Plakkershuis-brande eis lewens

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat ʼn man Donderdagoggend vroeg in sy plakkershuis in Lenasia verkool het.

“Sy plakkershuis is aan die brand gesteek en dit wil voorkom of sy deur van buite versper is sodat hy nie kon ontsnap nie,” het ao Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê. “Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en brandstigting.” Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Intussen het die Johannesburgse nooddienste gesê twee mense is dood en verskeie beseer in verskillende brande by informele nedersettings in Johannesburg oorlede.

“ʼn Man is dood en nog een beseer toe ʼn brand Donderdagoggend omstreeks 03:00 by hul plakkershuis in George Gogh informele nedersetting uitgebreek het,” het Robert Mulaudzi, woordvoerder van die nooddienste, gesê. “Die beseerde man is op die toneel behandel vir geringe brandwonde en daarna na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.” Volgens Mulaudzi het die tweede persoon moontlik gesterf weens rookinaseming.

ʼn Man in sy 30’s is in Lenesia Hospital East oorlede weens rookinaseming toe sy plakkershuis begin brand het. “Die oorsaak van die brand is vermoedelik ʼn paraffienstofie wat omgeval het,” het Mulaudzi verduidelik.

Nog ʼn persoon word vir geringe brandwonde behandel nadat ʼn brand by sy plakkershuis in Lion Park uitgebreek het. Hy is hospitaal toe geneem vir verdere mediese behandeling.

Een persoon is ook in Diepsloot vir ernstige brandwonde behandel na nóg ʼn brand by ʼn plakkershuis. Die persoon is na Thembisa-hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.