseroof, ontvoering, verkragting, poging tot verkragting, die feit dat hy ʼn kind gedwing het om ʼn seksuele oortreding te aanskou en poging tot moord, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie asook roof met verswarende omstandighede.

Die aanklagte teen Simane spruit uit ʼn aanval op ʼn 44-jarige vrou en haar drie kinders, nadat hulle in Maart verlede jaar in hul plaashuis oorval is.

Regter Olav Ronaasen het beveel dat geen van die klaers in die saak in mediaberigte geïdentifiseer mag word nie. Die ligging van die plaas word ook weerhou.

Simane het gister onskuldig gepleit op die 17 aanklagte teen hom. Hy het sy hande in gebed saam gevou voordat hy na die beskuldigdebank gestap het. Hy was aanvanklik geïrriteerd met fotograwe, maar het later geglimlag en selfs gelag.

Die voormalige plaaswerker wat die aanval na bewering op sy eie uitgevoer het, is op 23 Maart verlede jaar in die huis in nadat hy verskeie skote deur ʼn glasdeur geskiet het. Die kinders het daarna na hulle ma se slaapkamer gevlug. Simane is daarheen en het ook in die kamer skote afgevuur.

Volgens die klagstaat is die ma in haar boude geskiet, terwyl sy haar kinders probeer beskerm het.

Simane het glo gedreig om een van die kinders te skiet en het toegang tot die kluis geëis. Hy het die vrou en kinders daarna na die sitkamer geneem en hulle met draad vasgebind. Simane het daarna die ma na ʼn slaapkamer geneem waar hy haar na bewering verkrag het.

Volgens die klagstaat het Simane daarna die 13-jarige dogter na haar ma se kamer geneem waar hy glo gedreig het om haar ook te verkrag. Die ma het weer eens gepleit dat haar kind gespaar word. Simane het haar daarna glo weer verkrag, dié keer voor die dogter.

Nadat hy items in die huis bymekaar gemaak het, het Simane die vrou, in haar voertuig, na ʼn kitsbank geneem om kontant te onttrek. Sy het toe ontsnap.

Vriende en familielede was gister by die hof om die vrou te ondersteun, nadat sy na verwagting gister al sou getuig. Daar was verskeie vertragings en sy sal na verwagting vandag eers getuig.

Magda Coetzee, ʼn berader van die burgerregtegroep AfriForum (wat ná plaasaanvalle steun aan slagoffers bied), het die ma as ʼn “ystervrou” beskryf.

Die verhoor duur vandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
thinus erasmus

Ek wil net bitter graag weet op grond van WAT sal die beskuldigde sy o skuld basseer? Hy was wel bekend aan die slagoffers en daar is seker verskeie getuienis en bewyse teen hom. Ek dink die vonnisse moet presies verdubbel word wanneer ń beskuldigde sonder enige gronde onskuldig pleit.

Saint

Pleit onskuldig !!!

Wat is nuut?????

Attie

Die regering en hul lakeie sal sy onskuld probeer bewys…eintlik werk dit andersom in ‘n eerlike land.

lh

Ek kan my nie ‘n oomblik die vrees, pyn en vernedering indink nie . . . Mag God jou en jou kinders heelmaak en hierdie afskuwelike gebeurtenis vining, vir altyd laat vervaag! BLY sterk vir jou en jou kinders!

Gepeto

Hy is dan deer a uitkeningperade as die skildige uitgewys Hy gaan baie baie LANK SIT