Platform vir voornemende pleegouers bekendgestel

hande-kind.jpg

Argieffoto

Solidariteit Helpende Hand het vandag ’n nasionale platform bekendgestel waar persone as potensiële pleegouers kan registreer.

Die organisasie beoog om die dringende behoefte aan pleegouers met behulp van hierdie platform te takel.

Helpende Hand kry gereeld met maatskaplike gevalle te doen en werk nou saam met maatskaplike organisasies soos die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en die Christelike Maatskaplike Raad (CMR). Dié organisasies ondervind ’n groot tekort aan pleegouers. Helpende Hand het daarom besluit om saam met hierdie organisasies ’n platform te skep om dié probleem aan te pak.

Volgens Isabel Faurie, maatskaplike werker by Helpende Hand, weet mense wat pleegouers wil word dikwels nie watter proses om te volg nie. Daarenteen het maatskaplike organisasies ’n dringende behoefte aan pleegouers, maar geen manier om hulle te identifiseer of te kontak nie. Helpende Hand se nuwe platform sal skakeling tussen die onderskeie partye bewerkstellig en vergemaklik. Die organisasie het egter geen statutêre magte nie en is nie by die keuring van pleegouers of die plasing van kinders in pleegsorg betrokke nie.

Volgens Annette van Loggerenberg, bestuurder van CMR-Noord, is daar landswyd ’n reusebehoefte aan pleegouers. Sy verduidelik dat CMR-Noord slegs dienste aan Gauteng, Noordwes en Limpopo lewer, maar dat daar in hierdie drie provinsies elke jaar ’n behoefte aan ongeveer 200 pleegouers is.

Verskeie faktore dra by tot die tekort aan pleegouers, insluitend die uitdagings wat met pleegsorg gepaardgaan. “Pleegsorg is ʼn groot verantwoordelikheid omdat pleegouers verantwoordelikheid aanvaar vir die daaglikse versorging van ander persone se biologiese kinders,” verduidelik Van Loggerenberg.

“Kinders wat by pleegouers geplaas word, is dikwels erg getraumatiseerd en hul moeilike gedrag stel hoë eise aan pleegouers. Weens emosionele en fisiese verwaarlosing het die kinders dikwels verskeie gesondheidsprobleme en kognitiewe agterstande.”

Maatskaplike organisasies bied ondersteuning aan pleegouers om die proses te vergemaklik. “CMR-Noord bied ʼn driedag-opleidingskursus aan potensiële pleegouers en gee ook vir hulle ʼn handleiding om hulle vir die uitdagings van pleegsorg voor te berei. Verdere ondersteuning word aan hulle gebied in die eerste paar maande nadat die kinders in hulle sorg geplaas is.”

Besoek www.pleegsorg.co.za om as pleegouer te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Drieks ·

Hierdie pleeg ouers moet as helde opgeteken word. Hul is tops. Dankie wat jul vir ‘n gebroke kinders doen.

Santjie ·

Ek is baie bly hulle het dit gedoen omdat die diens wat ons by CMR Linden kry ontoereikend is. Ons probeer nou al maande lank om hulle gesien te kry om die proses te begin. Die laaste keer het ons uiteindelik ‘n afspraak gekry en gelukkig bel ek voor ons ry om te bevestig net om te hoor die maatskaplike werker het twee dae se verlof gevat en nie beskikbaar is nie. Ek wag nou nog vir hulle om my terug te bel en dit is al meer as ‘n week later. Hopelik sal die platform nou help om ons aan die rol te sit.

Baie dankie Helpende Hand! Julle is wonderlik om hieraan te dink.

Eliza-beth ·

Santjie – ek bewonder mense soos jy wat ‘n verskril wil maak. Dis ‘n groot verantwoordelikheid, meer nog sou ek sê as met eie kinders wat met liefde en aandag grootword. Om ‘n gebroke kind in te neem… ek erken ruiterlik ek is te bang daarvoor. Ek het tonne liefde en altyd tyd om te gee, maar mens moet SO versigtig omgaan met so ‘n kindjie en sê nou ek sê of doen iets dalk net nie heeltemal reg nie, netnou maak ek dinge erger vir so kind. So ek bewonder sulkes maar is te versigtig om self betrokke te wil raak, oordeel my maar as jul wil. Ek dink mens moet BAIE goed toegerus wees vir so iets.

Santjie ·

Eliza-beth – baie dankie, maar ons verdien nie medaljes nie. Vir ons is dit ‘n roeping. Ek dink nie enige iemand kan en mag oordeel as mense nie daarvoor kans sien nie en ja, dit is baie moeilik. Ons ondersteun al vir baie jare ‘n kinderhuis en was vakansie ouers vir een van hulle kinders, nou wil ons op ‘n meer permanente basis vir ‘n kindjie ‘n beter kans in die lewe gee. Ek persoonlik dink die moeilikste gedeelte gaan wees as jy daardie kind moet teruggee as hulle maatskaplike situasie verander.

Ons het mense soos julle ook nodig, al is dit net met ‘n bemoedigende woord of ‘n geldelike bydrae aan ‘n instansie wat jy vertrou of selfs net jou tyd of hulp met bewusmaking van hulle pleidooi. Dit is nie die kinders se skuld dat hulle in so ‘n situasie beland het nie en ons het meer instansies soos Solidariteit nodig om die vaandel op te neem. Lekker aand vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.