Planne gemaak vir kankerpasiënte by Charlotte Maxeke-hospitaal

Groot skade is aangerig tydens ‘n brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg (April 2021) (Foto: Twitter)

Die Gautengse departement van gesondheid sê hy het verskeie maatreëls in plek gestel om dienslewering te verbeter en wagtyd vir onkologiedienste vir kankerpasiënte by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg te verminder.

“Die hospitaal het ʼn ooreenkoms met die Steve Biko- akademiese hospitaal in Tshwane om onder andere pasiënte te behandel wat bragiterapie benodig,” het Kwara Kekana, woordvoerder van die provinsiale LUR vir gesondheid, in ʼn verklaring gesê.

Daar is ook gesprekke met ʼn privaat hospitaalgroep om pasiënte by te staan wat tans op die waglys is.

Maroela Media het vroeër berig die Charlotte Maxeke-hospitaal is op 17 April gesluit nadat ʼn brand langer as ʼn dag daar gewoed en groot skade aangerig het. Meer as 800 pasiënte is na 17 ander mediese fasiliteite reg oor Gauteng oorgeplaas. Die brand het op 15 April in ʼn apteek se pakkamer uitgebreek en byna 12 uur lank gewoed voordat brandbestryders dit in bedwang gebring het.

“Daar is ook planne om ʼn radioterapie-eenheid op te stel by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal wat moontlik ook die lading van die Charlotte Maxeke-hospitaal sal verlig,” het Kekana bygevoeg.

Die departement beplan ook om radioterapeute en bestralingsonkoloë te nooi om by die staatsdiens aan te sluit. “Verskeie strategieë word ook ondersoek om personeelbehouding te verbeter – dit sluit in ʼn hersiening van salarisse en om ander kwessies te takel.”

Volgens Kekana is daar beter samewerking tussen die akademiese hospitale om pasiënte, wat op die Charlotte Maxeke-hospitaal se waglys is, by ander fasiliteite by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.