Plato kry kompetisie in verkiesing

Grant Haskin, ACDP-kouskusvoorsitter in die Kaapse stadsraad, sê hy kan vrede in die DA-koukus herstel. Foto: Facebook

Teen alle verwagtinge in sal die DA se Dan Plato nie die enigste kandidaat wees wanneer Kaapse stadsraadslede Dinsdag vir ʼn nuwe burgemeester stem nie.

Patricia de Lille het einde verlede maand eindelik as die Moederstad se burgemeester bedank nadat sy nog tot die einde van haar onstuimige ampstermyn gedreig het om nie die tuig neer te lê nie.

Die ACDP het Maandag gesê die party sal Grant Haskin voorstel as kandidaat vir die burgemeesterskap wanneer Dinsdag vir De Lille se opvolger gestem word, berig EWN.

Haskin, die ACDP se koukusleier in die stadsraad, sê sy party meen Plato kan nie die DA-koukus saamsnoer nie, want hy is self deel van een van die faksies.

“Dis die dringendste prioriteit,” het Haskin gesê, “maar ons glo nie hy sal veel sukses behaal om die koukus te verenig nie.”

Volgens hom is ʼn verenigde DA-koukus ʼn voorvereiste vir vooruitgang in die Moederstad en is dit ál hoe die stad sy wêreldrangstatus kan herwin.

De Lille en nog agt DA-raadslede het uit die party bedank.

Haskin, wat van 2007 tot 2009 Kaapstad se onderburgemeester was, sê die DA respekteer die ACDP, wat hy as “vredemakers” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piper ·

ek wens politiek kan verdwyn uit plaaslike regerings. die hoof storie moet wees oor die beste bestuur van die plaaslike regering en nie oor wtter party in bewind is nie,

Kokkie ·

Jy’s reg, Piper. Ek wens weer dat ek een oggend wakker word en al wat politikus is, het oornag verdwyn.

Dries du Toit ·

Politici is noodsaaklik. Hulle het net oor die jare verswak. Swak politici word verkies deur swak kiesers. Integriteit en goeie norme het verdwyn uit ons samelewing. Politici verteenwoordig die kiesers. Korrupte politici verteenwoordig korrupte kiesers. As ons begin kyk na die kwaliteit van die persoon vir wie ons stem sal dit andees wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.