Pleegpa wat verkrag swaar gestraf

(Foto: pixabay)

ʼn Wes-Kaapse man is in die Worcester-streekhof altesaam 50 jaar tronkstraf opgelê vir die verkragting van twee van sy pleegkinders.

Charles Stevens (65) is skuldig bevind aan die verkragting van twee meisies, onderskeidelik 11 en 12 jaar oud, en is 25 jaar tronkstraf vir elk van die oortredings opgelê. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het gesê die niggies is uit die sorg van hul onderskeie biologiese ouers verwyder weens swak sosio-ekonomiese omstandighede en verwaarlosing.

Hulle is daarna in die sorg van Stevens en sy vrou geplaas.

Die verkragtings het in Maart 2018 plaasgevind. Stevens se vrou het glo niks daarvan geweet nie, omdat dit gebeur het terwyl sy geslaap het.

Adv. Hendrik Koert, staatsaanklaer, het aan die hof gesê Stevens het die kinders met die tronk gedreig sou hulle ʼn woord oor die gebeure rep. Aan die ander kant het hy hulle ook lekkergoed en geld beloof.

“Die misbruik het aan die lig gekom toe die 12-jarige by die skool siek geword en na ʼn kliniek geneem is. Sy het die misbruik by ʼn gesondheidswerker aangemeld.

“As deel van die ondersoek het die polisie ook met die 11-jarige meisie gesels en sy het ook ʼn verkragting aangemeld,” het Ntabazalila gesê.

ʼn Forensiese ondersoek by die Robertson-hospitaal het ook tekens van penetrasie bevestig.

Volgens Ntabazalila het die Thuthuzela-sorgsentrum op Worcester verseker dat albei kinders dadelik uit die huis weggeneem en in ʼn ander plek van veiligheid geplaas word.

Koert het aan die hof gesê geslagsgebaseerde geweld en sosio-ekonomiese probleme is ʼn baie groot werklikheid vir die landelike Bolandse gemeenskap.

“Met ʼn vonnisoplegging van dié aard stuur die hof ʼn baie duidelike boodskap aan die slagoffers en die gemeenskap dat hulle saak maak en hulle stemme gehoor word.

“Die klaers verteenwoordig die weerloosste lede van die samelewing en dit is belangrik dat ons ʼn boodskap aan almal stuur dat die staat sy bes doen om te verseker hulle word beskerm,” het Koert aan die hof gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

50 jr?? Nie rerig nie slegs 25 jr indien hy nie voor die tyd Parool kry nie.indien die Regering ernstig is moet vonisse nie aaneenlopend wees nie

Cd

Twee kinders se lewens verwoes deur n gewetenlose skurk.
Hoop hulle kry die regte behandeling