Platinumstaking eis sy tol op troeteldiere

Argieffoto Foto: petclubstores.com

Argieffoto Foto: petclubstores.com

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Dinsdag gesê mense in Rustenburg kan nie meer troeteldiere bekostig nie weens die voortslepende staking in die platinumbedryf.

“Wanneer mense nie meer ʼn inkomste het nie, kry hulle kos by die welsyn, maar die diere vergaan van die honger,” het Levy Ramalete, inspekteur van die DBV, gesê. “Mense het kos nodig, maar wat van diegene wat nie self kan praat nie?”

Die probleem word boonop vererger weens die feit dat talle mense nie hul diere steriliseer het nie. Ramalete sê die DBV het ʼn dramatiese toename in rondloperdiere in Rustenburg en Marikana opgemerk. “Mense gooi hul babahondjies in die veld sodat hulle daar moet vrek.”

Die grootte van die gebied maak dinge nog moeiliker vir die DBV om die diere te red. Hy versoek die publiek om die DBV te kontak indien hulle nie meer kan bekostig om hul troeteldiere te voer nie.

Christine Kuch, woordvoerder vir die nasionale raad van DBVs, het gesê mense moenie skaam of bang wees om hul diere aan die DBV te oorhandig indien hulle nie meer vir hulle kan sorg nie. “Dis die regte en verantwoordelike ding om te doen,” het sy gesê.

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Amplats en Implats in die platinumgordel. Hulle eis ʼn basiese maandelikse salaris van R12 500.

Volgens die webwerf Platinum Wage Negotiations wat deur die maatskappye opgestel is, het die werkgewers reeds meer as R21.9 miljard in inkomste verloor en die werknemers meer as R9.7 miljard. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

Jissie tog!! Nou moet die arme diere ly. Verdomde vakbonde…Wat gee die spul stakers om, HULLE kry mos kos maar die arme diere…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.