Pleidooi aan Ramaphosa om in te tree ná doodsvonnis

William Endley. Foto: ANA

ʼn Persoonlike pleidooi aan pres. Cyril Ramaphosa is nou die Endley-familie se laaste hoop om die lewe van hulle pa en broer te red nadat ʼn hooggeregshof in Suid-Soedan hom die doodsvonnis opgelê het.

William Endley (57), ʼn voormalige Suid-Afrikaanse weermagkolonel, is die doodstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan sameswering en ʼn poging om die Suid-Soedannese regering omver te werp.

“Ons familie hanteer nog nie die nuus oor sy vonnis so goed nie. Dit alles voel net só surrealisties. Ons is emosioneel en finansieel uitgeput, maar het darem nog nie heeltemal moed verloor nie.

“Ek sit nou hier en skryf ʼn brief aan ons president, want ʼn land waar die doodstraf onwettig is, kan nie toelaat dat een van sy landsburgers gehang word nie. Ons kan nou net vra dat die regering op die hoogste vlak vir William sal intree,” het Charmaine Quinn, William se suster, Maandag telefonies aan Maroela Media gesê.

Endley is ook skuldig bevind aan die verskaffing van wapens, spioenasie, aanhitsing tot ʼn opstand, sabotasie, terrorisme en onwettige toegang tot Suid-Soedan.

Die Endley-familie glo steeds pres. Salva Kiir se administrasie maak van William ʼn sondebok omdat hy ʼn veiligheidsraadgewer vir dr. Riek Machar was en homself daarmee aan die verkeerde kant van die politiek in Suid-Soedan bevind het.

William is in Augustus 2016 in hegtenis geneem terwyl Juba in ʼn bloedbad van geweld ontaard het na bewerings van ʼn beplande sluipmoord op Machar aan die lig gekom het. Machar, die rebelleleier van die Sudan People’s Liberation Army (SPLA) wat die opposisie in Suid-Soedan is, was toe nog die adjunkpresident in Kiir se kabinet.

Machar se private magte en Kiir se regeringsmagte het op mekaar geskiet en Machar het landuit gevlug. Die Suid-Afrikaanse regering het gesê Machar is op uitnodiging in Suid-Afrika en kry hier mediese behandeling. Daar word vermoed dat hy hom tans iewers in Gauteng bevind.

William het eers ses maande ná sy inhegtenisneming op 13 Februarie 2017 vir die eerste keer in die hof verskyn. Gwyneth, William se dogter, het verlede jaar aan Maroela Media gesê haar pa se visum het verval en dat hy om dié rede nie die land kon verlaat nie. “Terwyl hy vir sy nuwe dokumente gewag het, het die sekuriteitswagte hom in sy hotelkamer in Juba in hegtenis geneem.”

Hy is in dié tyd sonder enige formele aanklagte in een van die land se mees berugte tronke, die Blue House, aangehou. William het min kontak met sy familie of die buitewêreld gehad en sy gesondheid het ook verswak.

endley-en-machar

William Endley, ʼn afgetrede Suid-Afrikaanse weermagkolonel, was ʼn veiligheidsraadgewer vir Riek Machar, die rebelleleier van die opposisie in Suid-Soedan. Foto: LinkedIn

Sy regsverteenwoordiging het tydens die hofsaak aangevoer William is ʼn politieke gevange wat eintlik vrygelaat behoort te word ingevolge ʼn skietstilstand-ooreenkoms wat in Desember 2017 in dié land bereik is.

“Hy was slegs daar om sake te bemiddel en om die veiligheidsmagte te intrigeer. William was beslis nie daar om te veg nie – hy wou slegs die land met hulle vredesproses help. Selfs sy regsverteenwoordigers het gesê die hele hofsaak was ʼn regsdwaling,” het Quinn gesê.

“Ons het geweet daar is ʼn 50%-kans dat my pa in Vrydag se hofsaak skuldig bevind kan word, maar dit is nou die eerste keer in die land se geskiedenis dat twee mense die doodstraf opgelê word.

“Ek wil net weet waar is die klinkklare bewyse dat my pa aan alles skuldig is waarvan hulle hom aankla,” het Gwyneth, een van William se vyf dogters, gesê.

Volgens Quinn het die familie nog geen direkte kontak met William gehad sedert hy Vrydag die doodsvonnis opgelê is nie.

Gwyneth sê die sussies het almal Sondag bymekaar gekom om mekaar ná die vonnis op hulle pa te ondersteun. Die hele familie is veral bekommerd oor William se jongste dogter, ʼn 11-jarige, wat die hele situasie met haar pa nog moeilik verwerk en in die tyd sedert sy inhegtenisneming nog net een keer met haar pa telefonies kon gesels.

“Ons sit nou met ons hande in ons hare. Sê vir my wat ek moet doen, en ek sal dit doen, want al wat ek weet, is ek wil my pa terughê – hy kan nie daar sterf nie,” het Gwyneth gesê.

william-endley-01

Een van die min amptelike foto’s wat die Endley-familie aan die begin van William gekry het. William is lank sonder enige aanklagte in die berugte Blue House-tronk van Suid-Soedan aangehou. Foto: Verskaf.

Quinn het bevestig dat William se regsverteenwoordigers 15 dae ná Vrydag se beslissing het om te appelleer en reeds besig is om aan die appèl te werk.

Intussen het Biel Bouros Biel, die uitvoerende hoof van Suid-Soedan se vereniging vir die voorspraak van menseregte (SSHURSA), die doodsvonnis van William ten sterkste veroordeel.

Hy voer aan William se doodsvonnis is polities gedrewe en ʼn bewys dat die regering nog nie gereed is vir werklike vrede nie. William se vonnis volg kort nadat James Gatdet Dak, ʼn voormalige woordvoerder van Machar, dieselfde doodsvonnis opgelê is ná hy ook vir aanhitsing en sameswering teen Kiir skuldig bevind is.

“Die SSHURSA doen ʼn beroep dat Endley onmiddellik vrygelaat word. Verder moet die streek en internasionale gemeenskap kennis neem van hierdie regering se keuses teen vrede. Daar moet streng opgetree word teen diegene wat oorlog bo vrede kies,” het hy bygevoeg.

Kol. Lam Paul Gabriel, ʼn adjunk- militêre woordvoerder vir die SPLA, het Saterdag in ʼn mediaverklaring gesê hulle neem met ontsteltenis kennis van die onregverdige vonnis wat William opgelê is. Gabriel sê ook die doodsvonnis is teenstrydig met die ooreenkoms wat op 21 Desember 2017 in Suid-Soedan onderteken is.

“William is nie ter dood veroordeel omdat hy skuldig is nie, maar omdat die regime in Juba Machar wil straf. Kiir se administrasie het soveel haat vir Machar dat hulle alles wat met hom verbind kan word, voor die voet wil uitwis,” het Gabriel in die verklaring geskryf.

Hy het ʼn beroep op alle menseregte-waghondorganisasies gedoen om Kiir se administrasie verantwoordelik te hou vir misdrywe teen die mensdom, soos in die geval van William se doodsvonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ekke ·

Al wat ek kan sê is dat gebed werk. Ek bid saam met julle vir genade en genade is onverdiend.

Leu ·

Waar was sy genade toe hy al sy planne beraam het, nee wat dat Sudan met hom maak wat hul moet volgens hul wette.

PJC ·

Mense verstaan nie altyd dat in Afrika jy aan enigiets skuldig bevind kan word al het jy geen wet oortree nie. Ek weet ook nie of dinge veel sal verander in die volgende 100 jaar nie. Selfs in SA waar ons nog ń redelike goeie regstelsel het begin daar ook al gevaarligte flikker.

Tokkie ·

Ja nee – as hy oortree het in daardie land moet hy maar gevolge dra. Dis hartseer ja maar as hy daarby betrokke geraak het – en geweet het dis nie reg nie moet hy mos gevolge dra. Die mense is gou bring dood straf terug as dit n swart persoon was wat misdaad gepleeg het in suid afrika, maar nou dat die blanke oom daai land se wet oortree het en hul nog doodstraf het – nou mag dit nie toegepas word nie…… Jammer maar dis nou maar ongelukkig so neh…..

Adolph ·

Ek stem 100% saam jou @Tokkie, die oom het wette oortree waar hy nog die dood kan kry, hy moet sy gevolge nou dra. Soos jy se, Saffas soek die doodstraf, maar nou dat hy dit kry, nou moet SSudan nie deurgaan met dit nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.