Platinumstaking: Twee nie-stakers aangerand

Amcu-lede betoog in Pretoria op 6 Maart 2014 Foto: Montsho/SAPA

Amcu-lede betoog in Pretoria op 6 Maart 2014 Foto: Montsho/SAPA

Twee mynwerkers is Dinsdag op pad werk toe in Vryheidspark naby Rustenburg aangerand.

“Die voorval het vanoggend vroeg naby aan die Impala UG2-skag plaasgevind,” het brig. Thulani Ngubane, woordvoerder van die polisie in Noordwes, gesê. “Een van die slagoffers werk glo by ʼn ingenieurskonstruksieperseel by Bafokeng Rasimone-myn en die ander werk by die UG2-skag by Impala.”

Ngubane sê hulle is met skerp voorwerpe aangeval en is in die lyf en voete gesteek. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie. “Die ondersoek duur voort,” het hy gesê.

Hy doen ʼn beroep op stakende mynwerkers om die persone, wat nie staak nie, toe te laat om hul grondwetlike reg uit te oefen om sonder intimidasie of inmenging te werk.

Die polisie ondersoek ʼn saak van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig. Die slagoffers is onderskeidelik 33 en 37 jaar oud.

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Impala Platinum, Lonmin en Anglo American Platinum se myne in Noordwes en Northam in Limpopo. Hulle eis ʼn basiese maandelikse salaris van R12 500. Hulle het die werkgewers se aanbod, dat die werknemers teen Julie 2017 ʼn bedrag van R12 500 sou verdien, verwerp.

Minstens vyf myners het al tydens die staking gesterf.

Volgens die webwerf platinumwagenegotiations.co.za, wat deur die myne opgestel is, het die maatskappye reeds meer as R19.8 miljard in inkomste verloor en die myners reeds meer as R8.8 miljard in inkomste.

Onderhandelings tussen Amcu en die werkgewers duur voort by ʼn onbekende plek in Johannesburg. Die arbeidshof fasiliteer die gesprek. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.