Plakkers by lisensiekantoor groot kopseer

Foto: Verskaf

Dis nie ongewoon vir lede van die publiek om tussen ganse en hoenders in die tou te staan wanneer hulle die Tshwane-metro se Kameeldrift-lisensiekantoor besoek nie.

Sowat 60 gesinne woon al sedert 2004 op die terrein ná hulle deur die destydse ANC-administrasie tydelik daarheen verskuif is in afwagting op permanente behuising.

Hulle is aanvanklik in die aangrensende gemeenskapsaal gehuisves, maar 16 jaar later woon daar honderde mense op die terrein in tydelike strukture wat hulle self opgerig het. Die inwonergetalle het veral in die afgelope maande aangegroei omdat die mense wat oorspronklik daar afgelaai is nou blyplek verhuur aan ander, wat soos hulle ook skynbaar vergeefs op ʼn eie huis wag.

Foto’s wat deur ʼn lid van die publiek aan Maroela Media gestuur is, wys onder meer damme modderwater vol rommel by ʼn waterkraan agter die gebou. Die eerste plakkershutte is ʼn paar meter verder weg. In ʼn video kan sowat 15 kinders gesien word wat by die lisensiekantoor se ingang baljaar. Niemand dra maskers nie.

Foto: Verskaf

Freddie Pienaar wat die DA-raadslid in die wyk was voor Tshwane onder administrasie geplaas is, sê die mense woon in haglike omstandighede. Daar is nie wasgeriewe op die terrein nie en die inwoners het slegs toegang tot een spoeltoilet in die munisipale geboue en ʼn paar mobiele toilette wat met tye oorloop. “Grys water loop dikwels in die pad af,” sê hy.

Die groep het voorheen onwettig op ʼn stuk grond in die Sinoville-omgewing gewoon, maar is verskuif om plek vir ʼn winkelsentrum te maak. Hulle is by die munisipale terrein afgelaai omdat die ander informele nedersettings in die omgewing reeds oorvol was.

Pienaar probeer al sedert 2016 om amptenare van die Tshwane-metro sover te kry om die omstandighede by die munisipale kompleks aan te raak. “Tshwane moet vir die mense huise bou, maar die provinsie moet die grond aankoop en beskikbaar stel. Dít gebeur egter baie stadig,” sê hy.

Foto: Verskaf

ʼn DA-lid van die Gautengse wetgewer, Adriana Randall, het ook al herhaaldelik amptelike navrae gerig, maar Pienaar sê die antwoorde wat sy ontvang het, was tot dusver uiters vaag.

In 2017 het die destydse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, Paul Mashitile, geantwoord dat die voorlopige uitleg van die voorgestelde woonbuurt gedoen is en dat nog grond aangekoop sal word om ʼn verdere opeenhoping van mense te voorkom.

Mashitile se opvolger, Lebogang Maile, het in antwoord op Randall se vrae in 2019 gesê die departement is besig om die dorpsbeplanning te finaliseer.

Intussen is ʼn vergadering wat Tshwane se burgemeesterskomitee met die gemeenskap gehou het, ontwrig deur lede van ander informele nedersettings wat ook op behuising wag. Die R10 miljoen wat vir die dorpsontwikkeling se rioolaanleg begroot is, is ook reeds twee keer na ander meer dringende projekte oorgeskuif.

“Die grootste probleem is egter korrupsie,” sê Pienaar.

Maroela Media het verlede jaar berig oor grondtransaksies in die Tshwane-metro waar plase by middelmanne aangekoop is teen miljoene rande meer as wat die oorspronklike eienaar vir sy grond ontvang het. AfriForum se privaat ondersoekspan het die saak opgevolg, maar die munisipaliteit het onderneem om die beweerde korrupte transaksies te laat ondersoek. Tot dusver het geen verslag die lig gesien nie en sover vasgestel kon word, is daar ook nie teen amptenare opgetree wat met die onderhandelinge verbind word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Absoluut derde werelds. Unieke ANC regeringstyl. Afrika op sy beste. Teen die tempo waarteen die ANC gespuis die land aftakel en plunder is dit ons toekoms!!Vraag is: Hoekom aanvaar ons dit? Wat gaan ons doen?

Pieter

Dan wonder mense nog hoekom die Amerikaanse President hierdie plek ‘n spesiale “naam” gegee het

Persheks

Ons liewe regering het mos belowe hulle kry huise en als om stemme te werf. Hoop nie hul is WEER so dom waar hulle ‘n X trek met verkiesing nie. Dis nou te sê as hulle ooit wettig in die land is… 1 groot gemors hierdie.

Persheks

Gaan plak by regering se mense. Hulle het die leë beloftes gemaak…

Mariana

Kyk net hoe mooi kyk ANC na sy kiesers………en so lyo dit oral waar jy gaan. Als verander in ashoop, mense glo te maklik wat aan hulle opgedis word