Platsak ANC krabbel terug oor salarisse

(Argieffoto)

Die ANC het bevestig hy het Dinsdag ʼn memorandum van gegriefde werkers oor hul diensvoorwaardes gekry.

Werkers by die regerende party het gedreig om landwyd te staak weens die party se versuim om hul salarisse betyds te betaal, ʼn probleem wat nou reeds ʼn paar jaar lank opduik.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het vandag bevestig dat die werkers se uitstaande salarisse vir Mei betaal is.

“As ʼn beweging erken ons dat die kwessies wat ons personeel geopper het – oor laat salarisbetalings, die voorsorgfonds, mediese fonds en ander diensvoorwaardes – geldig is en dat die beweging beter moet vaar om te verseker sy werkers word billik behandel,” sê Mabe.

Die ANC pak die skuld vir sy “kontantvloeiprobleme” onder meer op die algemene ekonomiese situasie, die inwerkingstelling van die Wet op die Finansiering van Politieke Partye, asook ʼn dringende behoefte om die ANC se operasionele en finansieringsmodelle te moderniseer.

“Die moeilike situasie wat die ANC en die ANC as ʼn beweging die hoof moet bied, gaan sobere en daadwerklike optrede vereis. Ons is verbind daartoe om dit reguit en so gou moontlik te pak,” sê Mabe.

Volgens hom het die ANC ʼn plan om die uitstaande betalings wat nog aan voorsorgfondse en ander derde partye gedoen moet word, te bestuur.

Volgens die ANC sal werkers betaal word en “hoewel betalings dalk nie aan die einde van elke maand gedoen gaan word nie, sal daar ʼn maandelikse betaling wees”.

“Ons wil die versekering gee dat geen salarisse verminder gaan word nie. Indien daar afleggings gedoen moet word, sal dit ingevolge arbeidswetgewing en ná beraadslaging met personeelverteenwoordigers gedoen word.”

Mabe sê die ANC doen tans ʼn tweede oudit van die party se personeel en hy ontken dat daar enige sogenaamde spookwerkers op die stelsel bestaan.

Volgens Mabe het die ANC aangehou om die personeel van sekere ampsdraers te betaal, selfs nadat daardie ampsdraers se dienstermyn geëindig het, “omdat dit die regte ding was om te doen”.

Sommige werkers met ʼn lang dienstermyn agter die rug, en wat reeds afgetree het, het ook steeds ʼn salaris ontvang – ook omdat dit volgens die ANC die regte ding was om te doen.

“Ons gaan dit hersien en verseker dat ons personeel het wat ʼn volle dag se werk verrig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Persheks Adri ·

Blameer julle self vir die gemors, want plunder is bo aan julle lys! Die regte ding om te doen? Verstaan julle dit ooit? Nie 1 van julle verdien eers ‘n kwart van julle salarisse nie patete!

JohanR ·

Kan nie eers hulle eie ANC werkers betaal nie. Wat se kans die land?

Dup ·

Ek wil nie hardop uitbars van die lag nie…..hulle kan nie hulle eie werknemers bestuur nie,wat nog van SA.

Persheks Adri ·

Jy laat my lekker lag Kokerboom! Reine waarheid egter

Boerkind ·

Die wiel draai… alles reeds gekaap en verniel… Op wie en wat val die blaam nou??

Elinette ·

Soos gewoonlik die blanke Afrikaanssprekende “moordenaars” en “gronddiewe”, asook Apartheid en Jan van Riebeeck … o, en moenie die setlaars en koloniste vergeet nie ….

Lourens CFG ·

Hulle gaan hard en lank soek om tussen hulle mense iemand te kry wat ‘n volle dag se werk gaan doen.

Johann ·

Die resultaat van onbevoegdheid. Sprekend van wat die ANC kan doen as dit kom by vergrype en wanbesteding en korrupte karakter.

Friedrich ·

ANC wil staak… Verkiesing is pm die draai. Hoop net nie hulle kry mense om vir die rooi party te stem nie.

Elinette ·

Hoekom kry ek dan so ‘n benouiing om die hart nou? As hulle nie rooi-geel-en-swart stem nie, wat sál hulle stem? Vir die rooies???? Want dan is ons doppie vir seker geklink.

Renier johannes ·

Dit is omdat daar teveel daar sit en geld kry maar niemand werk nie

annie ·

‘Sober’ en ‘reguit’ en ‘die regte ding om te doen’… Mabe verwys na afgetredenes, is dit nou die woedende MK’s wat op rolstoele of plase en trekkers wag? Die ANC sit met ‘n warm patat want skelmstreke in die geldlaai raak moeiliker met die kommissie en klandisie se biegsessies.

Johan ·

Lyk of die ANC uiteindelik in die land wat hul geskep het aangekom het. Ons is lankal daar.

Nie Verbaas ·

“Ons gaan dit hersien en verseker dat ons personeel het wat ʼn volle dag se werk verrig.” Die beste grap wat ek in n lang tyd gehoor het. Neem ook kennis dat hulle nie praat van n volle dag se produktiewe werk nie.

Dirk Mostert ·

Laat ‘n ander werkgewer nou versuim om hul verpligtings teenoor werknemers na te kom, dan is die werkgewer in die moeilikheid. Dubbele standaarde! Dalk noop dit die ANC om arbeidswetgewing te hersien.

llen ·

Die vraag is, waar kom die geld nou vandaan? Wat het onlangs gebeur dat hulle skielik nou geld het?

Andries ·

Hul grootste uitdaging is om by die werk te wees. Nie om te werk nie, net aan diens.

johann ·

‘…. verseker dat ons personeel het wat ‘n volle dag se werk verrig ” Hoop dit werk deur na die openbare sektor !

Moedeloos ·

Die valke moet dalk gaan ondersoek instel want hoekom word Pensioen en Mediese premies nie oorbetaal nie. Dit is teen die stelselwet. Ek en jou word beboet as ons dit doen. Die ANC is n werkgewer en moet aan dieselfde vereistes voldoen as enige ander besigheid/werkgewer.

Elinette ·

Mag ons hoop dat die ANC se vlammetjie besig is om geblus te raak? Want ek sien probleme – g’n mens kom weg daarmee as jy vir Jan Taks geld skuld nie ….. altans, g’n gewone mens nie …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.