Pleegsorgstelsel laat ‘weerlose kinders in steek’

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die DA het uitgevaar teen die departement van maatskaplike ontwikkeling nadat hy vandeesweek ʼn voorlegging oor die stand van die pleegsorgstelsel aan die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling gedoen het.

Die agterstand met pleegsorgbevele was een van die grootste bronne van kommer.

Die departement het in sy voorlegging gesê teen November vanjaar gaan meer as 128 000 pleegsorgbevele verval het. Die syfer vir die einde van Julie het op 68 000 gestaan.

“Dié bevele bewys dat 128 000 kinders se omstandighede nié deur die departement nagegaan is nie,” het Bridget Masongo, die DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, gesê.

“Dit beteken ons weet nie of hierdie kinders nog veilig is en of die situasie sodanig verander het dat hulle met hulle gesinne herenig kan word nie. Dit is ook ʼn aanduiding dat die departement die kinders twee jaar lank nie besoek het óf hulle situasie gemonitor het nie.”

“Suid-Afrika se pleegsorgstelsel laat talle weerlose kinders in die steek.”

Ingevolge die Kinderwet kan die kinderhof ʼn pleegsorgbevel elke twee jaar hersien, tensy ʼn korter tydperk gestipuleer word. Dit bepaal ook dat ʼn pleegsorgbevel twee jaar nadat dit gegee is, verval. Dit is dié bevele waarmee die departement klaarblyklik hopeloos agter is.

“ʼn Weeskind moet in die kinderbeskermingsprogram geplaas word om vir ʼn pleegsorgtoelaag te kwalifiseer. Dit beteken vir bevele van die kinderhof om bygehou te word en om die veiligheid van ʼn kind te verseker, moet bevele deur deurlopende monitering gesteun word,” het Masongo gesê.

Masongo het gesê die hoofdoel van die pleegsorgstelsel is om kinders wat beskerming nodig het teen misbuik en verwaarlosing te beskerm, maar dat dit nie sonder die bevele gedoen kan word nie.

Sy het gesê dit is duidelik dat die departement sedert 2010 met dié probleem sit, maar dat hy steeds geen strategie het om dit reg te stel nie.

Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement, het vroeër gesê in die lig van die naderende sperdatum vir die implementering van pleegsorg-bevele werk die nasionale en provinsiale departemente van maatskaplike ontwikkeling so vinnig as moontlik om te verseker geen kind verdwyn in die stelsel nie.

Oliphant het gesê geen bevel het tot op hede verval nie.

(Foto: Unsplash)

Sy het gesê die departement het in sy voorlegging aan die komitee onder meer beklemtoon hy het die Kinderwysigingswet van 2019, wat in Maart vanjaar deur die kabinet goedgekeur is om aan die parlement voorgelê te word, ingedien.

Dié wysigingswet bring veranderinge aan artikel 159 van die Kinderwet om voorsiening te maak vir diskresie om vervalde pleegsorg-bevele te verleng of interim bevele uit te reik, terwyl klousule 60 voorsiening maak vir gehalteversekering van kinderbeskermingsdienste.

Oliphant sê die departement het groot vordering gemaak om aandag te gee aan die akute tekort aan maatskaplike werkers sodat die agterstande in pleegsorg-sake ingehaal en nuwe pleegsorg-sake hanteer kan word.

Intussen het die DA in Gauteng gesê hy is uiters bekommerd oor die duisende kinders in die provinsie wat nog wag om in pleegsorg geplaas te word.

Volgens die provinsiale departement se prestasieverslag vir die eerste kwartaal van 2019/-’20, is slegs 702 kinders op die waglys vir pleegsorg geplaas. “Die departement het versuim om sy teiken van 1 338 kinders op die waglys te behaal,” het Refiloe Nt’sekhe, die DA se provinsiale woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, gesê.

Die departement se derde kwartaalverslag vir 2018/-’19 het gewys 727 kinders is op die waglys vir pleegsorg geplaas, in vergelyking met die teiken van 3 452 kinders.

“Die getal kinders op die waglys en dié wat wag om op die lys geplaas te word, styg elke kwartaal. Sommige van die kinders is al amper drie jaar lank op die waglys,” het Nt’sekhe gesê.

Sy het gesê daar is ʼn groot behoefte aan pleegsorg in die provinsie en dat die regering kinders ontneem van ʼn veilige blyplek en toegang tot ʼn inkomste om aan hulle basiese behoeftes te voldoen.

Die DA het gesê hy gaan voortgaan om druk op die minister, Lindiwe Zulu, en die departement te plaas om die situasie reg te ruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Arno Scheepers ·

Die korrupte anc regering laat alles en almal in die steek

E.K. die eerste ·

Arme kinders…nie gevra om gebore te word nog minder om deur soveel dinge in hul lewetjies te moet gaan nie. Absolute skande

Dirk ·

Ek kan dit beaam. Weet van ‘n plek van veiligheid waar daar maande laas ‘n besoek deur ‘n maatskaplike werker afgelê is!

Marieke ·

Ek self is n pleegsorg mamma en sien eerste hand hoe oor werk ons sosiale werksters is en dat hulle geen bystand het nie. Ons was so ver wonderlik gehelp met wat tot hulle beskikking is. Daar is net te veel kinders wat in die steek gelaat word en te min hande wat wil help.

HC ·

Net DA het opgestaan en uitgevaar teen die departement van maatskaplike ontwikkeling, en waar is ander partye ook opgestaan en teenoor?? MOOI , DA!!

Boervrou ·

Hier kan ek baie komentaar lewer oor die regering se welsyn mense.Ek moes kinders laat verwyder deur die hof omdat die welsyn te lank gevat het.3 weke nadat kinders verwyder is toe bel die welsyn eers om te hoor of kinders al verwyder is.Kan jy dit glo.Kinders was in ons sorg geplaas,welsyn het nooit huis besoek kom doen of gebel om te hoor of die kinders nog oraait is nie.Die een kind was in n rolstoel..en hul het nie eers geweet met wat se gebrek is sy gebore nie.Wys jou hoe min gee van die welsyn mense om.

Alida ·

Ag wat gee die ANC om. Laat 144 mense sterf van honger en nienand word vervolg nie. Die hele Dept is onbevoeg en onopgelei. Ons praat hier van weerlose kinders. Skandelik.

lanie ·

Dit is baie vreeslik om van die kinders te hoor, maar hoekom word daar nie seksvoorligting in skole aangebied nie? Daar word net kinders gemaak en niemand om na hulle te kyk nie.
Kastreer en steriliseer die kinders wat so lekker rond slaap en geen verpligting het nie.

John ·

Waar begin al hierdie probleme vanaf die geboorte van onwelkome babas en die gryp na ‘n toelaag vir elke geboorte, tot hul weggooi tot aanranding en verwaarlosing en verkragting en moord wanneer hulle nie toesig kry nie, tot die groot droom na kleuterskole by skole vir kamma vroeè rypdruk tot skooldogters wat babas verwag, verkragtings en moord van jeudiges tot die aanranding van volwasse studente en vroue? En wat is die oplossing volgens die nuwe human rights-paradigma. Gee vroue meer regte en magte en ja, nog wette, maar veral, neem ma’s uit hul huise en verantwoordelikhede weg en gee hulle die poste van die mans, wat nou op sypaadjies wag op beter dae en dan hou ons optogte… los die kinders tuis want hulle is lastig… en die dominees en minsters loop voor vir vroueregte… vroueregte… vroueregte…

Gert J ·

ANC se vingers was weer te lank, hulle is soos roof voels, as jy se geld trap hulle mekaar dood om dit te kry.

Ruiklont ·

Sleg, baie sleg. So gaan alles net agteruit. Die versorging van kinders en oumense moet prioriteit geniet

Johanna Botha ·

Wag maar vir die NGV …gaan selfde wees en erger !

AA ·

Die pleegsorgstelsel is n klug neem kinders weg wat nie nodig is om eers in n kinderhuis of pleegsorg geplaas te word nie en die wat kinders wat moet weggeneem word los hul net so by die slegte ouers en volg nie eers op nie, so in my oe is die hele stelsel n klug !!!!!!

Ongelukkig. ·

Die hele pleegsorg stelsel is ‘n klug. Gaan sit in die SASA se kantore en sien die jong kinders wat verwag of ‘n baba in die arms het wat kom aansoek doen vir ‘n toelaag. Dit is erg wat erger is is die sogenaamde pleegouers wat kos bedel by die handelaars, wat golfdae reel vir fondse maar wat nie meer kinders versorg nie. Dae wat die handelaars kos aflewer word vriende en familie genooi om te kom skep. CMR en die department is alma skulking.

Annriette Slabber ·

Ek is n Maatskaplike werker en moet beaam dat hierdie artikel die spyker op die kop slaan. Ons NGO’s word lam gele deur swak stelsels en swak subsidies. Die kinderhuise waar kinders in plek van veiligheid gehou moet word is in haglike toestande wat net eenvoudig die proses verlam. Geen verhoging in subsidies om daardie kinderhuise n veilige plek te maak nie. So waarheen dan met ons kinders wat volgens wet beskerm moet word. Geskikte pleegouers raak n probleem want die toelae is hopeloos te min of word so laat in betaal dat pleegouers nie meer wil registreer nie. Dis hoog tyd dat die Departement van Maatskaplike dienste moet begin verantwoordelikheid aanvaar en ook antwoorde verskaf vir hulle swak dienslewering.

Leon ·

Die pleegsorg stelsel het al onder die vorige regering die kinders in die steek gelaat. Kinders word soms by geweldadige paartjies geplaas wat die pleegkinders gebruik as hulle kinders se slawe. Ek het die by baie plekke gesien en dan vir die departement aangemeld. Dan bel hulle die ouers om te sê hulle kom besoek aflê. Dan is alles wonderlik. Sodra die beamptes weg is, word die kinders geslaan en aangerand en die situsie is nie opgelos nie. Ek weet van verskeie kinders wat selfmoord gepleeg het as gevolg daarvan.

Suzie ·

Die kinderhowe is net so skuldig. Gaan probeer jy baklei vir jou kind as jy ‘n man is dan sê die kinderlandros vir jou “mamma is nou skoon” dan hoor jy hoe sy en die lover in ‘n “club” mekaar bevoel en vat voor ander mense en dat sy of dronk of op iets was want sy is baie “loud” en het geen skaamte vir haar gedrag. Wat gebeur die volgende naweek ‘mamma is skoon” kindjie moet volgens landros weer na haar toe gaan om oor te slaap vir die naweek nadat “mamma weer positief” getoets was vir dwelms die vorige naweek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.