Platinum-staking: Banke se steun versoek vir nie-stakers

Argieffoto

Argieffoto

Pligsgetroue werkers wat nie aan die uitgerekte staking in die platinumsektor deelneem nie, word nietemin negatief deur Amcu se staking geraak, het Solidariteit Dinsdag gesê.

Die vakbond het ʼn brief aan die vier grootste handelsbanke gerig waarin die banke versoek word om begrip te hê vir die finansiële verknorsing waarin nie-stakende werkers hulself tans bevind. Hoewel nie-stakende werkers steeds hul basiese salarisse ontvang, word alle gereelde produksiebonusse verbeur aangesien bedrywighede by die myne stilstaan.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê ʼn groot deel van die vergoeding van die meeste werkers in die platinumsektor bestaan uit gereelde maandelikse produksiebonusse. “Wanneer produksie by ʼn platinummyn opgeskort word, is dit dus nie net die stakende werkers wat inkomste verloor nie. Nie-stakende werkers verloor ook ʼn groot deel van hul inkomste en sukkel om hul finansiële verpligtinge na te kom, sonder dat hulle enigsins vir die situasie verantwoordelik is. Werknemers van maatskappye wat kontrakwerk by die platinummyne doen, is in baie gevalle reeds sonder enige inkomste nadat kontrakte beëindig is – dit ook sonder dat hulle gestaak het,” het Kruger gesê.

Volgens Kruger het die nie-stakende werkers tans ʼn kontantvloeiprobleem wat dit moeilik maak om alle krediteure te betaal – nie net lenings by banke nie, maar ook ander verpligtinge soos huurgeld vir woonhuise. “Solidariteit doen dus ʼn beroep op die Rustenburg-omgewing se banke en ander krediteure van nie-stakende platinummynwerkers om begrip daarvoor te hê dat hierdie werkers se huidige finansiële situasie nie deur hul eie toedoen veroorsaak is nie,” het Kruger vervolg.

Kruger sê Solidariteit het in 2009, toe die Pamodzi-myngroep nie sy werkers se salarisse betaal het nie, ʼn soortgelyke beroep op die banke gedoen. Die banke het ingestem om nie straffooie weens geweierde debietorders op die Pamodzi-werkers se rekeninge te hef nie. “Hierdie straffooie kan tot R138 per geleentheid beloop, en kan ʼn onbeperkte aantal keer per maand gehef word, wat vinnig tot duisende rande se straffooie kan oploop. Nie-stakende platinummynwerkers is in ʼn soortgelyke situasie, waar hierdie straffooie gehef word, selfs al is die kontantvloeiprobleem nie hulle skuld nie. Solidariteit doen dus weer ʼn beroep op die banke om nie-stakende werkers tegemoet te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.