Pleidooi aan minister: Heropen voedingskemas by skole

Charmaine Josephs, ‘n gemeenskapswerker in Kaapstad voorsien 500 kinders in Lavender Hill elke dag van ‘n warm maaltyd (en ‘n geskenkpakkie). (Foto: Tracey Adams/ANA)

Verskeie nie-regeringsorganisasies pleit in ʼn brief aan die minster van basiese onderwys, Angie Motshekga, dat voedingskemas by skole hervat word, ten spyte van die staat van algehele afsondering wat tans heers.

“Terwyl ons die derde week van algehele afsondering binnegaan en met die president wat dit nou tot einde April verleng het, is daar ʼn dringende behoefte om te verseker dat leerders deurlopend toegang het tot behoorlike voeding,” het die organisasies Equal Education, die Equal Education Law Centre, die Children’s Institute, Section27 en die Sentrum vir Kinderreg gesê.

Dié organisasies stel voor dat skole as optelpunte vir kospakkies dien en dat skoolbusse aangewend word om kos te help versprei.

Altesaam nege miljoen kinders baat gewoonlik by skole se voedingskemas.

“Vir baie van dié leerders is die maaltyd wat hulle by die skool kry dikwels die enigste een vir die dag.”

Die organisasies het ook Motshekga se reaksie op die departement se vermoë om die voedingsprogramme vol te hou as “teleurstellend” bestempel. Die minster het vroeër gesê die departement gaan niks anders as gewoonlik doen nie. “Ons gaan nie spesiale programme hê nie; ons gaan nie voedingskemas bedryf nie. Ons het na ons kapasiteit gekyk en dit is nie moontlik nie,” het sy gesê.

Die organisasies sê dié houding is nie volhoubaar nie omdat honger en wanvoeding ernstige kommer veroorsaak, veral tydens die Covid-19-pandemie.

Hulle voer aan die departement moet verseker dat kinders kos kry. “Die departement speel ʼn sentrale rol hierin en kan nie sy verantwoordelikhede onbepaald op ander departemente afskuif nie.”

Die organisasies sê hy neem kennis van programme waar kospakkies deur plaaslike en provinsiale verspreidingspunte deur agente versprei word. Die maatstaf vir die keuring van verspreidingspunte en die veiligheid en toeganklikheid van die punte is egter onduidelik.

“Ons is bekommerd dat die verspreidingspunte dalk nie toeganklik vir behoeftiges is nie, veral in landelike gebiede. Dit is ook onduidelik watter veiligheidsmaatreëls ingestel is om kinders te beskerm wat dalk op hul eie kospakkies moet gaan afhaal.

(Argieffoto: Esté Meyer Jansen)

“Die voorstel om Sassa-betaalpunte as afhaalpunte te gebruik is veral kommerwekkend, gegewe die probleme van baie mense en lang toue.

“Dit is ook onduidelik of die verspreidingsentrums – soos die nasionale voedingskemas – genoeg en behoorlike kos aan leerders kan verskaf. Terwyl versorgers hulle inkomste verloor, gaan al hoe meer kinders na alle waarskynlikheid van ʼn betroubare bron van voedselverspreiding afhanklik wees.”

Huidige ingrypings word deur die departement van maatskaplike ontwikkeling se rampverligtingsfonds en maatskaplike verligtingsfonds gefinansier teen onderskeidelik R900 miljoen en R500 miljoen. Dit is nie duidelik wat die departement van basiese onderwys tot dié projekte bydra nie.

Die departement het vroeër gesê geld vir die voedingskemas is reeds aan die provinsies uitbetaal en dat dié geld nie vir kosverspreiding gebruik kan word as skole gesluit is nie. “Die departement moet egter nog verduidelik hoe die geld, wat reeds vir skoolvoedingsprogramme toegewys is, in dié tyd gebruik gaan word,” sê die organisasies.

Hulle vra die departement om sy houding oor die opskort van voedingskemas dringend te heroorweeg.

“Om veilige en toeganklike verspreiding van kos te verseker, moet skole as optelpunte vir kospakkies of optel-en-gaan-maaltye wat spesifiek vir die begunstigdes van voedingskemas saamgestel is, dien. Onder omstandighede waar leerders en ouers op soek is na bekende en toeganklike plekke, is skole in ʼn goeie posisie om die rol te vervul.”

Die organisasies stel dus voor dat:

  • Skole as noodsaaklike fasiliteite verklaar word vir die doel om as kos-afhaalpunte te dien
  • Sosiale distansiëring by afhaalpunte gehandhaaf word
  • Dit op distriksvlak gekoördineer word sodat leerders ten alle tye toegang tot maaltye het
  • Skoolbusse wat nie nou gebruik word nie, ingespan word om te help met die verspreiding van kos
  • Waar skoolvoedingsprogramme nie moontlik is nie, die gebruik van ʼn koeponstelsel oorweeg moet word, en
  • Die departement ʼn behoorlike boodskap aan skole moet stuur oor wat in dié tyd van hulle verwag word om te verseker dat kinders kos kry.

Die Gautengse departement van onderwys het verlede maand voorgestel dat skole gebruik moet word as verspreidingspunte vir kos – ʼn stap wat die Wes-Kaapse regering nou reeds gedoen het.

Die provinsiale regering in die Wes-Kaap het verlede week aangekondig dat voedingskemas vir leerders tydens die afsonderingstydperk voortgesit gaan word. Die provinsie het skole vroeg in April al gewaarsku om voorbereidings hiervoor te doen.

Net in die Wes-Kaap baat bykans ʼn halfmiljoen kinders by sulke voedingsprogramme.

Die organisasies vra dat dit nou landwyd gedoen word.

“Minister Motshekga, hierdie is buitengewone omstandighede wat medelye en duidelike, beslissende leierskap vereis. Die voortsetting van skoolvoedingsprogramme is kritiek en dringend en ons doen ʼn beroep op jou om te verseker dat kinders se behoeftes voorrang kry en beskerm word in die regering se planne.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

Gee n man n vis en hy het n maaltyd vir een dag,leer hom om vis te vang en hy het elke dag n maaltyd.

Anel ·

Ek sê nog van die begin af meer mense gaan aan ander toestande of siektes doodgaan as aan die virus. En die grootse gaan wees hongersnood. En die skelm regering il nie die geld vir die honger mense se kos gee nie. Dit gaan sy pad na hul eie sakke vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.