Planne om dodelike kruising op Oudtshoorn te pak

Tientalle ongelukke is al die afgelope paar jaar by dié kruising in Oudtshoorn aangemeld (Foto: Greater Oudtshoorn Municipality, Facebook)

Die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit in die Wes-Kaap het ʼn ondersoek van stapel gestuur in ʼn poging om ongelukke by ʼn berugte kruising op die dorp te verminder. Tientalle ernstige ongelukke is die afgelope paar jaar by die Baron van Reede- en Van der Rietstraat-kruising aangemeld.

Die munisipaliteit het ʼn ingenieursmaatskappy opdrag gegee om ʼn omvattende verkeersimpakstudie by die kruising te doen. ʼn Verslag wat na aanleiding van die studie saamgestel is, is op 22 Julie aan die munisipaliteit oorhandig.

Luidens die verslag kan verkeersligte, ʼn mini-sirkel óf sirkel vir die kruising nie oorweeg word nie.

“Verkeersligte of ʼn mini-sirkel is nie ’n opsie nie omdat die kruising nie aan die nasionale verkeerstandaarde voldoen vir verkeersligte of mini-sirkels nie,” lui die verslag.

Terwyl die voertuig- en verkeerstellings nie hoog genoeg is vir verkeersligte nie, bepaal die nasionale standaarde dat mini-sirkels slegs op stedelike klas 4- en 5-paaie gebruik mag word en dié spesifieke kruising is op klas 3-paaie (Baron van Reede en Van der Riet) geleë.

Volgens die verslag sal ’n gewone verkeersirkel ook nie geskik wees nie, omdat daar te min ruimte beskikbaar is.

Die verslag lui dat die grootste probleem by die kruising toegeskryf kan word aan die sigafstand; motoriste se sig word deur geboue of bome belemmer.

Die maatskappy stel voor dat die versperrings verwyder word en die kruising fyn dopgehou moet word.

“Die munisipaliteit moet ook die verkeersdepartement aanmoedig om inligting oor ongelukke, veral die oorsaak en presiese ligging, in te samel. Die nodige wetstoepassing moet ook ten alle tye op die paaie gedoen word.”

Justin Lesch, direkteur van infrastruktuur by die munisipaliteit, sê hoewel ʼn gebou byvoorbeeld nie net gesloop kan word nie, het die munisipaliteit se ingenieurspan na ander moontlike oplossings gekyk, onder meer baanvernouing. Die provinsiale regering het dit egter nie goedgekeur nie.

Lesch sê dat die provinsie aangedui het dat indien die sigafstande nie eers gepak word nie (en dit sluit die verwydering van bome in), die provinsie nie ander opsies sal oorweeg nie.

Die munisipaliteit beoog om nou met ʼn openbaredeelnameproses te begin om verder na oplossings te soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Koos 100 ·

Word ‘n maatskappy aangestel om te doen wat my eerste reaksie was! WETSTOEPASSING!!!!!!
Daai strukture is ook mos die munisipaliteit se verantwoordelikheid en hulle kan mos self sien dat daar sig belemmer word.

Roek ·

Stem 100% saam , geen wetstoepassing, geen dissepliene, dit moet net nie die deur oopmaak vir “Cash fines” nie .

B-Man ·

Munisipale bywette sal ook sekerlik bepaal wat is die padverlofreg. Alle verbeteringe wat binne die pad se grens val moet summier verwyder word. Owerhede kan ook oorweeg om ‘n verbypad om Oudtshoorn te bou sodat verkeer wat nie Oudtshoorn as bestemming het nie die dorp kan vermy (soos swaar voertuie). Publieke vervoer kan ook verbeter word met doelgerigte lane vir busse, mini-busse of trêms (maar dit is iets wat nog nie met groot sukses in RSA kon toegepas word nie – meestal omdat ons ook nie behoorlike wetstoepassing het nie).

Racheltjie Debeer ·

Al gehoor van ‘n 4-rigting stopstraat en behoorlike wetstoepassing? Hul kan ook spoedhobbels oorweeg.

Boatsie ·

Racheltjie as jy die voorstel gaan indien gaan hul jou verseker indiens neem.
Het hul nie ‘n ou op daai kommitee gehad wat aan soiets kon dink nie?

Eclectus ·

Agie wat ek is het ek gaan Google “street view”. Vierrigting stop met hobbels by die stop of met die kruising area gelig. Dis mos in elk geval nie besig genoeg vir ‘n verkeerslig nie.

Andrew ·

Laat ek dit reg verstaan. Die stadsraad weet nie wat om te doen nie. Betaal vir n impak studie wat sê hulle weet ook nie wat om te doen nie so nou moet daar nog geldbetaal word om inligting in te samel van die publiek oor hoe om die probleem op te los. Nee goed, na al daai geld hulle het n plan, die plan is om n plan te maak.

Pampoenboer ·

Hulle kan soek na oplossing vir probleem tot hulle blou in gesig is. Die probleem is Oudtshoorn se mense stop by geen stop straat nie. Kry eers die motoriste om verkeersreels te volg dan is die probleem veel minder. Paraboliese spieels kan ook sig verbeter maar munisipaliteit luister nie na voorstlle nie

Waarnemer ·

Spoedhobbels op die stopstrepe en 5 meter weg van die stopstrepe in al vier rigtings en julle problre. Is opgelos sonder enige impakstudies en bome wat verwyder moet word en dan baie belangrik…..verseker dat julle verkeersdepartement GEEN korrupte beamptes het nie.Moet nie n lid van die aenc as beampte aanstel nje want hulle is deur die bank korrup.

minniemuis ·

By Sasolburg dieselfde probleem…hoeka waar Zak Van Niekerk verongeluk het…..ektra bane…spoed hobbles ….maar nog steeds groot ongelukke weekliks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.