Platinumwerkers keer terug werk toe

Amcu-lede betoog in Pretoria op 6 Maart 2014 Foto: Montsho/SAPA

Amcu-lede betoog in Pretoria op 6 Maart 2014 Foto: Montsho/SAPA

Werknemers in die platinumbedryf keer Woensdag terug werk toe nadat ʼn vyf maande lange staking Dinsdag tot ʼn einde gekom het.

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) en die platinumvervaardigers Impala Platinum (Implats), Anglo American Platinum (Amplats) en Lonmin het Dinsdag ʼn skikkingsooreenkoms bereik.

“Geen platinumwerker sal minder as R8 000 as basiese salaris verdien nie,” het Joseph Mathunjwa, president van Amcu, Dinsdag gesê. “Die terugbetaling sal binne sewe dae plaasvind.” Klik hier om meer te lees oor die bepalings van die ooreenkoms.

Hy sê die vakbond sal steeds bly veg vir die R12 500 wat hy glo elke lid moet teen 2017 verdien. “Dit is die hoogste loonverhoging wat bereik is met intreevlakwerknemers wat ʼn verhoging van meer as 18% ontvang,” het hy gesê. “Amcu sal seker maak dat die minimum van R12 500 teen 2017 behaal word.”

Mathunjwa sê geen werker sal afgedank word nie en die vakbond sal nie oor enige van die sake staak wat in die drie afsonderlike ooreenkomste met die maatskappye bereik is nie. Alle werkers wat afgedank is, sal weer aangestel word, insluitend 235 noodsaaklike werkers wat in Mei by Lonmin afgedank is.

ʼn Taakspan sal aangestel word om alle kwessies aan te spreek wat nie tydens die onderhandelings opgelos is nie.

Lede van die vakbond het op 23 Januarie begin staak. -SAPA

Lees ook:
Amcu-staking verby; loonooreenkoms onderteken

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.