Plan vir Kaapstad se onvoltooide hoofweë kry momentum

ʼn Kunstenaarvoorstelling van die ontwikkeling in Kaapstad se middestad (Foto: Verskaf)

Die Stad Kaapstad het ʼn voorlopige bieër vir die ontwikkeling van die Roggebaai-gebied in die middestad aangewys wat beoog om die onvoltooide hoofweë in die middestad te voltooi en verder ook behuising in die gebied op te rig.

Luidens ʼn verklaring van die Kaapstad-metro is die eerste fase van die evalueringsproses afgehandel nadat sewe bieërs vroeër voorstelle aan die stad gemaak het.

Volgens die stad is Mitchell Du Plessis Associates (MDA) as die voorlopige bieër vir dié ontwikkeling aangewys.

MDA se voorstel vir ontwikkeling behels onder meer gedetailleerde voorstelle oor die voltooiing van die hoofweë wat die verbindings van en na die Helen Suzman-boulevard en die verbindings van en na die N1- en N2-snelweë insluit.

ʼn Kunstenaarvoorstelling van die ontwikkeling in Kaapstad se middestad (Foto: Verskaf)

Daarbenewens het die maatskappy ook die ontwikkeling van ongeveer 3 200 “markverwante” wooneenhede en sowat 450 bekostigbare wooneenhede in sy voorlegging ingesluit.

Volgens die ontwikkelingsplan word daar beoog dat dié wooneenhede in 11 nuwe wolkekrabbers verdeel sal word wat onder meer 63 m, 123 m en 143 m hoog sal wees – glo ook met uitsigte oor Tafelberg, die see en die hawe.

Ontwikkeling sal hoofsaaklik in die Roggebaai-gebied plaasvind en onder meer Gallows Hill-verkeersentrum, die parkeerterrein van die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum en die MyCiTi-busdepot in Prestwichstraat insluit.

ʼn Kunstenaarvoorstelling van die ontwikkeling in Kaapstad se middestad (Foto: Verskaf)

Die Kaapstad-metro het gesê ʼn belangrike faktor om oor dié voorstel in ag te neem is onder meer dat MDA beoog om omgewingsvriendelik te wees en ook die stad se watertekort in gedagte hou. Die maatskappy het glo ook ʼn plan voorgestel om water en boumateriaal te herwin.

Die ontwikkelingsproses sal glo sowat R8,3 miljard kos, wat alle ontwikkeling insluit. Die projek sal so gou as 2020 begin as die tweede fase van die ontwikkeling suksesvol afgehandel word.

Die tender vir die ontwikkeling sal egter eers finaal toegeken word nadat die Kaapstad-metroraad se onderhandelings met MDA voltooi is en fase twee van die ontwikkeling – die finansiering van die projek – uitgeklaar is.

MDA sal grootliks verantwoordelik wees vir die meeste kostes wat met die ontwikkeling verband hou deur onder meer beleggers by die projek te betrek. Die maatskappy beoog verder om die projek te finansier met behulp van luukse wooneenhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PJC ·

As hierdie paaie voltooi word behoort dit nogal ń verskil in die verkeersvloei te maak. Die onvoltooide strukture is ook ń seer oog vir die stad.

Red Kaapstad ·

Vergeet van hoofweë en maak nie plan met die waterkrisis. Daardie 8.5 miljard kan baie water koop

jaco ·

Mitchell du Plessis Associates: die naam klink baie wit. Waar is die BEE en regstellende aksie dan nou?
Toe die Kaapse Stadsraad ‘n groot maar relatief goedkoop ontsoutingstender moes oorweeg (dit sou al die waterprobleme oplos), is dit summier afgeskiet weens te min BEE en te min regstellende aksie. So as die “regte”velkleur om die werk te doen nie gekry word nie, moet die werk maar nou eerder stilstaan en mense swaarkry van die dors,
Lekker dubbele standaarde en dit nogal van ‘n DA beheerde stadsraad…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.