Plan gemaak met Comair-passasiers

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Comair, wat British Airways en Kulula.com in Suid-Afrika bedryf, het ʼn ooreenkoms aangegaan sodat al die passasiers wat vandeesweek met British Airways sou vlieg, nou van Airlink se dienste gebruik kan maak.

Kulula.com het ook onderneem om so gou moontlik geaffekteerde vliegtuigkaartjiehouers terug te betaal.

Chaos het verlede week op lughawens uitgebreek toe Comair, wat sedert 2020 in sakeredding is, aangekondig het dat hy sy geskeduleerde vlugte in afwagting op nog finansiering moet opskort.

Comair meen hy doen alles moontlik om die ontwrigting vir passasiers te verminder.

“Kliënte van British Airways wat deur die tydelike opskorting van Comair-dienste geraak word, het die opsie om by Airlink ʼn vlug te bespreek, onderhewig aan beskikbaarheid,” sê die lugdiens.

Volgens Comair kan hierdie bespreking teen geen addisionele koste gedoen word en is dit van toepassing op diegene wat ʼn geldige British Airways-vliegtuigkaartjie het en tussen 7 en 12 Junie sou reis.

“British Airways het ook gereël dat enige van sy internasionale kliënte wat binnelandse aansluitingsvlugte by Comair bespreek het, op vlugte van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) geakkommodeer sal word.”

Kliënte wat hul vliegtuigkaartjies wil herskeduleer kan die British Airways International- belsentrum skakel by 010 344 0130.

Intussen het Kulula.com bevestig dat enige kliënte wat kaartjies op sy uitverkoping bespreek het voordat sy vlugte opgeskort is, teen die einde van die week terugbetaal sal word.

“Ons verstaan dat daar ʼn negatiewe persepsie geskep is deur die Kulula-kaartjieverkope wat ʼn week voor die opskorting plaasgevind het,” sê Glenn Orsmond, uitvoerende hoof van Comair.

“Met inagneming dat Comair eers dié geld ontvang sodra die vlugte onderneem is, het ons met ons bankiers ooreengekom om die geld aan ons kliënte terug te betaal. Hierdie terugbetalingsproses sal onmiddellik begin.”

Hy het bygevoeg dat Comair ook die Travel Bank-krediete wat in Junie sou verval, met ʼn maand verleng het.

Kulula.com-kliënte wat deur die opgeskorte vlugte geraak is, het die opsie om ʼn Travel Bank-krediet te kry of om ʼn volle terugbetaling van hul kaartjiewaarde te versoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hayntjie ·

Eerlike en opregte planne van privaat lugdiens met integriteit. Hoeveel meer as SAL wat met die begin van Covid internasionale dienste opgeskort het en steeds nie enige vergoeding van welke aard ookal vir die duur vlieg kaartjies aangebied het nie. Skande SAL.

JohanR ·

Terwyl die ANC aan bewind is sal ek nooit weer my voete op ‘n SAL vliegtuig sit nie. Selfs Ethiopian Lugdiens het nou ‘n beter reputasie as SAL. Heng miskien het Air Zimbabwe nou ‘n beter reputasie!

JohanR ·

Vandag Kaap tot Lanseria gevlieg met Safair. Daai vliegtuig was stampvol. Dankie vir Safair wat nog vlieg, maar dink die rede dat hulle nog vlieg, en anders nie, is dat hulle is privaat en goed bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.