Player deur Trump vereer; verduur kritiek

Gary Player. Foto: Christian Petersen/Getty Images/AFP

Een van die wêreld se voorste gholfspelers nog, Suid-Afrika se Gary Player, is gister saam met Swede se Annika Sörenstam deur pres. Donald Trump van die VSA met die presidensiële medalje van vryheid vereer.

Trump het die toekenning, dié land se hoogste burgerlike eerbewys, ook postuum aan die Olimpiese gouemedaljewenner en vrouegholfbaanbreker Babe Didrikson Zaharias toegeken.

Die drie is saam met Jack Nicklaus, Arnold Palmer, Charlie Sifford en Tiger Woods die enigste gholfspelers wat dié eer al ontvang het.

“Om as ’n internasionale atleet die hoogste eerbetoon vir Amerikaanse burgers van die president te ontvang, is beslis iets wat ek vir altyd sal koester,” het Player in ’n destydse onderhoud gesê.

Die oorhandigingsgeleentheid word egter deur sommiges as omstrede bestempel omdat dit plaasgevind het net ’n dag nadat betogers, glo hoofsaaklik Trump-ondersteuners, die kongresgebou (Capitol) in Washington DC bestorm het.

Teen dié agtergrond is Player gekritiseer omdat hy die toekenning aanvaar het.

Sy seun Marc het onder meer gesê dat sy pa pleinweg moes weier om die eerbetoon in ontvangs te neem.

“Ek wens regtig dat my pa op hierdie oomblik die ‘toekenning’ eenvoudig en beleefd van die hand gewys het,” het hy op Twitter geskryf. “Toondoof. In ontkenning. Verkeerd,” het hy gevoeg.

Maar politieke sienings en oortuigings opsy; Player se prestasies op die gholfbaan spreek boekdele.

In sy loopbaan wat oor sewe dekades strek het Player onder meer die Bob Jones-toekenning in 1966 ontvang; die hoogste eerbetoon in Amerikaanse gholf. Daarbenewens is hy in 1974 ook in die wêreldgholf-heldesaal opgeneem, terwyl hy in 2012 die eerste internasionale speler geword het om die PGA-toer se toekenning vir lewenslange bydrae te ontvang.

Op tuisbodem is hy as die Suid-Afrikaanse sportman van die 20ste eeu aangewys, terwyl oudpres. Thabo Mbeki hom ook met die Orde van Ikhamanga (in goud) vereer het.

  • Trump het in 2019 ook die presidensiële medalje van vryheid aan Tiger Woods toegeken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.