Planne om SA burgers in buiteland makliker te laat stem

Foto: Maroela Media

Konsepwetgewing is by die parlement ingedien om dit makliker te maak vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon om in Suid-Afrikaanse verkiesings te stem.

Die wetgewing is vervat in ‘n private lede-wetsontwerp deur die adjunk hoofsweep van die DA, Mike Waters van Kempton Park.

Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland kan sedert 2004 op die nasionale stembrief stem, mits hulle die belangrikste Suid-Afrikaanse diplomatieke sending in die land waar hulle woonagtig is, vroegtydig laat weet dat hulle dit wil doen.

Dit het al daartoe gelei dat aangevoer word sulke Suid-Afrikaners se grondwetlike reg om te stem word ondermyn omdat hulle nie by die naaste Suid-Afrikaanse sending kan stem nie. ‘n Voorbeeld is dat alle stemme in Australië uitgebring moet word by die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Canberra.

Die voorstelle vervat in Waters se wetsontwerp is:

* Dat elke Suid-Afrikaner wat in die buiteland woon en oor ‘n Suid-Afrikaanse identiteitsdokument beskik, se reg om te stem, spesifiek gedefinieer word;
* Dat oorsese kiesers se stemdag oor ‘n naweek val;
* Dat kiesers oorsee die betrokke stemlokaal binne vyftien dae ná die afkondiging van die verkiesing in kennis stel dat hulle daar wil stem, sodat die stemlokaal weet hoeveel kiesers om te verwag;
* Dat kiesers oorsee ook op die provinsiale stembrief moet kan stem;
* Dat elke Suid-Afrikaanse ambassade, kommissariaat en konsulaat as stempunt sal dien; en
* Dat die senior diplomaat in elke gevolglike buitelandse stempunt die hoofstembeampte van daardie stempunt sal wees.

Die wetsontwerp sal nou deur die parlement se portefeuljekomitee oor binnelandse sake bespreek word voordat die Nasionale Vergadering en, indien nodig, die Nasionale Raad van Provinsies daaroor kan beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Ons is oor die 600km van Warsaw af waar ons moet stem. By die ambassade en om hulle te probeer in die hande kry telefonies of E Mail is tervergeefs. Hulle antwoord net nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Die Sopbeen verstaan alweer nie. Suid Afrikaners wat NIE in Suid Afrika woon nie, se “reg om te stem” moet beskerm word? Waarom? Hulle bly nie hier nie, en hulle bydrae tot die land, sy mense, die ekonomie, ens. is NUL. Waarom wil hulle “stem” in die politiekery wat hier bedryf word? Ek kan verstaan dat jy moontlik sal wil stem indien jy tydens die verskiesing oorsee is, vir bv besigheid……….maar die artikel sê duidelik hierdie gaan oor mense wat oorsee WOON en nog steeds SA burgerskap het? Wat’s die punt? Hierdie mense WOON nie meer hier nie……..waaroor wil hulle hier stem?

Mrs H ·

Jy moet en kan eerder vreeslik bly wees, dat dit toegelaat word. Vir baie logiese redes.

Gerhard ·

Jy kan die argument maak baie mense wat in SA woon maak geen bydra tot die land nie, waarom kan hulle stem?

Spyker ·

Gemaskerde Sopbeen….ek verstaan 100% wat jy se,maar ek woon in die buiteland en my hele familie in SA!glo my vry ek mis hulle elke dag soos jy nooit sal verstaan nie en wil net die beste he vir hulle!!!somtyds maak ons besluite wat beteken dat ons,onself elders vind,dit beteken geensins dat ons nie omgee nie.SA sal altyd my tuisland wees en ernstig waar ek verkondig openlik al die ……. wat aangaan in S.A.Los my om te besluit hoe ek voel oor stemmery in S.A. waar my familie woon en ek groot geword het op n harde afrikaanse manier.In elke geval ons moet saamstaan waar okal ons huidiglik is!!Ek kan soveel meer se oor hoe ons expats(walglike woord) voel en doen(verkondig) maar ons kan dalk moeilikheid maak.LAAT MY STEM WAAR EK WIL!!!!Alles van die beste vir julle en wees veilig!!…….steek sopas die vuurtjie aan vir boerewors vir brekvis….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.