Plantegroei, maroelas lok ollies na hoofpad   

Dié Olifant het een van die bewaarders se voertuie bestorm. (Foto: Skermgreep)

Geil plantegroei en sappige maroelabome kan moontlike redes wees waarom talle olifante die afgelope paar weke op die R40 naby Phalaborwa gewaar is. Die diere hou egter ʼn gevaar vir motoriste in en padgebruikers word gemaan om versigtig te wees.

Drie olifantbulle het juis weer Woensdagoggend op dié pad gedwaal, waar hulle verskeie voertuie bestorm het.

Wildbewaarders van onder meer die Phalaborwa-natuurerfenisstigting en die Balule- private wildreservaat, insluitend die Grietjie- private wildreservaat, werk die afgelope paar weke onverpoosd om die olifante van die pad af te kry. Hoewel die olifante nie uit dié reservate kom nie, word hulle na die reservate gejaag om die publiek te beskerm.

Ian Nowak, algemene bestuurder van Balule, sê Balule-wildbewaarders het drie keer in die afgelope paar weke op voorvalle gereageer en twee weke gelede soveel as agt olifante deur die Grietjie-hek gejaag om te verhoed dat die diere die publiek in gevaar stel.

Eugene Troskie, besturende direkteur van die Phalaborwa-natuurerfenisstigting, was Woensdag op die toneel en sy voertuig is self deur een van dié bulle gejaag. Hoewel dit ʼn doelbewuste taktiek van Troskie was om die olifant tot in ʼn reservaat en van die pad af te kry, moet dit ook as waarskuwing aan ander motoriste en padgebruikers dien dat olifante gevaarlik is, en nie gekonfronteer moet word nie, sê hy. Een van die olifante het Woensdagoggend ook ʼn wildbewaarder se bakkie beskadig.

Troskie sê dat die plantegroei en gras langs dié pad meer water kry en dus ook meer voedingswaarde het. Daar is ook meer om aan te peusel as in die omliggende reservate self, waar olifante en ander diere volop is. Dit is van die redes waarom die olifante na die R40 beweeg.

“Ons het natuurlik ook ʼn digte olifantbevolking in hierdie omgewing, so daar is maar druk op die olifante en dan beland hulle soms op plekke waar hulle nie moet wees nie.”

Hy sê die olifante wat die afgelope tyd op die R40 beland het, kom hoofsaaklik deur die Selati-rivier, en breek nie deur heinings van die omliggende reservate in die direkte omgewing nie.

ʼn Nuwe heining is ook tussen die myngebied en Balule opgerig om die olifante daar weg te hou, terwyl ʼn tweede heining ook tans noord van die beskermde reservate – in die Selati-omgewing –  opgerig word. Dit is egter nog nie voltooi nie, met die gevolg dat olifante steeds op die pad opeindig.

Ollies is mooi, maar gevaarlik

Hoewel olifante lieflike diere is en mense geneë is om só ʼn voorval af te neem, herinner Troskie mense daaraan dat olifante gevaarlike diere is en dat hierdie situasie risiko’s vir enige padgebruiker inhou.

“Mense luister ongelukkig nie. Die dier is gevaarlik en boonop gespanne.

“Hou asseblief stil, draai om of beweeg weg. Luister na owerhede as hulle jou versoek om te wag of weg te beweeg, want dit kan baie gevaarlik wees en mense vererger die situasie dikwels verder.”

Vragmotors wat nie so maklik soos ligter voertuie kan omdraai nie, word versoek om net van die pad af te trek en stil te staan. ʼn Vragmotor is heelwat groter as ʼn olifant en die kans is dus skraal dat die dier die vragmotor sal aanval. Vragmotors kan ook as buffers vir kleiner voertuie dien.

Troskie sê mense moet egter nie verbaas wees om af en toe ʼn wilde dier in hierdie omgewing of op paaie in die gebied te sien nie – juis omdat daar so baie reservate is. Selfs die beste heinings kan nie altyd ʼn wilde dier binne hou nie.

Daar is juis om dié rede waarskuwingsborde op hierdie deel van die pad aangebring om te waarsku dat olifante moontlik op die pad kan voorkom.

“Verwag maar dat daar ʼn wilde dier op die pad kan wees, en wees versigtig.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.