Sewe in hof oor beweerde ontvoering, moord

Argieffoto: Kent Williamson

Drie boere en vier plaaswerkers het Dinsdag in die Vryburg-landdroshof in Noordwes verskyn in verband met die beweerde moord op Ben Molwele (56).

Frederik Theodorus Scholtz (59) en sy twee seuns, Frederik Theodorus Scholtz Jnr (26) en Christo Scholtz (24), het saam met vier plaaswerkers, Daniel Thameng (21), Moholo Katlego (29), Thamene Abel Phogisho (29) en Modisaotsile Links (26) in die hof verskyn.

Die sewe word aangekla in verband met ʼn voorval waartydens Molwele verdwyn het ná hy glo ontvoer is, het kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, gesê.

Molwele se familie het hom op 17 Januarie 2019 by Stella-polisiestasie as vermis aangemeld.

“Volgens die inligting wat ontvang is, het plaaswerkers Molwele en twee ander persone agternagesit ná hulle in ʼn stoorkamer betrap is. Na bewering is boere ontbied toe Molwele gevang is. Daar word ook beweer dat Molwele aangerand, in ʼn voertuig gelaai en langs die N18 afgelaai is,” het Myburgh bygevoeg.

Molwele se liggaam is Sondag, 10 Februarie 2019 omstreeks 10:00 langs die N18, ongeveer 20 km buite Stella, gevind ná ʼn grootskaalse soektog deur verskeie polisie-eenhede. “Beamptes het die beskuldigdes in hegtenis geneem kort ná Molwele se liggaam gevind is.”

Al die beskuldigdes bly in aanhouding, buiten Frederick Theodorus Scholtz (59), weens sy swak gesondheid. Hy moet weer op 15 Februarie saam met sy medebeskuldigdes in die hof verskyn.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het lede van die gemeenskap opnuut versoek om nie die reg in eie hande te neem nie.

[Red] Hierdie berig is aangepas sedert dit oorspronklik gepubliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Thinus Erasmus ·

Nog ‘n geval waar misdaad mense tot optrede noop, en dan word die gewone burgers as misdadigers vervolg.
Ek is baie jammer vir die mense, hul sal defnitief nie dieselfde simpatie van die staat ontvang as die gewilde en geliefde gewoonte misdadigers nie.

Adam ·

Verstommende logika. Indien dit toegelaat sou word dat landsburgers vermoor kon word indien dit vir die “regte” redes is, sal die helfte van SA binne ‘n dekade uitgewis wees. Dit sou veel meer gepas wees om misdaad universeel te verdoem, iets wat ons patetiese regering en mense met argumente soos joune klaarblyklik nie kan insien nie.

jakes ·

Adam, indien die oorledene wel skuldig was aan n misdaad verbeur hy sy reg om as n burger geken te word. Dieselfde geld vir die aangehoudenis, indien hulle die oorledene met opset vermoor het met die reg sy gang gaan. Mense is siek en sat vir misdaad want misdadigers beheer SA tans en die polisie kannie die mas opkom nie. As jy dink dat SA n veilige land is van melk en heuning dan leef jy in n droomwereld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.