Pleidooi aan Ramaphosa oor vuurwapenwetgewing

Argieffoto. (Foto: SAPD)

Die organisasie SA Jagters het ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om hulle toe te laat om te help met die implementering van ’n enkele vuurwapenadministrasiestelsel om die probleme met lisensies wat verval het op te los én onwettige wapens uit die omloop te verwyder.

In ʼn ope brief aan Ramaphosa skryf Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, dat versuim om ʼn sinvolle oplossing vir die talle probleme met die sentrale vuurwapenregister te vind, tot grootskaalse burgerlike opstand kan lei. “Soos met die e-tol-fiasko – waar burgers bloot geweier het om te betaal – kan ons in ʼn situasie beland waar wettige vuurwapeneienaars ook op dié punt kom. Help ons om dié situasie te vermy,” het Camphor aan Ramaphosa geskryf.

Camphor het aan Maroela Media gesê Ramaphosa se kantoor het reeds ontvangs van die brief erken. Volgens hom kon hy die afgelope nege jaar nie ʼn afspraak met enige van die onderskeie ministers van polisie kry om die saak te bespreek nie en is hul hoop nou op die president om te help.

Probleme met wetgewing

Die nuwe wet op die beheer van vuurwapens is in 2006 geïmplementeer, met die vereiste dat alle vuurwapens in private besit oor ʼn tydperk van vier jaar herlisensieer moet word. Die polisie het destyds – en vandag steeds – nie die vermoë gehad om die getal aansoeke te verwerk nie.

Teen Junie 2009 moes alle sogenaamde ou lisensies opgeskort gewees het, maar dít sou nagenoeg 1 miljoen wettige vuurwapeneienaars, wat nog nie hulle lisensies hernieu het nie, oornag in misdadigers verander.

SA Jagters het reeds verskeie hofaansoeke teen die minister van polisie gebring om hom te dwing om oplossings vir die probleme te vind. “Die situasie met die stadige verwerking van lisensieaansoeke, foute wat gemaak word en ʼn algemene onvermoë om die wet behoorlik te administreer en te implementeer, duur ongebreideld voort,” skryf Camphor.

In een van die hofsake het die Vuurwapeneienaarsvereniging van Suid-Afrika (GOSA) onder meer ʼn bevel gekry dat die polisie nié ʼn wapen mag inneem net omdat die lisensie daarvoor verval het nie.

Volgens Camphor het die polisie boonop in 2015 al toegegee dat hy nie in staat is om die voorgestelde wysigings aan die wet te hanteer nie. Dié situasie geld vandag steeds.

Miljoene rand is ook onder meer aan IT-stelsels bestee sodat wapenhandelaars elektroniese toegang tot die vuurwapenregister se databasis kon kry. Dertien jaar ná die implementering van die wet, het handelaars egter steeds nie toegang daartoe nie, al is dit ʼn vereiste van die wetgewing.

Camphor skryf dat die wysigingswet op vuurwapens al in 2016 aan die parlement voorgelê moes word. ʼn Konsepweergawe daarvan het verlede jaar uitgelek en die inhoud daarvan is as “drakonies” beskryf. Dit maak onder meer voorsiening daarvoor dat selfverdediging nie aangevoer kan word as ʼn rede om ʼn vuurwapen te besit nie.

Polisie verloor wettige wapens

Argieffoto. Foto: SAPD

SA Jagter skryf voorts dat wettige wapens wat wél by die polisie ingegee word – in die polisieminister se eie woorde – as onwettige wapens eindig omdat die polisie dit nie veilig kan bewaar nie.

“Niemand van ons wil onwettige vuurwapens in die hande van rowers, moordenaars, verkragters en bendelede sien nie. Ons wil net die vermoë hê om as redelike en wetsgehoorsame burgers ons gelisensieerde wapens te gebruik om te jag en aan sportskiet deel te neem.”

Camphor skryf dat nagenoeg ʼn halfmiljoen vuurwapens se lisensies op dié stadium reeds verval het, maar dat die polisie swyg oor die amptelike syfer. Elkeen van dié wapens word as onwettig beskou.

“As die polisie hulle sin kry, moet dié wapens aan die polisie vir vernietiging oorhandig word, al dink die minister van polisie sélf nie eers dat sy polisiediens dit tot dán kan beveilig nie.”

Daar was reeds twee amnestietydperke waar wapens waarvan die lisensies verval het, aan die polisie oorhandig kon word. Volgens Camphor is nie een van dié wapens met ʼn misdryf verbind nie. Hy beweer talle van die wapens het daarna weens die polisie se gebrek aan beheer daaroor, egter op die straat beland.

Burgery ‘wil help’

Camphor sê daar is konserwatief geraam sowat 2,5 miljoen wettige vuurwapeneienaars in Suid-Afrika en dat hulle grootliks stemgeregtig is. “Dit is dus nie onredelik van só ʼn groep om te verwag dat hulle die geleentheid mag kry om hulle insette oor ernstige kwessies te lewer nie,” skryf Camphor.

“Die meeste wettige vuurwapeneienaars is redelike mense wat billike vuurwapenbeheer wil hê. Hulle wil sien dat die wet werk en dat dit hulle toelaat om hulle wapens te besit en te gebruik. Hulle betaal belasting en wil wetgewing gehoorsaam.

“Ons is bereid om groot bedrae geld en baie tyd te bestee om die stelsel te laat werk. Maar dan, meneer die president, moet jy na ons luister en met ons praat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Nols ·

Skrap die lisensies vir jag en haelgewere. Vereenvoudig die proses vir handwapen lisensies. Dan sal meer wetsgehoorsame burgers wetgehoorsaam bly.

Anoniem ·

Nols, jy eet seker nie wildsbiltong nie ne? Seker een van die wat glo biltong kom van die winkel af.

Droë Perske ·

Die berig is nie heeltemal akkuraat nie: Dit is nié SA Jagters wat ‘n hofbevel gekry het “dat die polisie nié ‘n wapen mag inneem net omdat die lisensie daarvoor verval het nie”. Die hofbevel is deur GOSA (Gun Owners of South Africa) gekry.

Fran ·

Maar die HELE doel is om die wapens uit julle hande te haal sodat dit aan moordenaars gegee kan word. Hoe blind kan ons rerig wees? Ons verskaf swelfs die wapens wat hulle gebruik om ons te vermoor. Ons klou aan die hoop dat die hof ons sal red, die hof waar die Kommies hulle maatjies gesit het. Kyk net watse tipe hofsake word gefast track en watter tipe sake kom nooi nerens nie. Julle kan hoop tot dat julle blou in die gesig is, kommies gaan niks doen vir julle nie, ons is dan die veiand in hulle oe. Wanneer julle staan en koppe krap en lag oor hulle oversights moet julle besef dat alles mooi beplan was deur hulle. Die webblad wat nie werk nie, was nooit bedoel om te werk nie broer. Dink jy rerig na soveel jare weet hulle nie dit werk nie? Die kommies sit en lag vir ons

Hendrik ·

Dat gaan maar sukkel om die mense te oortuig om hul vuurwapens terug te gee. Ek was Maandag by ons buurtwagvergadering op plase oos van Pretoria en dit is duidelik dat die polisie steun op die GPF en gekoppelde organisasie om die gebied veilig te hou. Hierdie ouens het geen idee hoe die mense vir hul paaltjies moet keer in die nag en sommer nou partykeer in die dag waar daar openlik misdaad gepleeg word.

Thinus Erasmus ·

En die SP CR gaan net so gladde en blink antwoord gee soos Rama wat in die son staan en netnou in ‘n klomp olierige drupsel verander en dan niks beteken nie.
Ag en natuurlik so op die sylyn ‘n smerige hou na die voorheen bevoordeeldes swaai, of tien.

Joe Olivier ·

Die SAPD oortree self die vuurwapen wet deur nie persone wat vuurwapens inhandig te vergoed nie. Die wet bepaal hulle moet. Daar is n vorm saps 520 wat moet ingevul word. Duidelik weet min mense ook hiervan.

Cherokee ·

‘Teen Junie 2009 moes alle sogenaamde ou lisensies opgeskort gewees het, maar dit sou nagenoeg een miljoen vuurwapeneienaars, wat nog nie hul lisensies hernieu het nie, oornag in misdadigers verander.’

Toegegee, dit kon die wetgewing van 2009 gewees het, wat met eer aan GOSA, teweeg gebring het dat (ondermeer) my lisensies nooit kan verval nie. En juis dìt Christel, wou ek ook gelees het in jou artikel. Jy het ‘n spog artikel geskryf. ‘n Artikel wat lekker lees. Maar jy raak nie aan die (gevoelige vir die regering) feit dat groen lisensies nooit verval nie. En dit is so bepaal in ‘n hooggeregshofsaak.
Indien jy nie daarvan kennis dra, hier is ‘n wenk. Ek het ‘n rewolwer en ‘n pistool, albei gewettig met ‘groen lisensies’ (by gebrek aan ‘n beter beskrywing). Ek het die regering tegemoet gekom (en myself om dinge makliker te maak na ‘n gesprek met Pieter Groenewald hieroor – Pieter, ek wonder of jy dit onthou:-) deur die lisensies te hernu volgens nuwe wetgewing, maar dit kan nooit verval nie. My GOSA-vriende sal my hiermee ondersteun en as jy nie hiervan weet nie, sal dit die moeite loon om meer inligting te bekom.

Ben ·

Dit sal vir almal beter wees om alle wapens te verbied! Niemand sal saamstem, maar ek gaan hier op MM nie in diskussie nie. Dit is net my mening hier oor.

Gustav Venter ·

Ben, gaan sê dit vir die swart plaasvrou wie se lewe ek gered het toe sy deur haar beskonke man aangeval is. Al hoe ek hom kon kry om sy brutale aanval op haar te staak, was om my pistool te gebruik. Of is die lewe van ‘n vrou minder werd as jou troetelopvattings?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.