Plasing van gesondheidswerkers afgehandel

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hush Naidoo Jade/Unsplash)

Die departement van gesondheid het Dinsdag gesê hy is klaar met die plasing van mediese interns en gemeenskapsdiensaansoekers vir 2024.

Dié aankondiging kom kort ná talle klagtes van junior dokters wat veronderstel is om op 1 Januarie vir diens aan te meld, maar teen 28 November nog geen benul gehad het van waar of in watter provinsie hulle geplaas gaan word nie.

Volgens die departement is alle suksesvolle kandidate egter nou in kennis gestel van hul plasings.

“Die departement het altesame 10 386 aansoeke op sy aanlyn aansoekstelsel ontvang,” het Foster Mohale, woordvoerder van die departement, in ʼn kort verklaring gesê.

Uit dié getal is 10 228 aansoekers Suid-Afrikaanse burgers en 158 buitelandse burgers. Die departement sê 9 395 aansoekers is nou suksesvol by fasiliteite in die land geplaas, onder wie mediese dokters, verpleegsters, aptekers en ander gesondheidswerkers.

“Die meerderheid poste is aan landelike en onderbediende gebiede toegeken om die filosofie van toegang tot universele gesondheidsorg te bevorder. Daarom word aansoekers aangemoedig om die poste te aanvaar wat aan hulle toegeken is, om die mense van Suid-Afrika te dien.”

Nog ʼn kopseer vir voornemende dokters is plasings by ander fasiliteite of in ander provinsies as dit waarvoor hulle aansoek gedoen het, wat ʼn beduidende uitwerking op hul persoonlike en familieverpligtinge het.

Die departement sê hoewel hy hard probeer het om aansoekers se voorkeure te akkommodeer, dit “onmoontlik was om elkeen volgens hul voorkeurgebied en provinsie te plaas”.

“Die toekenningsproses is uitgevoer in ooreenstemming met die toepaslike dienswette en -riglyne wat voorskryf dat kwalifiserende Suid-Afrikaanse burgers prioriteit geniet, gevolg deur permanente inwoners en dan buitelandse burgers wat hul loopbane in Suid-Afrika wil voortsit.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.