Platinumstaking: ‘Humanitêre krisis nog lank nie verby’

Foto: Helpende Hand

Foto: Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand het die uiteindelike einde aan die platinumstaking verwelkom, maar beklemtoon dat die krisis nog lank nie opgelos is nie.

“Die negatiewe finansiële impak van hierdie staking sal nog maande lank gevoel word,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.

“Hierdie staking het ‘n ekonomiese stilstand en uiteindelike humanitêre krisis onder die inwoners van Rustenburg en Mooinooi veroorsaak. Honderde nie-stakers moet nou probeer om die stukke op te tel nadat hulle hul verblyf, vervoer, basiese behoeftes en menswaardigheid deur hierdie staking verloor het.”

Brink sê sedert Helpende Hand die Platinumgordel in April as ‘n gedeeltelike rampgebied verklaar het, het die organisasie R2 miljoen se hulp in die area verleen en 135 ton kos versprei.

Volgens Brink sal Helpende Hand nie nou hulpleniging onttrek bloot omdat die staking tot ‘n einde gekom het nie, omdat dit die inwoners maande kan vat om weer op hul voete te kom.

“Daar is ook ‘n groot moontlikheid vir uitgebreide afleggings,” sê Brink. Hy sê Helpende Hand sal voortgaan om kos en ander basiese benodighede in die Platinumgordel te versprei vir solank as wat moontlik is.

Die organisasie het ook bykomende aksieplanne aangekondig om langtermynondersteuning aan nie-stakers in die Platinumgordel te verleen.

“Ons doen ‘n beroep op die publiek, wat tot nou toe so onbaatsugtig aan die inwoners in die Platinumgordel geskenk het, om nie nou alle hulp en skenkings te onttrek nie en steeds die nie-stakers by te staan,” sê Brink. “Hulle het steeds hulp nodig, nou meer as ooit sodat hulle hul lewens weer kan herbou.”

Volledige inligting oor hoe om te help, waar om finansiële bydraes in te betaal en waar om goedere af te laai, kan op www.staaknie.co.za gevind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

MAROELA – julle kan ook almal herinner dat mens die woorde ” staak nie” kan sms (kyk op Solidariteit Helpende Hand se webtuiste vir sms no) en sodoende R10 kan skenk. Dis ‘n baie maklike manier om ‘n bydrae te maak – ek het sommer paar keer gesms. Almal kan nie altyd daar uitkom met skenkings, of weet nie hoe om goed daar te kry, so ‘n sms is baie maklik en ek glo elke R10 tel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.