Plan om tonne chemikalieë aan Weskus te stort

Verskeie partye werk steeds daaraan om die skip se vrag veilig te bestuur. (Foto: Verskaf)

Sowat 1 500 ton chemikalieë aan boord van ʼn skip wat aan die Weskus voor anker gelê is, sal binne die volgende twee maande in die see gestort word. Dit volg nadat die einste vaartuig noodgedwonge in Oktober verlede jaar die Durban-hawe moes verlaat toe dit giftige uitlaatgasse begin vrystel het.

Die tipe chemikalieë wat gestort gaan word, is skynbaar nie gevaarlik nie.

Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) het Donderdag gesê hy het ʼn noodstortingspermit van die departement van bosbou, visserye en omgewing verkry om die vrag chemikalieë in die see te stort.

“Die vrag sal ongeveer 250 km van die kus van St. Helenabaai gestort word in water meer as 3 km diep,” sê die owerheid.

Die betrokke skip, NS Qingdao, is verlede jaar uit Durban laat verwyder nadat sy vrag ʼn chemiese reaksie gehad het en giftige uitlaatgasse in die atmosfeer vrygestel het.

Die skip is met behulp van spesialistoerusting na St. Helenabaai begelei, sodat dit sy luike weg van die land af kon ventileer.

Samsa het egter destyds burgers verseker dat die uitlaatgasse nie ʼn onmiddellike bedreiging vir die mariene omgewing of vir mense inhou nie.

‘n Infrarooi foto van die vrag. (Foto: Verskaf)

Sedertdien is meer as 1 000 ton van die reaktiewe vrag chemikalieë uit die vaartuig verwyder. Die oorblywende chemikalieë sal teen 15 Maart gestort word.

Die hele stortingsoperasie sal na verwagting teen 25 Maart afgehandel wees, waarna die skip na die naaste hawe sal terugkeer.

Samsa sê die stortingsoperasie kan moontlik vertraag word omdat dit van die weer afhanklik is en die hoogste vlakke van veiligheidstandaarde regdeur die operasies gehandhaaf moet word.

Die chemikalieë wat gestort gaan word bestaan uit ʼn mengsel van natriummetabisulfiet, magnesiumnitraat-heksahidraat, byt-gekalsineerde magnesiet, elektrodepasta, monoammoniumfosfaat, ystersulfaatmonohidraat, sinksulfaatmonohidraat, dikalsiumfosfaat, watervrye natriumsulfiet en kalsiumchloried.

“Die vaartuig het geen duidelike strukturele skade nie, maar struktuurspesialiste sal ʼn assessering doen om te verseker dat die integriteit van die vaartuig ongeskonde is voordat dit toegelaat word om voort te vaar na die volgende bestemming,” sê Samsa.

“Die sleepboot Umkhuseli sal ook voortgaan om bystand aan NS Qingdao te bied.”

ʼn Ondersoek is intussen van stapel gestuur om die oorsaak van die vrystelling van die giftige gasse in Durban te bepaal.

“Die eienaars, versekering en bemanningslede werk steeds saam met owerhede om die aangeleentheid te bestuur,” sê Samsa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Laat die boot na sy land van herkoms terugvaar en die gemors daar strooi.

Diline

Glo nie ‘n woord hiervan dat hierdie chemikalieë nie gevaarlik is nie. Die klomp is mos nie gepla as die natuur verwoes word nie, als gaan net oor geld!

Feite

NIE GEVAARLIK NIE?

My Voet. Geldgierige idiote.

Samuel

Samsa is ‘n uiters verantwoordelike organisasie. Ek ken die organisasie en van sy top amptenare baie goed. Die meeste mense is maritieme kenners. Nie almal is skurke nie.

Delia

As die chemikaliee giftige gasse vrylaat en dus uit n vorige hawe gesit is hoe is die chemikaliee Dan nie giftig.