Plattelandse veeveilings: Van tjekboeke tot regstreekse satellietuitsendings

‘n Veeveiling is ‘n belangrike gebeurtenis op die platteland.

Die hartklop van die veebedryf in Suid-Afrika is veeveilings. Dit is waar ʼn veeboer sy jaarlikse inkomste verdien. Ander veeboere kom ook van heinde en ver om broodnodige, verskillende genetika te bekom sodat hulle hul diere deurlopend deur telingsprogramme kan verbeter. Dit is die beste manier om beter vleis vir die verbruiker te produseer. ʼn Kultuur kenmerkend aan die platteland het oor baie jare op veeveilings ontwikkel, soos dat daar agterna hartlik feesgevier word. Dit is die gasheerboer se voorreg om sy kopers met kos en drank te trakteer, want dit is immers hulle wat gesorg het dat sy bankbalans verstewig het.

Op die platteland sterf ou en gevestigde gewoontes egter moeilik uit, soos die gebruik van tjeks om vir items te betaal. Tjeks het goed gewerk in die goeie ou dae, maar veediefstal en bedrog raak ʼn groter wordende probleem. Dit gebeur deesdae maklik dat ʼn gesteelde bees op ʼn veiling verkoop word en die tjek wat daarvoor betaal is, gewissel word voor die koper of die bank dit besef. Tjeks wat “hop”, is ook ʼn probleem. Daarbenewens is kleiner boere ook geneig om met groot hoeveelhede kontant die pad veiling toe aan te durf, wat vanselfsprekend probleme tot gevolg kan hê.

Veilingsmaatskappye soek deurlopend na oplossings om hierdie probleme te bekamp. Gelukkig ontwikkel datategnologie vinniger as wat ons kan byhou.

Vleissentraal is ʼn groot en gevestigde veilingsmaatskappy wat einde Januarie sy eie volwaardige Mastercard-handelskaart bekendgestel het, waarop voornemende verkopers geld kan ontvang.

“Ons kaart werk soos ʼn debietkaart waarmee die boer by enige kaartmasjien kan betaal en selfs geld by ʼn kitsbank kan onttrek,” sê Pieter van der Walt, finansiële direkteur van Vleissentraal. “Die boer hoef nie eens ʼn bankrekening te hê nie, sy geld word bestuur deur ’n sentrale trustrekening.”

Dit is die eerste van sy soort en beloof om ʼn groot gros van die huidige probleme op veilings uit te skakel. Swak sein in verafgeleë gebiede is ook ʼn kleiner wordende probleem en Vleissentraal het hier ʼn uitstekende geleentheid aangegryp.

Vleissentraal het onlangs sy eie Mastercard-handelskaart bekendgestel.

Hoewel Nedbank die samewerkende bank is, kan boere nog steeds deur middel van elektroniese oorbetalings of hulle bestaande bankkaarte transaksies op Vleissentraal se veilings beklink. Dié veilingsmaatskappy sal ook die geld steeds deur ʼn elektroniese betaling in die boer se rekening inbetaal.

ʼn Ander nuwe verskynsel op veeveilings is regstreekse video-uitsendings. Hoewel dit voor Covid-19 reeds in gebruik was, het die grendelstaat dit met reuseskrede laat toeneem. Boere kan nou in die gemak van hulle kantore die veilings op ʼn skerm dophou en regstreeks bie.

Dorland Trust in Bloemfontein het einde verlede maand ʼn rekord laat spat toe hy ʼn omset van R64 056 902 tydens sy jaarlikse speenkalfveiling behaal het. Dit is die grootste bedrag geld wat ʼn enkelverkoper nog op ʼn veeveiling ingewin het. Altesaam 6 000 speenkalwers is vir ʼn gemiddelde prys van R10 572 verkoop. Dit werk op R36,13 per kilogram uit.

Dorland Trust het ook oor die afgelope jaar met sy teelprogram gewoeker. Tydens verlede jaar se veiling het ʼn gemiddelde kalf 286,99 kg geweeg en vanjaar 292,61 kg. Die gemiddelde prys wat per kilogram gekry is, het ook met R0,49 gestyg.

Die meeste kopers was voerkrale wat honderde speenkalwers koop en vet maak  om aan die slagpale te verkoop. Wat merkwaardig was, is dat daar net vier kopers by die veiling opgedaag het. Altesaam 24 mense het aanlyn geregistreer van wie 10 aktief gebie het. Die aanlyn verkope het gesorg vir 87% van die omset, ’n merkwaardige R55 566 011.

GWK Veewinkel was die veilingsmaatskappy wat hierdie veiling moontlik gemaak het. Hulle het ʼn wêreldformaat-toepassing ontwikkel waarmee ʼn boer selfs op sy slimfoon vanaf enige plek in die wêreld kan bie. Die toepassing het ook baie funksies, soos dat ʼn boer ʼn filter kan opstel om byvoorbeeld net die opveil van die dragtige verse te sien. Die aanlyn katalogus kan ook regstreeks bygewerk word as ʼn lot byvoorbeeld uitval.

Willie Meyer en Victor Matfield, twee bekende oud-Springbokke het hierdie platform verlede jaar begin. Meyer en Matfield is vandag onderskeidelik die hoof- uitvoerende beamptes van GWK en Wildswinkel, wat twee bestaande veilingsmaatskappye is. ʼn Derde oud-Springbok, Jaco Pretorius, is die hoof- operasionele bestuurder wat saam met hulle GWK Veewinkel begin het.

Bekende gesigte is aan die stuur van GWK Veewinkel se sake. Hier staan Jaco Pretorius, hoof- operasionele bestuurder van GWK Veewinkel; Willie Meyer, hoof- uitvoerende beampte van GWK; Fritz Marx, bemarker; Deon Klopper, afslaer; Sarel Cilliers, bemarker en Victor Matfield, hoof- uitvoerende beampte van Wildswinkel.

“Aanlyn platforms het aanvanklik gewild op wildsveilings geword weens die koste en risiko vir die diere wanneer hulle na ʼn sentrale punt gebring word,” sê Gerhard de Wet, bemarkingsbestuurder by GWK Veewinkel. “Nou kan ʼn koper oor die internet na foto’s en video’s van ʼn dier kyk om ʼn besluit te neem. Ná die transaksie kan die dier dan regstreeks van die verkoper na die koper vervoer word. Boere soek gedurig maniere om veilings goedkoper aan te bied. Deur so ’n platform te skep kan kleiner boere ook toegang kry om hulle wild te verhandel.

“Tydens so ʼn aanlyn veiling word baie data gegenereer en die statistieke wat daaruit verwerk word, is baie waardevol,” sê Gerhard. “Ons kan ook onreëlmatighede makliker raaksien en op aanlyn veilings kan ons beter beheer uitoefen.”

Wildswinkel, ’n vennoot in GWK Veewinkel, maak ook baie seker dat daar nie data- of kragonderbrekings op so ʼn veiling is nie. Meer as een data- en selfoonseinverskaffer word gebruik en kragopwekkers staan gereed. Hulle het selfs al met satelliettegnologie ʼn veiling in die middel van die Kalahari gehou.

Hoewel boerdery beperk is tot die platteland, staan die landbou nie terug as dit by die aanvaarding van tegnologie kom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OW ·

Die gebruik van tjeks kan maar gestaak word.Tjek bedrog kom al baie jare voor.My laaste betaling per tjek wat in ‘n deposito by ‘n bank inbetaal is,het voete in die bank gekry.Die tjek het nie van my rekening afgegaan nie en moes gestop word.Die skurk was so onnosel en nie besef dat tjeks niks beteken wat aan iemand uitgemaak is,en nie gewissel kan word nie.

MrMagic ·

Absa en FNB het reeds einde Desember opgehou om tjeks te aanvaar.

Vrijburger ·

Interessant, in Suid Afrika het ek my laaste tjek in 1999 uitgeskryf. Maar in die VSA word daar nog baie gebruik gemaak van tjeks. Moontlik is die uitfasering van tjeks as betaalmiddel bloot stadiger in die VSA omdat bedrog nie so ‘n wesenlike probleem is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.