Platinumstaking: Helpende Hand kondig langtermynhulp vir nie-stakers aan

Foto: Helpende Hand

Foto: Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand het vandag bykomende aksieplanne aangekondig om langtermynondersteuning aan nie-stakers in die platinumgordel te verleen.

Helpende Hand sê sedert hy ongeveer sewe weke gelede die platinumgordel as ’n gedeeltelike rampgebied verklaar het, die organisasie meer as R2 miljoen se noodleniging in hierdie streek gelewer het.

Volgens dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, is die ontbinding van die ministeriële taakspan wat die platinumstaking wou oplos, ’n bewys dat daar nog geen lig aan die einde van hierdie donker tonnel is nie. “Benewens die feit dat hierdie staking die lewens van nie-stakers ingrypend bemoeilik het, is hierdie krisis nog ver van opgelos,” sê Brink. “Helpende Hand moet nou verseker dat ons volhoubare hulp wat ’n langtermynimpak sal hê, aan nie-stakers bied.”

Die hulp wat Helpende Hand aan nie-stakers sal bied, sluit in:

– Die stigting van die Rampgebied Beursfonds vir kinders van nie-stakers wat in 2015 by tersiêre instansies wil gaan studeer;
– Die opstel van CV’s en die soek van werk deur Helpende Hand se werksoekportaal www.werknet.co.za;
– Die uitbreiding van die aanbod van poste op die WerkNet-platform ten bate van diegene wat weens die staking ’n ander heenkome moet vind;
– Finansiële- en ander hulp om nie-stakers in ander velde op te lei en sodoende meer indiensneembaar te maak;
– Psigometriese toetse vir skoolgaande kinders van nie-stakers – veral vir graad 9’s, om korrekte vakkeuses vir 2015 te verseker;
– Volhoubare hulp aan die nege skole waar voedingskemas reeds ondersteun word;
– Volhoubare voeding aan gesinne;
– Onderhandelinge met banke oor agterstallige skuld van nie-stakers.

Helpende Hand sê hy het reeds self R100 000 in die Rampgebied-beursfonds gestort en moedig die publiek aan om ook ’n bydrae tot hierdie beursfonds te maak. Deur middel van hierdie beursfonds wil Helpende Hand probeer verhoed dat die impak van die staking tot by kinders deursyfer en hul toekomsvooruitsigte permanent belemmer.

“Dit is nou krities belangrik dat Helpende Hand op die voorkoming van armoede onder die kinders van nie-stakers moet fokus deur in hul akademiese toekoms te belê,” sê Brink. “’n Beursfonds sal ’n mate van beskerming bied teen die vernietigende impak van die staking op kinders.”

Helpende Hand het oor die afgelope sewe weke baie hulp van die publiek ontvang. Boere, individue en instansies van regoor die land skenk voedsel en ry tonne kos aan na die gebied, dikwels op eie onkoste. Brink sê dat daar tot dusver volledig aan die behoefte vir kos vir nie-stakers voldoen kon word, maar dat volgehoue hulp van die publiek nog vir ’n paar maande na die einde van die staking benodig gaan word.

“Ons is bekommerd dat die publiek die einde van die staking ook sal sien as die einde van die humanitêre krisis en sal ophou om ons pogings te ondersteun. Dit sal vir hierdie gesinne maande neem om weer op hul voete te kom, soveel te meer vir diegene wat deur die verwagte afleggings geraak gaan word.”

“Die publiek word dus versoek om nie op te hou met skenkings van beide goedere en geld nie. Goedere word dadelik versprei terwyl finansiële skenkings gebruik word vir die aankoop van proteïene en ander vars produkte.”

Vir meer inligting besoek www.staaknie.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.