Plaaswerker vermoor; polisie daag eers 4 uur later op

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Moordverdagte is nog op vrye voet nadat hy glo oor die naweek ʼn plaaswerker van Mpumalanga vermoor en die polisie glo te bang was om hom in hegtenis te neem.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het aan Maroela Media gesê die voorval het Saterdag op die plaas Elandskloof tussen Dullstroom en Belfast plaasgevind. “ʼn Verdagte het die plaaswerker met ʼn bottel aangerand, daarmee gesteek en toe met ʼn klip doodgeslaan,” het Cameron gesê. “Die verdagte het na bewering aan ander werkers erken dat hy die moord gepleeg het. Hy het selfs glo gedreig dat hy sal terugkeer om die ander werkers, die boer en ʼn gesin wat ook op die plaas woon, aan te val.”

Die Belfast-polisie is ontbied, maar het glo eers vier uur ná die moord by die toneel opgedaag. Cameron het gesê die plaaswerkers het die verdagte Sondagaand buite die plaas gesien en dadelik die polisie gebel. Die beampte aan diens het glo gesê hy is te bang om te reageer en gaan eers Maandag die verdagte soek.

AfriForum het Maandag ʼn klag by genl.maj. Meshack Nogwanya, waarnemende provinsiale kommissaris van Mpumalanga, oor die polisie se optrede ingehandig. “AfriForum oorweeg ook ʼn strafregtelike klag teen die polisie ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming vir growwe nalatige dienslewering,” het Cameron bygevoeg.

Brig. Selvy Mohlala, ʼn woordvoerder van die polisie, het gesê die saak en die bewerings word ondersoek. “Ons kan in die stadium bevestig dat die polisie Saterdag op die toneel was. Die verdagte was toe reeds weg,” het Mohlala aan Maroela Media gesê. “Die man is teen Dinsdag nog nie in hegtenis geneem nie. Ons versoek die gemeenskap dat hulle die polisie sal skakel sodra hulle die verdagte weer sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

anet ·

Die Polisie is te oorgewig en onfiks om enige iemand agterna te sit. Die bang storie is maar net om wol oor die oe te trek, hulle was seker besig met hulle eie persoonlike ontspanning.Hulle het eers 4 ure leter opgedaag, en nou wil hulle dadelik gebel word as iemand die verdagte gewaar, te lui om hulle werk te doen, en vra die publiek se hulp. Waar is die manne wat nog regte Polisiemanne is?

Paplepel ·

4 Ure is vinnig. Ek was, op ‘n Maandagmiddag, by ‘n motorhawe in Honeydew jare gelede toe die Polisie daar opdaag met wapens in die hand en skreeuende remme. Toe die verbaasde eienaar uistap om hulle te ontmoet wil hulle hom sommer gryp. Hulle verduidelik hulle het ‘n oproep ontvang dat iemand besig is om die motorhawe te beroof. Sy antwoord het my hardop laat lag. “Ja Sersant, hulle het my beroof, maar dit was reeds Vrydag oggend!

Theresa ·

Te bang. Dis nou die nuutste. Sê eerder te blerrie lui om hulle werk te doen. Dit was seker in hulle teatime of lunchtyd.

Marietjie ·

‘n Bang Polisiebeampte – regtig? Dan moet hy maar vir hom ‘n ander loopbaan gekies het.

pop ·

Die voertuie was seker onbeskikbaar. Hier by ons word die vangwa gebruik vir skoolkinders, taxi vir die vrouens, om take aways te gaan haal by Steers, en dan naweke word vriende aangery na partytjies. Ons het al fotos geneem ens. maar daar kom niks van nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.