Die DA het Dinsdag in reaksie op Dan Plato se verkiesing tot burgemeester van Kaapstad gesê dié politikus kan die “volwasse leierskap” bied wat die afgelope paar maande in die Moederstad gekort het.
“Die burgemeester was nog altyd verhewe bo kleinlike politiek en sal die broodnodige stabiliteit, eenheid en volwasse leierskap na die stad bring wat die afgelope paar maande ontbreek het. Die DA vertrou dat burgemeester Plato weer die mense se geloof en vertroue in die bestuurstelsels van die Stad Kaapstad sal herstel,” het Bonginkosi Madikizela, provinsiale leier van die DA in die Wes-Kaap, gesê.
Maroela Media het vroeër berig Plato is Dinsdagoggend met 146 stemme tot nuwe burgemeester verkies. Xolani Sotashe van die ANC het 53 stemme ontvang en Grant Haskin van die ACDP drie stemme. Sewe raadslede het hul stembriewe bederf eerder as om vir enige van die drie kandidate te stem.
Plato neem die leisels oor by Patricia de Lille wat verlede Woensdag uit die amp bedank het ná ’n lang interne stryd binne die DA.
Madikizela meen Plato het deurlopend in sy loopbaan bewys dat hy toegewyd is aan dienslewering en ʼn passie daarvoor het om die strate van Kaapstad te beveilig. “Die party het burgemeester Plato ʼn mandaat gegee om die hoogste vlak van dienslewering te bespoedig en te herstel, asook die behoeftes van die mense van Kaapstad eerste te stel. Ons glo hy sal nie net bewys dat hy hierdie taak kan uitvoer nie, maar ook daarin sal uitblink,” het hy gesê.
Madikizela het bygevoeg Plato is toegewyd om leiding te neem in die stryd teen geweldsmisdaad en bendegeweld in die stad, “’n saak wat die burgemeester altyd na aan die hart is, maar ook die kern van die DA se aanbod is”.
gelukkig pas die DA darem regstellende aksie/BEE/raskwotas “reg” toe met Plato se aanstelling en maak nie weer ‘n fatale flater soos met die wit Trollip se aanstelling in Nelson Mandelabaai nie.