Plan om kampusgeweld te stop

tuks

Een van die studente wat Maandag op die Tuks-kampus met ‘n onbekende voorwerp gegooi is. Foto: Facebook

AfriForum het Vrydag ʼn aanlyn-veldtog van stapel gestuur vir ouers van studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat sterk standpunt teen die ontwrigting van die akademiese programme op die twee kampusse wil inneem.

Dit volg nadat verskeie ouers die burgerregte-organisasie genader het met kommer oor die invloed van die ontwrigting en sluiting van die kampusse op hul kinders se studie en toekoms.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, kan ouers aanlyn op AfriForum se webwerf ʼn brief onderteken wat hul kommer verwoord en wat deur AfriForum aan die besture van die onderskeie universiteite deurgegee sal word.

“In die brief eis ouers dat die universiteitsbestuur alle moontlike stappe doen om te sorg dat stabiliteit so gou moontlik op die kampusse herstel word en dat die normale akademiese program hervat word,” het Bailey gesê. “Hulle eis verder dat die veiligheid van hul kinders op die kampusse en in studentebehuising gewaarborg word.”

Bailey het gesê indien die klastyd wat weens die studenteprotes verlore geraak het, nie op ’n billike wyse ingehaal word nie, gee die ouers verder aan AfriForum ʼn mandaat om namens hulle regsadvies in te win – sonder enige koste-implikasie vir die ouers – oor die moontlikheid van ʼn klas-aksie om die studiegeld wat vergeefs betaal is van die verantwoordelikes terug te eis.

Bailey noem dat AfriForum en die ouers met dank kennis dra van universiteitsbesture se verklarings dat strenger beheer op kampusse toegepas gaan word.

“Ons het egter nou al meer as ʼn jaar lank met die aanhoudende ontwrigting van akademiese programme deur klein groepies anargiste op verskeie kampusse deur die land te kampe. Ouers se vertroue is geskaad en hulle wil hul frustrasie aan die besture oordra. AfriForum staan hulle in dié verband by, veral by die twee kampusse wat steeds gesluit is. Dit sal tyd neem om weer die verhoudings te herstel.”

Ouers sonder toegang tot die internet kan hul steun toon deur ʼn SMS met hul naam en die naam van die universiteit waar hul kinders studeer na 45268 te stuur. SMS’e kos R1 elk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

hans ·

Deel nie die optimisme nie. Die universiteit het al lankal n interdik gehad om die weldadigheid te stuit maar dit is nie benut om orde te herstel. Polisie staan gewoonlik net en kyk en tree selde daadwerklik op.

ertjie ·

Die eerste stap moet wees om hierdie primitiewe gedrag as terreurdade te verklaar. Dit is niks anders as terrorisme nie. Die definisie van terrorisme is “die gebruik van geweld en intimidasie om politieke doelwitte te bewerkstellig”.

anna ·

Ja dit is terrorisme. Trek af en plak toe. Wys die wereld ons is ‘n land wat terrorisme goedkeur!!
Publiseer dit asb wereldwys en kyk hoedat dit afgaan!!!

Cina ·

Ek het nie ‘n kind op Universiteit nie nie maar my Broer se seun is by die Universiteit van die Vrystaat kan ek ook die brief teken. Sy motor is beskadig Maandag aand plus hy is uit die koshuis gesit (Vishuis) en hyself is met voorwerpe gegooi.

Sarel Strydom ·

Asseblief iemand moet antwoord kry. UV = Kontrakwerkers ontwrig alles,studente wat wil studier se studies word belemmer, eiendom word beskadig, sportmense word aangerand. Wat gebeur= die mense word eenvoudig vrygelaat en gaan weer begin werk asof niks gebeur het nie. iemand moet antwoord hoekom daar nie teen geweldenaars opgetree word nie maar hulle soos onskuldige babatjies behandel word. Klink meer of Universiteitsowerhede kop in een mus is. Asseblief, iemand moet verduidelik hoekom onskuldiges weereens die prys moet betaal en geweldenaars vry kom.

Johannes Meintjes ·

Die onrus op die vlak van universiteite is myns insiens ‘n oorkook simptoom van baie groter sosio-politiese en sosio-ekonomiese probleme in SA. Hoewel hierdie onaanvaarbare gedragspatrone van onluste, ontwrigting en vernietiging op die universiteitspersele summier hok geslaan moet word (ook omrede ons ywerige en op betaalde studente nie die gerieflike slaansakke van swak leierskap en ongure elemente in die samelewing in SA mag wees nie ) moet daar dringend aan die ordelike, verantwoordelike en volhoubare regering van SA, op alle vlakke en terreine, aandag gegee word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.