“Die werkers het die aanbod op die tafel aanvaar. Dit sal Dinsdag onderteken word en die werkers sal teen Woensdag terugkeer werk toe. Dit beteken die staking is amptelik verby,” het Joseph Mathunjwa, president van Amcu, aan nagenoeg 20 000 mynwerkers by die Royal Bafokeng-stadion naby Rustenburg in Noordwes gesê.
“Amcu maak ‘n verskil. Julle het geskiedenis gemaak met die staking. Julle staking is die derde langste staking in die wêreld,” het Mathunjwa gesê. Amcu het ‘n ooreenkoms met die platinumprodusente onderhandel waarvolgens die basiese salarisse van die laagsbetaalde werkers oor ‘n tydperk van drie jaar met ‘n R1 000 sal verhoog, uitsluitend ander voordele.
Die ooreenkoms is vir drie jaar. Salarisse sal in die eerste twee jaar met ‘n R1 000 verhoog en met R950 in die derde jaar. Die salarisse van amptenare en ambagsmanne sal met 8% verhoog word in die eerste jaar en met 7,5% in die tweede en derde jare. Die uitleeftoelaag sal nie in die tydperk verhoog word nie. Ander voordele sal jaarliks verhoog word, gebaseer op die verbruikersprysindeks.
“Van die werkers sal voor die einde van die ooreenkoms reeds R12 500 ontvang,” het Mathunjwa gesê. Hy sê werkers sal ‘n terugbetaling ontvang wanneer hulle Woensdag terugkeer werk toe.
Werkers sal na verwagting binne sewe dae nadat hulle teruggekeer het werk toe terugwerkend vergoed word. Implats en Amplats se werkers sal terugwerkend vergoed word vir die tydperk 1 Julie 2013 tot 23 Januarie 2014 terwyl Lonmin se werkers terugwerkend vergoed sal word vir die tydperk 31 Oktober 2013 tot 23 Januarie 2014.
Mathunjwa sê die ooreenkoms sal Dinsdag onderteken word. Amcu-lede het sedert 23 Januarie by Lonmin, Amplats en Implats gestaak en ‘n basiese maandelikse salaris van R12 500 geëis.
Hoop van harte dat die beëindiging van die staking Suid-Afrika se naam as beleggingsbestemming by die Internasionale Wêreld ietwat sal herstel.