“Diegene wat nie ‘n inkomste het nie ontvang kos by skuilings maar die diere ly honger,” sê Levy Ramalete, ‘n inspekteur by die DBV. “Mense het kos nodig maar wat van die diere wat nie vir hulself kan praat nie?”
Ramalete sê die probleem word vergroot deur die feit dat baie mense nie hulle diere laat steriliseer het nie. Hy sê die DBV het ‘n drastiese toename gesien in die aantal rondloperdiere in Rustenburg en Marikana. “Mense gooi hondjies in die veld dat hulle daar moet doodgaan.”
Ramalete sê hul taak word bemoeilik deur die feit dat hulle ‘n baie groot gebied bedien. Hy het ‘n beroep gedoen op mense om die DBV te kontak indien hulle nie meer vir hulle diere kan voorsien of sorg nie.
Christine Kuch, woordvoerder van die DBV, sê mense moenie skaam of bang wees om hul diere aan die DBV te oorhandig indien hulle nie meer vir hulle kan sorg nie. “Dit is die regte en edele ding om te doen en die verantwoordelike aksie om te neem.”
Kontak gerus die DBV in Rustenburg by 014 592 3181.