Plafon by Brooklyn Mall stort ineen

Die plafon wat ineengestort het. Foto: @pieter6371 / Twitter

Die plafon wat ineengestort het. Foto: @pieter6371 / Twitter

ʼn Gedeelte van ʼn plafon by die gewilde Brooklyn Mall in die ooste van Pretoria het Donderdagoggend ineengestort.

Nicola van Kan, die winkelsentrum se bemarkingsbestuurder, het gesê die plafon het omstreeks 08:30 op die grondvloer by die Mugg & Bean en Musica ineengestort.

“ʼn Waterpyp van die brandbestrydingstelsel het tydens roetine instandhoudingswerk gebars,” het Van Kan gesê. “Dit het veroorsaak dat ʼn gedeelte van die plafon in die gemeenskaplike gebied in die gange ineengestort en die vloer oorstroom het.”

Sy het gesê die operasionele bestuurder en sy span het vinnig die omgewing beveilig en saam met skoonmakers en ʼn instandhoudingspan gewerk om te verseker dat besigheid kan voortgaan.

“Niemand is beseer nie, en geen verdere skade is aangerig nie,” het sy gesê.

Die situasie is onder beheer en bedrywighede by die sentrum gaan voort soos normaal.

Dit is die jongste van ʼn paar gevalle waar plafonne of dakke van winkelsentrums in die stad ineengestort het. Brooklyn Mall was in April 2002 ook in die nuus toe ʼn gedeelte van die dak in die Clicks-winkel op die tweede verdieping ingegee het. ʼn Bejaarde vrou is beseer.

ʼn Plafon in die Centurion Mall het in Desember 2014 ingegee. ʼn Vrou het geringe beserings opgedoen toe ʼn gedeelte van die puin op haar geval het.

In 2004 is ʼn ingenieur dood nadat ʼn betonblad by Centurion Mall se parkeergebied ineengestort en op hom geval het.

In Desember 2001 is sowat 50 mense beseer nadat ʼn gedeelte van die Kolonnade-winkelsentrum in die noorde van Pretoria ineengestort het.

Vier mense is in Oktober 1996 dood nadat ʼn vloer tydens die konstruksie van North Park Mall, ook in die noorde van Pretoria, meegegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.