Plakkers vasbeslote om terug te keer ná uitsetting

Foto: ANA

Foto: ANA

Onwettige plakkers wat Donderdag met geweld van ‘n stuk grond naby Danville, wes van Pretoria, verwyder is, het belowe hulle sal terugkeer sodra die polisie die gebied verlaat.

“Dit is nie verby nie. As die regering dink hulle het hierdie stryd gewen, bluf hulle net hulself. Ons kort ʼn tuiste in Suid-Afrika, die land van my voorvaders,” het een van die plakkers gesê. Hy het homself slegs as Mokoena geïdentifiseer.

“Ons is bereid om te sterf vir hierdie grond. Dit is die plek waar ons ons kinders sal grootmaak. Ons gee nie om wie die grond besit nie. Ons kinders kort ʼn tuiste.”

Die polisie en Rooimiere het Donderdag op die grond toegesak en die plakkers verwyder. Die plakkers het laat spaander nadat waterkanonne gebruik is om hulle te verdryf. Mandla Nkomo, die nuutverkose LUR vir behuising en menslike nedersettings in Tshwane, het gesê hulle probeer steeds bepaal aan wie die grond behoort. “Sodra ons al die feite het, sal ons weet wat hierna gaan gebeur,” het Nkomo gesê.

Van die plakkers het belowe dat hulle sal terugkeer en weer hul plakkershutte sal begin opslaan sodra die polisie die gebied verlaat. Paaie rondom die gebied is gister afgesper met groot klippe en bande wat aan die brand gesteek is.

Foto: ANA

Foto: ANA

Volgens die plakkers het swaargewapende polisiebeamptes opgedaag en ʼn hofinterdik aan hulle gewys. Daar is vir hulle gesê dat die grond deur die eiendom-ontwikkelingsmaatskappy Cosmopolitan gekoop is en dat huise daar gebou gaan word. Kort daarna het skermutselinge tussen die polisie en die plakkers uitgebreek en Regslui vir Menseregte (LHR) het ʼn span na die gebied gestuur om regsdienste aan die plakkers te lewer.

Louise du Plessis, die verteenwoordiger van LHR, het gesê hulle wil bepaal wat die feite is wat aan die hof voorgelê is. “As mense al van verlede Maandag af die grond begin beset het, moes Cosmopolitan vir ʼn dringende interdik aansoek gedoen het en nie net ʼn interdik nie. Dikwels doen partye eerder vir ʼn interdik aansoek om die streng vereistes van die Wet op Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting te vermy,” het Du Plessis gesê.

“Ons bevraagteken die hoeveelheid geweld wat veiligheidsmaatskappye gebruik om grondbesetters te verwyder en voel dit is ʼn kwessie wat hof toe moet gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Potlood ·

Ja ne, so bou ons ‘n trotse nase met regverdige norme… vat, vat, vat en soek….

Peter ·

Wat van die grondeienaar/s se regte? Moet hulle nou maar net toegee en hul belegging giedsmoeds weggee? Hoe sal al die menseregte kommisie lede voel as daar op hul grond geplak word? Gaan hulle dit summier net aanvaar? Gaan plak op die glorieryke nkandla-kraal se grond! Dit behoort aan alke Suid Afrikaners…..dis met hul geld gebou

Theresa ·

Die regering en munisipaliteite sal SAAM teen hierdie onding moet staan. Die weermag sal moet ingryp as die polisie te min is. Stuur al die plakkers na Nkandla. Lekker groot stuk grond en as mnr die president dan nie daarvan hou nie – waarom moet al die ander mense in die land dit sluk en duld dat hierdie belhamels net plak waar hul wil. Al die jare kon niemand ‘n huis hê as jy dit nie kan bekostig nie. Laat hul woonstelletjies gaan huur soos ons almal moes toe ons nog nie huis kon koop nie. Alla mapstieks. Sulke blatante parasitisme is onaanvaarbaar en moet hul dit nou vir eens en vir altyd aan die verstand gebring word. Sies vir die sypaaie vol sittende niksdoeners en die vuil omgewings omdat mense doen net wat hul wil. Hier is ‘n ernstige stuk werk waarmee die verskeie partye kan saamwerk om te wys hul gee om vir hul belastingbetalers.

KarooKlong ·

Ek dink my IK is besig om te daal want ek kan nie verstaan hoe hierdie siele dink nie.

Lance ·

Wetteloosheid die nuwe norm vir SA …as jy nie saamstem met die wet maak soos jy op universiteit geleer het …..alles is verniet ….as jy nie happy is oor iets brand breek verniet tot jy kry wat jy wil he …tragies !

Grap ·

Beteken dit ek kan ook die park in my woongebied omhein en beslag lê op wat se die du Plessis persoon hiervan??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.