Pleegpa gevonnis oor kind se verkragting

(Foto: Umanoide / Unsplash)

’n 50-jarige man van Parys in die Vrystaat is tot 14 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan die verkragting van sy 15-jarige pleegkind skuldig bevind is. Die man is ook op aanklag van seksuele aanranding en die seksuele gereedmaking van ʼn kind skuldig bevind.

Volgens die polisie het die seksuele mishandeling en misbruik van die betrokke tienermeisie in Januarie vanjaar begin.

“Dit het begin toe die kind se pleegma die huis vroegoggend verlaat het om te gaan werk. Die beskuldigde het eers begin om die kind te betas, maar gestop nadat sy hom aangesê het om op te hou. Die 50-jarige man het dit egter daarna nog twee keer gedoen,” het sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die kind het in dié stadium nog nie vir haar pleegma gesê wat aangaan nie, aangesien sy gedreig is dat sy sou seerkry indien sy vir enigiemand vertel.”

Ná die derde voorval in Februarie het die kind egter die moed bymekaargeskraap om haar pleegma van die seksuele misbruik in te lig.

“Die pleegma het die kind sonder huiwering na die Tumahole-polisiestasie geneem waar sake van seksuele aanranding en die seksuele gereedmaking van ʼn kind aanhangig gemaak is.”

Die saak is deur die Tumahole-polisie se eenheid vir gesinsgeweld ondersoek waarna die man in hegtenis geneem is. Benewens seksuele aanranding en seksuele gereedmaking, is hy ook van verkragting aangekla. Hy is op al die klagte skuldig bevind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Dankbaar dat die skurk skuldig gevind is, jamerte vir die mooi jong lewe wat vir sy wellus moes boet, dankie aan die Ma wat die dogter geglo het, haar beskerm het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.