Platinumvervaardigers, vakbonde teken driejaarooreenkoms

Argieffoto

Platinumvervaardigers het Vrydag gesê ʼn driejaarloonooreenkoms is met die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) in die platinumbedryf onderteken.

Implats het gesê sy filiale, Impala Platinum Limited se bedrywighede in Rustenburg en Marula Platinum Limited, het ʼn driejaarooreenkoms met Amcu onderteken wat terugwerkend van 1 Julie 2019 in werking tree.

“Ek is baie bemoedig deur die wedersydse respek wat alle partye getoon het tydens ons onderhandelings,” het Nico Muller, uitvoerende hoof, gesê. “Dit is strategies baie belangrik om Implats se verhouding met ons werknemers te ontwikkel en hierdie ooreenkoms bied ʼn betekenisvolle periode van stabiliteit vir ons werknemers en onderneming.”

Sibanye-Stillwater het gesê hy is ook dankbaar om aan te kondig dat driejaarooreenkomste met sy bedrywighede in Rustenburg en Marikana afgehandel is. “Die loonooreenkomste is met die onderskeie vakbonde, Amcu by Marikana en AMC en Uasa by Rustenburg, onderteken.” Die ooreenkomste hou verband met salarisse en diensvoorwaardes vir die tydperk 1 Julie 2019 – 30 Junie 2022.

Die verhogings aan die basiese salaris van kategorie 4-9 oppervlak- en ondergrondse werknemers vir Marikana en Rustenburg is R1 000 per maand of 5%, wat ook al die hoogste is in die eerste jaar; R1 000 per maand of 5%, wat ook al die hoogste is in die tweede jaar; en R1 000 per maand of 5% of wat ook al die hoogste is in die derde jaar.

Die basis pensioendraende betaling sal met 3,5% verhoog by Marikana oor elkeen van die volgende drie jaar en by Rustenburg verhoog dit met 5%.

Rotsbooroperateurs se salarisse verhoog ook met R100 per maan vir elk van die volgende drie jaar.

Myners, vakmanne en beamptes sal oor die volgende drie jaar ʼn verhoging van R1 000 per maand of 5% ontvang, wat ook al die hoogste is.

Die algehele gewaarborgde maandelikse inkomste vir intreevlak, kategorie 4 ondergrondse werknemers, is nou tussen R18 400 en R18 500 per maand in jaar een; R19 500 tot R19 600 per maand in jaar twee; en R20 700 – R20 800 per maand in jaar drie (voor belasting).

Die algehele gemiddelde maandelikse koste aan die maatskappy (bonusse, oortyd en WVF ingesluit, maar belasting uitgesluit) vir dieselfde werknemers is R21 300 tot R21 400 in jaar een; R22 400 tot R22 600 in jaar twee en R23 600 tot R23 800 in jaar drie.

Basiese salarisse is nou tussen R12 500 tot R12 700 in jaar een; R13 500 tot R13 700 in jaar twee; en R14 500 tot R14 700 in jaar drie.

Uitvoerende hoof Neal Froneman sê hulle is dankbaar die loonooreenkoms is onderteken. “Dit is bemoedigend dat die onderhandelings op ʼn konstruktiewe manier plaasgevind het sonder enige ontwrigting. Ons wil alle belanghebbendes bedank. As ons saam werk ter ondersteuning van veilige vervaardiging, kan ons die volhoubaarheid van die bedrywighede verseker.”

Sibanye-Stillwater het gesê hy het meer as 33 000 werknemers (kontrakteurs uitgesluit) in diens by sy bedrywighede in Marikana en Rustenburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.